Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Ons sal mekaar eendag weer sien'
Arné Kruger
Arné Kruger

’n Paar weke gelede is dié vraag na my kant toe gegooi:

“So hoe voel jy tydens die lockdown?”

Waarop ek geantwoord het: “Dit voel asof die plek wat eintlik ontvlugting moet bied, in ’n tronk verander is. Dit voel asof ek net die buitekant van die wêreld deur die tralies kan sien. Dit voel asof ek dinge moet kry om te doen om my aandag af te trek, want anders sal ek kop verloor.”

Kom ek sê so . . . Lockdown hanteer my goed en ek hanteer lockdown met die nodige respek vir sy regulasies, maar dis nou tyd vir lockdown om sy levels te voltooi.

Ek sit op die oomblik in my kamer in die enigste sonkolletjie en dink: Dis gevaarlik, maar dis wat gebeur. Ek besef hoe baie my lewe sal en gaan verander ná hierdie hele storie en dit maak my bang, maar tog weet ek daar is ’n manier daaruit en ’n manier om te oorleef. Ek dink aan my gesondheid, aan my ma, aan my familie en vriende.

Die medikasie wat ek hiervoor gebruik, kan veroorsaak dat Covid-19 ’n saak van lewe en dood vir my word en dit maak my depressief.

Ek is al amper drie maande in isolasie omdat ek rumatoïede artritis het. Die medikasie wat ek hiervoor gebruik, kan veroorsaak dat Covid-19 ’n saak van lewe en dood vir my word en dit maak my depressief.

Om alles te vererger – en die kersie op die koek is – is dat ek ’n ekstrovert is. Ek is ’n mense-mens en ek hou daarvan om die wêreld te verken. Lockdown is nie goed vir my gemoed nie, maar dis noodsaaklik vir my oorlewing.

Moeg vir tegnologie

Ek dink aan al my hartsmense wat wyd oor die land versprei is. Twee van my beste vriendinne sit in die Wes-Kaap en ek in Centurion. Ja, ons het aanlyn kuiers, maar dis nie dieselfde nie. Ek wil saam met hulle in my koshuiskamer sit met ’n koppie sterk boeretroos en lag oor die simpel dinge wat ek aanjaag. Ek wil hulle lag hoor, wat direk op my oordrom val, nie deur enige tegnologiese toestelle nie.

Ek dink aan my koshuis-pêlle wat van Pretoria, deur KwaZulu-Natal tot in Stellenbosch strek. Ons bly ook in kontak deur aanlyn te kuier, maar die tradisies wat begin ontwikkel het, is besig om stadig deur ons vingers te glip.

Ek wil hulle lag hoor, wat direk op my oordrom val, nie deur enige tegnologiese toestelle nie.

Op Donderdagaande ná vergaderings sal nege van ons in een kar klim en McDonald’s toe ry – daar’s ’n spesifieke roete wat ons neem (om spesifieke redes, natuurlik!). Daar word vir vreemdelinge op die pad “hallo” gesê en uit volle bors word “Nonna” gesing vir Helderberg, of Dagbreek, of wie ook al die aand ons teiken is.

Ek mis ons laataand-kombuistafel-kuiers en die missions Enroute toe net vir sjokolade, want die dag was ’n bietjie rof of die stres van eksamens net te erg.

Ek wil my mooimaak, ’n Uber laat kom en gaan kuier in die Square. Ek wil langs die dam gaan lê en ’n tan vang. Ek wil op ons koshuisstoep sit, na die sterre kyk en koshuiskoffie drink. Ek wil my pêlle sien. Ek het ’n ernstige tekort aan vitamien p(êlle).

LEES OOK:  'Ek is nou moeg vir virtuele drukkies'

Ek is gelukkig om tydens die lockdown saam met my ouers te wees. Ek waardeer dit opreg, want soveel studente kon nie teruggaan huis toe nie. Maar dis vreemd as jy al langer as drie jaar uit die huis is en ewe skielik vir so lank moet terugkom en daar moet bly.

Ek is mal oor my tuisdorp en my huis, my mense en my diere, maar Stellenbosch roep my. “Take me back to the paradise city.”

Bly julle maar kalm

Die raad aan iemand wat in dieselfde bootjie as ek is, is die volgende Bybelvers. Eksodus 14:14: “Bly julle maar kalm. Die Here sal vir julle veg.” Al wat ons kan doen, is bid vir ons land, vir die gesondheid van geliefdes en bid vir jouself.

Vir nou sê ek tot siens, tot wedersiens. Ek sal my afstand hou as jy belowe om gesond te word. Dan sien ek jou gou, ou vriend. Ons gebruik maar ons data om in kontak te bly.

Eendag sal ons mekaar weer sien, op ’n beter tyd en ’n beter plek.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.