Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Probeer tog in jongmense se skoene staan
Nicole van Niekerk. Foto: Martin de Kock
Nicole van Niekerk. Foto: Martin de Kock

Jong volwassenes. Dis ’n vreemde konsep. Dit hou soveel verwagtinge in – jy beheer jou eie geldsake (wat meestal uit sakgeld uit bestaan), jy kan bestuur, jy doen jou eie inkopies, maar op dieselfde tyd is jy ’n student, jy moet swot en jy wil kuier.

Jy lewe in ’n land waar alles verander wat jy ken. Jy probeer jouself in ’n warboel van emosies, veranderlikes en nuwe gewoontes vind. Jy probeer kop bo water hou want skielik is jy deel van die grootmenswêreld maar eintlik voel jy nog soos ’n kind wat jou ma se kos en jou warm bed mis.

Millenniërs roem hulle daarop dat ons almal anders is, maar op hierdie ouderdom het ons een ding in gemeen en met ’n hele paar generasies voor ons: Ons almal wil (en wou) net ons eie plek in die wêreld vestig.

Ons wil ’n stem hê, ’n betekenisvolle bestaan voer en ons drome na-jaag. Ons wil glo dat ons dade en opinies ’n verskil in ander se optredes, denke en kommentaar kan maak. Ons wil ons eie denke uitbasuin aan die wêreld, ons wil ander se menings hoor en daaroor kan debatteer. Ons wil glo dat ons die wêreld ’n beter plek kan maak. Klink dit dalk bekend?

Radikale opinies

Die enigste ding wat verskil, is die manier waarop ons ons voete in die wêreld probeer vind. Ons gebruik sosialemediaplatforms, julle het ondergrondse groepe en organisasies gehad. Ons skryf rubrieke en blogs en versprei dit oor die wêreld vir miljoene mense om te lees, julle het liedjies en boeke geskryf wat baie keer verban was.

Ons lewe nie in vrees dat ons oproepe en gesprekke afgeluister word nie, want ons het met vryheid van spraak groot geword, ons kies om dit aan die wêreld te verkondig. Jul ouers het julle gestraf vir jul radikale opinies en ons word op sosiale media afgeskryf deur ’n ouer generasie wat nie verstaan dat slegsê en om iemand name te noem steeds boeliegedrag is, al doen jy dit voor ’n rekenaarskerm nie.

Ja, ons opinies is radikaal vir julle. Ons probeer sin maak van ’n wêreld wat om ons in ’n chaos gedompel word.

Ja, ons opinies is radikaal vir julle. Ons probeer sin maak van ’n wêreld wat om ons in ’n chaos gedompel word.

Ons probeer ons ouers trots maak, ons vriende gelukkig hou, ons Instagram-followers tevrede hou en êrens tussen in moet ons ook nog probeer om kop te verloor nie. Ons word oorlaai met sensoriese inligting, met opinies en mense wat nie skroom om ’n ding op sy naam te noem nie.

Verlies, hartseer en uitbranding word baie keer in die kroeg oorkant die straat hanteer, en liefde is nie meer die romantiese beeld waarvan ons gedroom het nie. So, ek sê weer, ons opinies is radikaal, maar probeer asseblief verstaan dat dit die enigste manier is hoe ons sin kan maak van hierdie radikale wêreld om ons.

Kuberboelies

As julle nie belangstel in ons vreemde en somtyds rebelse uitlatings op sosiale media nie, hou verby. Ons gaan dit definitief nie weet nie en dit gaan ons ook nie pla nie. As julle belangstel in hoe ons dink en dalk selfs met ons saamstem, weet ek dat julle kommentaar hoog geag word, ons wil ’n brug bou, ons wil by die ouer generasies leer, ons wil jul opinies hoor en oop gesprekke met julle kan voer. Dieselfde geld vir as julle nie met ons saamstem nie, maar deur ons sleg te sê en op ’n negatiewe manier aan te val, maak julle niks beter as die kuberboelies wat ons op skool reeds geteister het nie.

LEES MEER: Is jy dalk ’n boelie?

Hiermee vra ek jou dus, liewe leser, dink voor jy daardie kommentaar skryf. Dink aan waar jy was toe jy ons ouderdom was. Dink aan die voorbeeld wat aan ons gestel word, as die mense by wie ons juis wil leer ons afbreek en slegsê net omdat ons ’n anderste denkwyse het. Probeer verstaan dat die persoon wat jy op sosiale media boelie nie een of ander vreemdeling is nie. Dit is jou kind, jou kinders se vriende, die mense wat langs jou seun of dogter in die klas sit.

Ons probeer ons voete vind, ons stemme kry en ons plekke in die wêreld oopkrap. Probeer om nie minder van ons te dink net omdat ons metodes verskil van julle s’n nie.

  • Nicole Van Niekerk (23) studeer BA Visuele Kommunikasie (Fotografie en Kommunikasie Ontwerp) by die Open Window Institute. Sy het ook ‘n BA graad in Sielkunde en Kriminologie aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Sy het in Secunda, Mpumalanga groot geword, maar bly alreeds ses jaar lank in Pretoria.
  • Hierdie meningstuk is 'n inskrywing vir Die Student se rubriek-kompetisie, waar hulle vir ouer lesers moet verduidelik wat hulle nie van die jong generasie verstaan nie.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg ons op Instagram!
Meer oor:  Menings  |  Diestudentgenerasies  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.