Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Ouers moet by seksvoorligting betrek word
Chante Kelder
Chante Kelder

Die voorgestelde veranderinge aan die leerplan vir lewensoriëntering ten opsigte van seksopvoeding het elke ouer en onderwyser aan die praat.

Die herrie rondom die voorgestelde veranderinge is nie ongegrond nie, van die voorstelle wat gemaak word, is om van naar te word veral as jy dink dat dit aan kinders so jonk as tien jaar voorgelê gaan word. Seksopvoeding in skole kort lankal ’n nuwe baadjie, die sakke is al deurgeskeur en lyk soos iets wat uit Oliver Twist se tas kom. Die hele seksopvoedingstelsel moet hersien word.

Ek onthou nog goed hoe ons seuns en meisies in gr. 6 op ’n dag van mekaar geskei is en in aparte sessies deur sprekers oor die dinge van die lewe geleer is.

Daar is papiere aan mekaar vasgeplak en losgetrek om te illustreer dat ’n stukkie van elke persoon saam met wie jy slaap by jou agterbly en dat babas ’n groot verantwoordelikheid is.

LEES OOK: Kom laat ons praat oor seks

In gr. 8 het hulle hierdie oefening herhaal, maar dié keer was die inligting meer eksplisiet, want hoërskoolkinders is mos maar bekend vir hormone wat pla.

Ons ouers moes toestemming gee dat ons hierdie sessies mag bywoon en omdat ek in ’n huis grootgeword het waar ons aangemoedig is om vrae te vra en opinies te hê onthou ek die eerste keer toe my ouers “die gesprek” met my gehad het.

Dit was in dieselfde week as wat die toestemmingsbrief uitgestuur is, ek dink my ouers het gereken dat hulle my nie net onvoorbereid in die leeukuil kon instuur nie.

Die gesprek het so begin: “So, vertel my eers wat weet jy klaar?” Van daar af is daar ’n bietjie gebou op my 12-jarige seksopvoedingkennis, soos wat by die skool gesê word, wat Liza se suster wat in die hoërskool of op universiteit is gesê het en wat ’n mens maar in boeke lees en op TV sien.

Betrek die ouers

Met die uitbreek van die storm die afgelope paar weke het ek met ’n vriendin gesels wat self ’n seun in die laerskool het om te hoor wat sy dink. Ons het lekker gesels oor ons eie ervarings van seksopvoeding op skool, die tipe huise waarin ons grootgeword het en wat ons graag eendag sal wil hê vir ons kinders.

In gr. 8 het hulle hierdie oefening herhaal, maar dié keer was die inligting meer eksplisiet, want hoërskoolkinders is mos maar bekend vir hormone wat pla.

Hier is die voorstel waarmee ons vorendag gekom het: Die skole moet die ouers betrek. Een van die groot probleme in ons huise is dat ouers nie met hul kinders ’n gesprek begin oor ongemaklike onderwerpe nie en wanneer hulle dan begin met seksopvoeding is party ouers net te dankbaar dat hulle nie daaroor hoef te praat nie.

Die gesprekke moet plaasvind tussen ouer en kind. Die skool kan ’n voorligtingsaand hou waar hulle ’n spreker kry wat met die ouers en die kinders praat. Op hierdie manier weet die ouers wat gesê word en dit maak die kanaal oop vir ’n gesprek om plaas te vind ná die tyd, of om kinders op hul gemak te stel om vrae te vra.

Die gesprekke moet plaasvind tussen ouer en kind.

My punt is, as kinders nie ’n oop kanaal het om met volwassenes te praat oor dinge waaroor hulle onseker is nie, gaan hulle met maats by die skool praat oor wat hulle dink dit is of wat ouer broers en susters sê, en dit wil ’n mens nog minder hê.

Tydens hierdie aand moet ’n maatskaplike werker teenwoordig wees sodat daar gepraat kan word oor seksuele mishandeling en molestering. Kinders moet weet wat die gevaartekens is en hulle moet weet dat hulle nie moet stilbly as so iets met hulle gebeur nie.

Kinders moet weet

Ons lewe in ’n gebroke wêreld, jy weet nie wat in ander mense se huise aangaan nie. My vriendin noem in ons gesprek dat daar meer as 1 000 kinders saam met haar seun op skool is en ons sal nie weet hoeveel van daardie kinders al deur so ’n hel is nie.

Kinders moet leer dat hul liggaam hul eie is en dat hulle hulself moet oppas. Jy mag nee sê, selfs vir ’n volwassene.

Kinders moet leer dat hul liggaam hul eie is en dat hulle hulself moet oppas. Jy mag nee sê, selfs vir ’n volwassene.

Kinders is nuuskierig en as ons nie die regte kanale vir hulle daarstel om vrae te vra en ingeligte antwoorde te kry nie, gaan hulle dit op ander plekke soek. Ons leef in ’n inligtingsera en enigiets wat jy wil weet, is letterlik net die druk van ’n paar knoppies weg. Is dit regtig hoe jy wil hê jou kind moet antwoorde kry?

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod


Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.