Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Pasop vir 'n man wat 'n graad én 'n vrou soek...
Mart-Marié Serfontein. Foto: Nardus Engelbrecht
Mart-Marié Serfontein. Foto: Nardus Engelbrecht

’n Man wat sy oog op ’n graad het wat hy wil vang, is ’n gevaarlike ding, luister jy nou vir my. Want daar’s een ding wat hy saam met daardie graad wil vang, en dit is ’n vrou.

Voor ek begin, net ’n nota: #notallmen, voor julle almal weer hier onder op julle perdjies spring.

Ek het nou al genoeg kere van ouens gehoor wat vars uit universiteit stap, ’n deftige papier in die hand, met ’n nuwe vroutjie aan die arm.

Meer kere as nie is diegene met dié prentjie groot kerkmense en al wat jy hoor is: “Die Here se wil”. Wat dit is. Dit is definitief die Here se wil dat twee mense trou, saam huis opsit en gelukkig tot in die ewigheid saamleef. Maar as dit die enigste rede is waarom jy trou, het ek maar slegste nuus vir jou, boetie. Ja, die prentjie lyk wel idillies, maar daar’s soveel meer daaraan as net dit wat jy op Facebook sien.

Ek glo dit is juis omdat die prentjie van jong getroude paartjies so vir ons geromantiseer word dat ons nie altyd objektief daarna kyk en besluite maak wat eerstens in ons eie beste belange is nie.

Ja, die prentjie lyk wel idillies, maar daar’s soveel meer daaraan as net dit wat jy op Facebook sien.

Want omdat dié prentjie juis so idillies blyk te wees, kan ’n meisie met sterre in haar oë dalk die verskuilde slaggate heeltemal mis.

Ja, as julle nou al van graad nege af gekys is, is dit definitief hoog tyd dat julle trou, maar Meneer de Beer wat jy in Februarie by ’n pel van ’n pel se braai ontmoet het en teen September vir jou hand in die eg vra . . . die kanse dat dié man ’n vrou soek om sy klere te was en stryk en ’n lasagne nes sy ma te maak, is groter as wat hy eintlik ’n gelyke lewensmaat soek om die lewe mee te deel.

Mamma is altyd daar

Kyk, die probleem wat ek in ons samelewing identifiseer is dat Mammas hulle seuntjies vir ewig en altyd koester, nou al vir járre. My darling boy, en dies meer.

Alhoewel seuntjies aangemoedig word om onafhanklik te wees en hul eie pad in die lewe in te slaan, is Mamma altyd daar om die bekkie af te vee, die kossies in te skep en die opgevoude kleertjies op die bed (of in die kas) uit te lê.

LEES MEER: Ag, dan sit ek eerder op die rak!

Boetie kry dié behandeling van kindsbeen af, regdeur tot matriek. Nêrens gedurende die grootwordjare word die kind bietjies-bietjies gespeen en lewensvaardighede geleer nie. Mammas wil sterk seuntjies grootmaak, maar hulle altyd rede gee om huis toe te kom sodat sy hom nooit vir ewig kan verloor nie. Klaarblyklik draai party ma’s se hele lewe om haar kinders.

Maar nou gaan seunlief universiteit en koshuis toe, sekerlik sal hy gou sélf alles leer doen? Luister hier, ma-kos is enige dag beter as koshuiskos, maar daar is ’n rede hoekom dit ’n KOShuis genoem word. Daar word drie maaltye ’n dag in ’n eetsaal bedien. Boetie kan aansit en smul. Wasgoed? Daar’s ’n tannie in die waskamer daarvoor. Geen probleem nie.

Kyk daai ou eers goed uit die boom

Dink jouself nou in. Enige man met selfrespek weet hy moet ná universiteit gaan werk, en as ek my Afrikaanse kultuur so kyk, is dit ’n absolute skande as enige iemand terug huis toe trek. Jy het dan sekerlik as volwassene misluk. So, nou sit hierdie arme man met die besef dat hy teen die einde van die jaar alleen in ’n plek moet intrek en daar gaan niemand wees om na hom te kyk nie. Die afgryse, die benoudheid!

Maar wag! Daar is ’n oplossing. ’n Vrou. Mos? Mamma het altyd, nou kan ek net vir my ’n plaasvervanger kry. Probleem opgelos.

En dit is waarby baie meisies instap. Hulle dink hulle het hierdie wonderlike man ontmoet wat net oë vir hulle het, alles gaan só vinnig só goed, julle, ek dink regtig hierdie ou hou van my! En as jy weer jou oë uitvee is daar ’n ring aan die vinger. Maar is die getroude lewe wat hulle verwag het?

Jy sal vrou-alleen jou man se huis hou, want hulle is tot niks meer in staat nie.

As dit jou as meisie se droom is om ’n tuisteskepper te wees en jou en jou man se kinders groot te maak, is ek so, só bly vir jou (en net ook so ’n klein bietjie jaloers). Jy het jou perfekste pasmaat gevind en julle verdien altwee om gelukkig te wees.

Dus is my punt dat ek die neiging blameer wat nou al vir generasies kom waar moeders hul seuns grootmaak om mans te wees wat op vroue staatmaak om die huis te hou. Vir my beteken dit dat daar nooit van die seuns verwag word om basiese life skills aan te leer nie. Ek blameer moeders wat hul dogters grootmaak en hulle laat glo dat dit is hoe dit is en altyd sal wees en dat daar geen ander opsie is as dít nie: Jy sal vrou-alleen jou man se huis hou, want hulle is tot niks meer in staat nie.

LEES OOK: 'So, hoekom is jy nog single?'

Ek blameer die kerk wat net trou! trou! trou! skree, sonder om na die meriete van ’n saak te kyk en te kan sien dat nie een van hierdie mense gereed is vir die eg nie. En ek blameer mans wat nie wil opstaan en vir ’n slag na hulself wil kyk nie. Dit lyk asof hulle besluit het dat hulle tevrede daarmee is om die res van hul lewe afhanklik te wees – omdat dit maklik is. Dit is gerieflik om agteroor te sit.

Maar meer as enige iets anders waarsku ek jong vroue met sterre in hul oë. Kyk eers daai ou se doel goed uit die boom. Hoekom wil hy so vinnig trou? Hoe behandel sy pa sy ma? Waaroor sit julle nóú al die meeste vas?

Gaan net oopoë in hierdie ding in, meer as enige iets anders.

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.