Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Ons probeer te hard om die verlede se foute reg te stel'
Corine Raath
Corine Raath

Oor 20 jaar is ek 40. Hopelik getroud, met ’n kind of twee wat rondhol en ’n werk waarvoor ek lief is. Bowenal hoop ek dat ek hierdie dinge in my land, in Suid-Afrika, kan doen.

Ek dink nie daar is baie jong mense wat met eerlikheid kan sê dat hulle nog nie emigrasie oorweeg het nie. Hoekom? Wat in Suid-Afrika maak dat die jeug voel asof ons nie hier welkom is nie?

Ek kan jou waarborg: As daar nie vinnig veranderinge in ons land plaasvind nie, gaan dit nie by gedagtes bly nie. Wat is dit waarna mense streef? Nie om soos ’n cliché te klink nie, maar kyk na Maslow se hiërargie.

Ons begin by die fondasie: basiese behoeftes soos skoon water, elektrisiteit (uhm dankie, Eskom!), en skuiling. Jammer om die politici se borrel te bars, maar is dit hier waar ons besluit om oor swak dienslewering en werkloosheid te praat? Wat ek graag wil weet, is hoe mense in magsposte so hul meegevoel kan uitspreek oor werkloses, maar intussen verdien hulle astronomiese salarisse. G’n mens is so baie werd nie. Dis ons as jeug en nuwe beroepslui se plig om seker te maak dat ons nie dieselfde onreg pleeg nie.

Dis ons as jeug en nuwe beroepslui se plig om seker te maak dat ons nie dieselfde onreg pleeg nie.

Ek dink ons probeer dikwels te hard om die foute van die verlede reg te stel. Die nuwe generasie moet eerder fokus daarop om nie dieselfde foute in die toekoms te maak nie. As iemand die beste persoon vir ’n pos is, hetsy wit, swart of bruin, stel daardie persoon aan. Nie die een wat gaan goed lyk vir jou maatskappy of sportspan se foto nie.

Maslow se volgende vlak is veiligheid. Plaasmoorde. Check. Verkragtings. Check. Bendegeweld, inbrake, motorkapings. Check, check en check. Het ek iets vergeet? O, ja! Veiligheid? Uhm, veiligheid? O, skuus, dit bestaan mos nie in Suid-Afrika nie.

LEES MEER: 'SA se fondament is wankelrig'

Ek dink ’n groot faktor in ons land is die afwesigheid van vaderfigure. As jong mense is die grootste geskenk wat ons aan die land kan gee om daar te wees wanneer ons kinders kry. Nie net sal dit lei tot beter opgevoede kinders nie, maar hulle sal gelukkiger wees, minder aggressief en ek dink bendegeweld en tienerswangerskappe sal aansienlik afneem.

SA se verlede nie deel van ons toekoms

Nog een van Maslow se vlakke is die gevoel dat jy behoort. Ek mag dit nie hardop sê nie, maar rassisme behoort nog lank nie tot Suid-Afrika se verlede nie. Wat ons wel kan doen, is verseker dat dit nie deel is van ons toekoms nie. Die dag wanneer buitelanders se eerste reaksie op Suid-Afrika nie is “O, die land van apartheid,” nie, sal ons weet ons het geslaag. Ons as jeug is gelukkig. Ons het nog die kans om gelykheid na te streef. Dink net wat ons in 20 jaar kan vermag as ons besluit om nie die voetspore van ons voorouers te volg nie. Wil jy nie ook kan sê dat jy werklik glo in ’n reënboognasie nie?

LEES OOK: Word wakker! Ons aarde is besig om dood te gaan

Wat my verstand te bowe gaan, is dat die jeug steeds verantwoordelik gehou word vir hul voorouers se aksies. Dis net so goed iemand mag nooit trou nie, want hul oupagrootjie het sy vrou verneuk. Tog is dit wat gebeur. Afrikaanse mense voel toenemend dat hulle en hul taal nie hier hoort nie, omdat die taal met die onderdrukker geassosieer word. Die jeug kan dit verander.

Wil jy nie ook kan sê dat jy werklik glo in ’n reënboognasie nie?

Maslow se boonste vlak is selfverwesenliking. Om ’n individu te mag wees; eenheid in verskeidenheid is tog ons land se leuse? Met sosiale media aan ons kant en met die regte gebruik daarvan, kan ons die grense oorskry en waardering begin kweek vir álle Suid-Afrikaners: bruin, swart, wit, pienk, geel. En dit sal uiteindelik lei tot wat Maslow as die toppunt beskou: ’n gevoel van ’n doel, ’n innerlike potensiaal.

Daardie potensiaal is reeds in elke liewe een van ons. As ons saamwerk, kan ons Suid-Afrika omskep in die land wat dit kan wees, in die land wat dit móés wees. Dis moeilik en baie, báie pynlik, maar oor 20 jaar gaan ons ook kan sê dit was die moeite werd.

  • Corine Raath (19) studeer BA Wiskunde en Geesteswetenskap aan die Noordwes-Universiteit. Sy kom oorspronklik van Bellville in die Kaap.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Hierdie meningstuk is deel van Die Student se rubriek-kompetisie waar ons vir studente gevra het om te skryf oor die Suid-Afrika wat hulle oor 20 jaar wil sien en hoe die jeug kan help om by dié droom uit te kom. Die kompetisie is in samewerking met die Universiteit Stellenbosch aangebied ter viering van Jeugdag.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg Die Student op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Diestudentjeugdag  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.