Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Oor 20 jaar wil ek kan glimlag oor ons SA
Simoné Heenop
Simoné Heenop

Dit is ’n bibberend koue aand in Johannesburg. Middel winter. Ek sit in my informele woning, beter bekend as ’n shack, in ’n plakkerskamp aan die buitewyke van die stad.

My enigste kos vir die dag was ’n stukkie ou brood en gaar kool wat lankal nie meer eetbaar was nie. Ek het geen kwalifikasie nie en het ook nie skool klaargemaak nie.

Die enigste vorm van inkomste wat ek kry, is die onvoldoende regeringstoelae vir my dogtertjie, wat ek op 15 gehad het. Sy was die gevolg van ’n verkragting.

Ek hoes my longe uit. Ja, ek het MIV/vigs en tuberkulose het my dus beetgekry. Die virus is na my dogtertjie oorgedra en weens ons swak maatskaplik-ekonomiese stand kan ek nie ordentlike gesondheidsorg bekostig nie. Die plaaslike kliniek kan nie die nodige sorg bied nie en partymaal is die deure gesluit weens nóg ’n staking vir beter salarisse. En dit ná twee uur se stap. Ek is moedeloos. Ek is moeg.

Niemand wil iets doen nie

Kan jy jou vereenselwig met ’n soortgelyke situasie? Ken jy iemand wat onder sulke omstandighede van dag tot dag veg om oorlewing? Is dit reg dat ons doodeenvoudig die haglike omstandighede aanvaar wat ons geliefde Suid-Afrika en sy mense versmoor? Ek is nie tevrede daarmee om net terug te staan en te kyk hoe Suid-Afrika, my geboorteland, ondergaan nie.

Dit breek my hart dat mense só min respek vir mekaar het dat hulle voel daar is niks daarmee verkeerd om iemand in die kop te skiet vir ’n selfoon nie.

Dit breek my hart dat mense só min respek vir mekaar het dat hulle voel daar is niks daarmee verkeerd om iemand in die kop te skiet vir ’n selfoon nie. Watter vrou verdien om verkrag te word en vir ewig die afgryslike herinneringe saam te dra? Watter kind verdien dit om uit ’n haatlike situasie gewek te word en vir die res van sy of haar lewe ongewens te voel?

Duisende mense sit sonder werk. Baie is ongeletterd en gedompel in arm omstandighede, waar daar nie eens in hul basiese behoeftes voorsien word nie. Staatshospitale word gevrees, want daar heers onsekerheid oor die kans op oorlewing of die moontlikheid om in ’n erger toestand uit te kom as toe jy opgeneem is.

LEES MEER: Kom ons bid saam vir ons land

Individue is haatdraend teenoor mekaar en verskille in geloof, ras en taal veroorsaak konflik. Boere en hul families en plaaswerkers word om geen rede op die grusaamste wyses uitgemoor. Infrastruktuur is besig om ten gronde te gaan. En so kan die lys aangaan. Almal is negatief en het iets te sê. Niemand wil iets doen nie. Dit moet verander.

Moraliteit moet ’n prioriteit wees

Oor 20 jaar wil ek Suid-Afrika aanskou en van oor tot oor glimlag.

Mense moet in die strate rondloop met geruste harte, sonder om oor hul skouers te kyk. Kinders moet gedurende die dag in ’n klaskamer sit waar ’n gekwalifiseerde onderwyser hulle help om die leertjie van geletterdheid te klim.

Oor 20 jaar wil ek Suid-Afrika aanskou en van oor tot oor glimlag.

Meer werksgeleenthede in ’n ekonomies gesonde Suid-Afrika sal minder armoede tot gevolg hê. Suid-Afrikaanse landsburgers moet gemoedsrus hê om hul gesondheid in die hande van bekwame hospitale te plaas. MIV/vigs, korrupsie, verkragtings, moord, diefstal en nog vele ander vernietigende faktore moet heeltemal uitgewis word.

LEES OOK: Gaan SA oor 20 jaar nog staan?

Moraliteit moet weer heel bo ten opsigte van prioriteite geplaas word en dan sal die res volg. Oud en jonk moet van vandag af saamwerk en saamstaan om Suid-Afrika te herbou tot ’n land waarna daar oor 20 jaar met blye goedkeuring gekyk kan word.

Na my mening is die jeug van vandag die toekoms van ons land. In Suid-Afrika kan die jeug dus help met die bou van ’n beter Suid-Afrika deur diverse interaksie en aktiewe belangstelling in die gebeure in ons land. Respek en begrip vir die verskille tussen Suid-Afrikaanse landsburgers moet van jongs af aan die orde van die dag wees. Ubuntu moet deur die jeug aangemoedig word. Dit beteken: goedheid, vrygewigheid, die stel van ander bo jouself en die opbou van ander. Die skepping van hoop en lewe moet seëvier.

Die jeug moet oorgaan tot aksie en nie net terugstaan terwyl ander pogings aanwend nie.

Die jeug moet oorgaan tot aksie en nie net terugstaan terwyl ander pogings aanwend nie. As jy ’n Suid-Afrika wil skep wat vir jou voordeel inhou, moet jyself programme begin en daaraan deelneem sodat ’n positiewe generasie vir die toekoms gebou kan word.

Dit is die jaar 2039. Ek loop in die hoofstraat van Johannesburg. My selfoon glip uit my hande uit en val op die grond. ’n Jong tienerseun loop nader, tel die foon op en gee dit met ’n vriendelike glimlag terug aan my. Hy het ’n T-hemp aan waarop staan “Be Kind Campaign” en voordat hy omdraai en wegstap, wens hy my ’n voorspoedige dag in Xhosa toe: “Kufuneka ube nosuku oluyimpumelelo.”

Dit is die toekoms wat ek vir Suid-Afrika wil hê, die toekoms wat die jeug kan help bou.

  • Simoné Heenop (21) studeer onderwys (grondslagfase) aan die Noordwes Universiteit (Potchefstroom). Sy kom van Durban. 
  • Hierdie meningstuk is deel van Die Student se rubriek-kompetisie waar ons vir studente gevra het om te skryf oor die Suid-Afrika wat hulle oor 20 jaar wil sien en hoe die jeug kan help om by dié droom uit te kom. Die kompetisie is in samewerking met die Universiteit Stellenbosch aangebied ter viering van Jeugdag.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg ons op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Diestudentjeugdag  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.