Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Ouma wys jy’s nooit te oud vir nuwe avonture

Carla Vermaas en haar ouma.
Carla Vermaas en haar ouma.

Ons almal het dikwels in die inperking gehoor dat bejaardes swaarkry omdat ’n hoë ouderdom een van die groot risikofaktore is en hulle noodgedwonge van hul geliefdes geïsoleer moes word.

My ouma woon in ’n aftreeoord in Nigel, en hoewel sy normaalweg as ’n sosiale vlinder beskryf kan word en haar sosiale program besiger as myne is, het die nasionale ramptoestand en streng inperkingsmaatreëls ’n einde daaraan gemaak.

Sy het op 21 Maart verjaar en ’n gesonde en pragtige 78 jaar oud geword. Omdat ek tandheelkunde studeer en in ’n hospitaal werk, het ons besluit dit sal veiliger wees vir haar as ek haar nie besoek nie.

Daar was so baie wat ons nog nie van die virus geweet het nie.

Min het ons geweet dat ons mekaar vir die volgende ses maande nie sou sien nie. Dit sou die heel langste tyd in my 22 jaar wees dat ek haar nie sien nie.

Oumie, soos ek haar noem, is sekerlik een van my gunstelingmense op die planeet. Ek staar in verwondering op na haar liefde, opregte belangstelling, omgee-hart en geloof.

Ek dink regtig soms sy is een van die min mense wat sondevry is. Ek het nog nooit iemand teëgekom wat elke aand opreg vir so baie mense in haar lewe bid nie.

Een van my kosbaarste kuier-herinneringe is wanneer ek en sy saans langs die bed sou kniel en bid vir almal vir wie ons lief is.

Kolwyntjies agter die masker

Toe die eensaamheid te erg word, het sy en haar vriendinne met maskers aan begin kuier – sy in haar sitkamer en die vriendin buite op die stoep. Later is die kuiertjies na die buitelug verskuif, steeds met maskers aan en genoeg fisieke afstand tussen hulle.

Die kosbare foto’s van maskers wat effens gelig word om red velvet-kolwyntjies te eet, helder nou nog my dae op.

Sy het gereeld huis skoongemaak, en hoewel dit baie uitputtend was, het sy by ’n weeklikse roetine gehou om haar kop en hande besig te hou. Haar haartjies is in ’n stadium deur ’n vriendin in die motorhuis gesny want “sy het groot geskrik vir die lang grys hare”.

Sy het boontjiesop (my gunsteling) gemaak en gevries vir ons volgende kuier en deur foto-albums geblaai wanneer die verlange te erg raak.

Met my eerste meningstuk aan Die Student gedurende die inperking het sy my aanlyn ondersteun en my aangemoedig.

Haar hulp deur met haar taalonderwyseres-oë my skryfwerk vir foute te proeflees was van onskatbare waarde. Soos van haar vriende siek geword het, was sy ’n rots van bemoediging, positiwiteit, gebed en omgee.

Ses maande lank het ons mekaar minstens twee keer per week gebel en tussendeur WhatsApp-boodskappies gestuur. Ses maande lank het ons verlang. En ses maande lank het ek net weer besef watter sterk vrou my Oumie is.

Elke Sondag het sy aanlyn kerkdienste bygewoon. Haar dankbaarheid daaroor dat sy meer aktiwiteite aanlyn kan bywoon, al hoef sy nie saans meer kerk toe te bestuur nie, was aangrypend.

Saam het ons bespiegel oor politiek, doemprofete en wat die toekoms inhou. Ons het gesels oor ons laaste kuiertjie op 6 Maart vanjaar en gedroom oor ons volgende kuiers. Ons het gefilosofeer oor die betekenis van die lewe en hoe die cliché dat “alles kan binne ’n oogwink verander”, werklik waar is.

Oumie leer tegnologie oor die foon

Sy het haar eerste aanlyn musiekkonsert bygewoon. Sy was omtrent in vervoering oor die blink plan wat musikante help en so netjies beplan en uitgevoer het.

Ek moes wel, 200 km van haar af, die tegnologie van hierdie nuwe wonder telefonies verduidelik en hanteer, maar sy was ’n puik student en het met gemak ingeskakel en die konsert geniet.

Ná maande van grappies aanstuur, sonsondergang-foto’s deel, saambid en verlang, kon ons mekaar uiteindelik op 13 September sien.

Ek moet bieg, ek het die reëls so ’n bietjie gebuig en my liefste, mooiste Oumie baie styf vasgehou. Ons het, soos altyd, heerlik geëet, gekuier en heeltemal te min foto’s geneem. Sy het my later vertel watter ongelooflike positiewe verskil ons kuiertjie aan haar gemoedstoestand gedoen het. Om haar geliefdes te sien, was vir haar van onskatbare waarde.

Die pandemie het ons gewys dat môre werklik nie vir ons gewaarborg is nie, dat dinge binne ’n oogwink dramaties en drasties kan verander. Ek koester nou elke boodskap, oproep en geselsie met Oumie. Ek kan nie wag vir die volgende oorslaapkuier, langbeengeselsies en rugkielies tot in die vroeë oggendure nie.

Vir my het my Oumie my die afgelope jaar so baie geleer: ’n Mens is nooit te oud vir verandering en nuwe avonture nie, die belangrikheid daarvan is om dankbaar te bly vir elke seëning, dat kosbare herinneringe gekoester moet word en dat ons die mense vir wie ons lief is, moet ondersteun.

Die teksvers het vir my nuwe betekenis gekry: “Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God.” (Fil. 4:6).

Na my mening; alles eienskappe van ’n manjifieke lockdown-legende, waardig van erkenning!

  • Carla Vermaas studeer tandheelkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand.
  • Hierdie meningstuk is 'n inskrywing vir 'n kompetisie waar Die Student vir studente gevra het om 'n meningstuk oor 'n lockdown-legende te skryf. Die wenner stap weg met R5000.Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier. 
  • Volg ons op Instagram en Facebook!

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

    Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.