Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Pasop dat sosiale media die liefde laat taan
Anke van der Merwe
Anke van der Merwe

Kompleks, opwindend, onbekend en lekker is maar net ’n paar adjektiewe om die hedendaagse liefde mee te beskryf. Dit is egter nie net ’n verskynsel wat in 2020 sy kop uitgesteek het nie.

So, wat is dan so anders in 2020 as, kom ons sê, 20 jaar gelede?

Tegnologie, my ou maat.

Positiewe aspekte van tegnologie

Tegnologie het ’n nuwe dimensie aan liefde gegee. Positiewe aspekte sluit in dat ons maklik met mekaar kan kommunikeer as ons die nodige gereedskap tot ons beskikking het.

Die dae van ’n tiekieboks is verby. Daar is baie maniere om te weet waar jou geliefde is en waarmee hulle die tyd omkry as jy nie naby is nie.

Negatiewe aspekte van tegonologie

Negatiewe aspekte is egter dat ons te gewoond raak aan hierdie luuksheid en dat ons irrasioneel of obsessief kan begin optree.

Daar moet ’n goeie balans gevind word om nie oor die lyne te trap nie.

Om elke beweging van jou geliefde dop te hou, kan ’n gevaarlike dwelm raak, en moontlik romantiese verhoudings beëindig.

Daar moet ’n goeie balans gevind word om nie oor die lyne te trap nie. Mense moenie voel dat hulle die heeltyd dopgehou word nie.

Hou sekere goed vir jouself

Sosiale media is die eintlike kruks van die saak. Ons gebruik die verskillende platforms om ons liefde aan mekaar en die wêreld te wys. Facebook official het stadigaan ontwikkel tot Instagram official. Dit is wanneer julle amptelik vir almal op die sosiale netwerke laat weet dat julle nou in ’n verhouding is.

Toe my kêrel my destyds uitgevra het en ek die nuus “gebreek” het op Instagram, het iemand in sy koshuis dadelik ’n skermgreep van die plasing geneem en op WhatsApp versprei. “En so val die helde” was sy onderskrif. Vreeslik kreatief . . .

Die nuus was toe vinnig bekend aan ons ou wêreldjie. En dit alles net met die plasing van ’n foto en ’n onderskrif.

LEES OOK: Die gejaag na likes maak ons depressief

Wat hedendaagse paartjies ook doen, is om sosialemediaplatforms te gebruik om hul liefde aan mekaar te toon. Oulike foto’s met oulike onderskrifte is ’n klassieke move. Verjaardae en spesiale dae soos herdenkings en Valentynsdag word openlik op dié netwerke gevier.

Ek hou daarvan om vir my kêrel op sosiale media te wys hoe lief ek vir hom is, terwyl hy nie eintlik so ’n Instagram-aanhanger is nie. Inteendeel, hy het nie eens die app gehad voordat ons begin uitgaan het nie.

Sy profiel is so te sê dolleeg en ek het nie ’n probleem daarmee nie. Solank ek vir hom memes en snaakse video’s van honde kan stuur, is ek tevrede. En hom natuurlik tag in al my oulike plasings.

Dit is vir my soos kunswerke, terwyl ander mense (en veral die manlike geslag) dit as oppervlakkig of kinderagtig beskou. Ek geniet dit om skerp of oulike onderskrifte uit te dink, die perfekte foto en perfekte emoji te kies. Ons werk nog aan sy “comment op die foto”-vaardighede.

Ek raak self geïrriteerd met party paartjies op my sosiale media.

Met dit in gedagte, moet die ander kant ook getakel word. Ons almal is nie konstant in ’n gelukkige verhouding nie, so om dan al die oulike plasings van paartjies te moet aanskou sal ’n mens mal maak.

Jaloesie of verwyt kan hul verskyning maak. Ek probeer dus om nie die heeldag my gelukkige oomblikke met my ander helfte konstant in almal se gesigte te vryf nie. Daar moet perke wees. Ek raak self geïrriteerd met party paartjies op my sosiale media. Gelukkig het Instagram die mute-funksie bygevoeg. Dit is ’n lewensredder.

Ons moet sekere goed vir onsself hou. Soos die kunstenaar William Kentridge gesê het: “Keep those 16 thoughts private.”

Geniet dit net!

Ons verwagtinge in 2020 lyk ook anders met betrekking tot die liefde. Sosiale media skep sy eie stel verwagtinge en ons verwag van ons ander helfte om soos daardie mense op te tree. Destyds was die verwagtinge meer gegrond op flieks en boeke, maar deesdae weet ons dit is nie die regte lewe nie. Sosiale media is mos die regte lewe, of hoe?

Verwagtinge is iets waarmee ek partykeer sukkel. Daar is ’n prentjie in my kop wat oor die jare geteken is. My ouers het ontmoet in gr. 9, begin uitgaan in gr. 10 en is nou op pad na amper 30 jaar se getroude lewe.

Sosiale media skep sy eie stel verwagtinge en ons verwag van ons ander helfte om soos daardie mense op te tree.

Dit is ’n ideale liefdesverhaal, en ’n goeie voorbeeld waarna ek nog altyd gestrewe het. Maar dit is nie my storie nie. En ek het nie ’n probleem daarmee nie. 2020 het sy eie uitdagings en ons elkeen kan dit maar net hanteer soos dit kom.

My raad sal wees dat as jy in ’n verhouding is, om dit en mekaar net te geniet. Ek probeer dit nogal en dit werk. Dit verwyder die druk en laat ’n mens besef hoekom jy so lief is vir daardie ander weird persoon. Wees jouself en skakel die wêreld om julle af.

Dis julle twee in die verhouding, nie ook die 800 volgelinge op Instagram nie.

Meer oor:  Liefdediestudent  |  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.