Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Ons vloek, deal daarmee'
Janke van Schalkwyk.
Janke van Schalkwyk.

“Gebrandmerk met ’n vervaldatum, net om die geraas in te asem” – eF-eL

Was dit die lot van die 2000’s se Afrikaanse alternatiewe kultuur?

In gr. 2 het ek my boetie se onwettig gekopieerde Fokofpolisiekar-CD gevat en kliphard oor en oor geluister wanneer my gesin weg was: pa by die werk, ma in Pick n Pay en boetie by krieketoefening of iets.

In gr. 5 het ek en van my skoolmaatjies skelm Bakgat! gekyk toe ons ’n sleepover gehad het. Haar ma is een van daai liberale ouers wat glo kinders moet van jonk af die waarheid leer; die soort ma wat praat van ’n penis en vagina en nooit haar arme bloedjies die eufemismes daarvoor geleer het nie.

Toe ons gesin in gr. 6 vir die eerste keer DStv gekry het, het ek die fase van die Disney Channel, Cartoon Network en Nickelodeon gemis en saam met my ouer boetie dag in en dag uit MK gekyk. Teen die einde van my gr. 7-jaar kon ek elke liedjie wat MK van Fokofpolisiekar, Jack Parow, Die Antwoord, eF-eL, of wie ook al hulle gespeel het uit volle bors saam sing en rap (dis nou in my studentelewe nogal ’n handige party trick).

Nou wat nou?

Nou is dit nege jaar later. Bakgat! is 11 jaar oud, Fokofpolisiekar het nou die mense geword wat in suburban huise bly, die einste leefstyl waarteen hulle gesing het op hul eerste albums en MK bestaan al byna ses jaar nie meer nie.

Nou wat nou?

@NadiaSamuel het onlangs op Twitter gesê: “Ek het steeds hoop vir Afrikaanse musiek. Ek het steeds hoop vir die Afrikaanse rolprentbedryf. Ek het steeds hoop dat almal gaan saamstaan teen rassisme, homofobie en seksuele mishandeling. Ek het steeds hoop in ons land. As jy nie het nie, f*k jou.”

Die Afrikaanse vermaaklikheid bedryf moet minder die Hollywood en Amerikaanse media namaak.

Met daardie laaste sin moet ek saamstem, maar hoe kan ons, soos Jo Black sing, die hoop weer terugbring?

Ek glo vir jong mense in Afrikaans, hoërskoolleerlinge en studente, moet daar weer materiaal geskep word waarmee ons kan vereenselwig en wat ons gaan laat dink: “Hei, ek verstaan waaroor hierdie ou sing” of in ’n fliek: “Haai, ek het ook al so gevoel.”

Ons vloek, deal daarmee

Die Afrikaanse vermaaklikheid bedryf moet minder die Hollywood en Amerikaanse media namaak – Nicholas Sparks-soort rolprente werk dalk vir die ouer garde, maar ons as studente kan nie relate met jou man wat jou by die altaar los en dan vind jy die liefde van jou lewe op jou vakansie in Bali nie – die meeste van ons kan skaars ’n dag Kaap toe bekostig.

Ja, ons as studente (wel, sekere studente) dans graag op die tafels met ons hande in die lug, maar ons is baie ver van die res van die Afrikaanse musiek wat gaan oor werk, trou en kinders kry (“en moontlik dan aan depressie ly” – ek mis regtig 2005 se Fokofpolisiekar).

So hier vra ék nou hoekom?

Hoekom skep ons as jong mense nie self die materiaal nie? Want ons het nie meer die platforms wat bestaan het tien jaar terug nie.

Maar ek hoop en vra mooi (rêrig mooi) dat daar iewers weer iets in Afrikaans sal opduik wat dieselfde indruk sal maak as wat Fokofpolisiekar, Bakgat! en MK gemaak het op hul tyd.

MK se Rockspaaider bestaan nie meer vir jong bands om die geleentheid of die blootstelling te kry om ’n naam te maak nie en die Afrikaanse rolprentbedryf fokus tans op Donnalee en Ivan se werk (kyk, ek het ook van daai movies gehou net soos enige ander tienermeisie wat hopeloos verlief en verlore is) of ’n onrealistiese prent waar die hoërskoolkinders woorde soos “gits” gebruik – oom en tannie, skoolkinders en studente vloek, deal daarmee.

Gee ons iets wat indruk maak

So, sien dié stuk as ’n pleidooi of net ’n gebrabbel van ’n student wat al weer oor iets kla. Maar ek hoop en vra mooi (rêrig mooi) dat daar iewers weer iets in Afrikaans sal opduik wat dieselfde indruk sal maak as wat Fokofpolisiekar, Bakgat! en MK gemaak het op hul tyd. As iemand dié stuk lees wat iets aan die situasie kan doen, doen dit asseblief.

Die hoërskoolkinders en studente wat hier lees, hou gerus aan om te skryf en musiek te maak. Ons (spesifiek ek) het dit nodig.

  • Janke van Schalkwyk (21) is tans besig met 'n honneurs in Afrikaans Nederlands aan die Universiteit Stellenbosch. Sy kom van Parys in die Vrystaat.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.