Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Protes in kunste kán te ver gedryf word
Mieke Hofmeyr
Mieke Hofmeyr

My oupa het altyd gesê balans is die sleutel tot sukses. Enigiets met ’n “te” vooraan, is nie goed nie. Tog lewe ons in ’n samelewing wat die kuns van wanbalans bemeester het.

Die status quo hou dit aan ons voor dat dit aanvaarbaar is dat sommige mense se honde ’n beter lewe as sekere ander mense lei. Sosiale kommentaar, aktivisme en protes is een van die meganismes wat ons as mense gebruik in ’n poging om die wanbalans te herstel. En een van die doeltreffendste platforms daarvoor is die kunste.

My oupa het altyd gesê balans is die sleutel tot sukses. Enigiets met ’n “te” vooraan, is nie goed nie.

Teater, rolprent, musiek en visuele kuns is so oud soos die mensdom self en die kunste mag dalk een van die min sosiale platforms wees waarby alle mense aanklank vind.

Of jy nou inspirasie en motivering in die teater of van Taylor Swift se jongste #Pride-treffer vind, in die kunste is daar is iets vir elke smaak, geur en voorkeur.

Politieke protes

Ek lees onlangs op BBC News ’n artikel: “The school play that sent a mother to prison.” Bloot net die opskrif van die berig het my bloed laat kook, want onmiddellik het die woord sensuur in my kop opgespring – en ek was reg.

Die berig gaan oor ’n laerskooltoneelstuk in Indië wat oor dié land se omstrede nuwe wet oor burgerskap handel. Die wetgewing maak onder meer voorsiening vir net nie-Moslem-vlugtelinge van onder meer Pakistan, Bangladesj en Afganistan om ’n veilige hawe in Indië te vind.

Die toneelstuk het kommentaar gelewer op die ongeregtigheid daarvan. Iemand in die gehoor het die toneelstuk afgeneem en aanlyn geplaas.

LEES OOK: Gooi die status quo by die deur uit

’n Paar dae later is een van die ouers en ’n onderwyser vir die verspreiding van vals inligting sowel as die aanstig van onrus in die Indiese Moslemgemeenskap in hegtenis geneem.

Dit is net een van die talle voorbeelde waar die kunste as ’n platform vir politieke protes en sosiale kommentaar gebruik is, maar waar ’n regering meen dit is sy reg om die platform te onderdruk. Dit is onaanvaarbaar.

Platform vir diverse stemme

Dit is ’n feit dat baie mense nie aanklank vind by tradisionele nuusbronne soos koerante, radio of televisienuus nie en in ’n land waar sowat 3 miljoen burgers in 2018 ongeletterd was, is dit ook nie altyd die beste platform vir burgers om sosiale kommentaar te lewer of protes aan te teken nie.

Die kunste bied ’n diverse platform waar mense met verskillende belangstellings en agtergronde hul stem kan laat hoor, asook bewus van en betrokke kan raak by verskillende sosiale en politieke kwessies.

Dit is ’n platform wat noodsaaklik is vir die uitvoer van die reg op vryheid van spraak en die beskerming daarvan is noodsaaklik vir die bewaring van ons demokrasie.

Gedwonge lesse

Ek wil egter na albei kante kyk en die volgende stelling waag: Net omdat kuns ’n vorm van protes kán wees, beteken dit nie dat dit móét wees nie. Iets wat die afgelope paar jaar opgeval het, is die hoeveelheid sosiale kommentaar wat rolprentmakers lewer in animasieprente wat op ’n jong gehoor gefokus is.

Die gedagte is dat dit belangrik is om kinders van jongs af bewus te maak van sosiale kwessies, maar is dit werklik die kruks van die saak? Of is dit ’n geval van volwassenes wat so bedag is op politieke korrektheid dat hulle dit selfs by kinderprente indruk, net om veilig te wees?

Ek lees in ’n rubriek in Rapport oor die Frozen 2 dat die rolprentmakers baie hard probeer om kritiek oor die onregverdige behandeling van inheemse stamme wêreldwyd te lewer.

Die skrywer van die artikel meen egter dat stomp en gedwonge rasselesse, die nuwe sprokies-cliché van kinderprente word.

Die skrywer van die artikel meen egter dat stomp en gedwonge rasselesse, die nuwe sprokies-cliché van kinderprente word.

Ons moet onsself afvra of die lesse en protes-pogings wat ons aan kinders probeer opdwing werklik die lesse is wat hulle moet leer? En is dit regtig nodig dat elke prent ’n les moet hê of kan dit soms bloot net as vermaak dien?

Tyd en plek vir alles

Suid-Afrikaanse sepies is ook gereeld voor in die ry wanneer dit kom by die opdwing van sosiale kwessies. Dit lyk dikwels asof hierdie sepies nie kan funksioneer sonder ’n kuberboelie, selfdood, ’n aborsie en sommer ’n voorval van geslagsgeweld saamgeprop in een week se episodes nie.

Omdat die kunste ’n doeltreffende platform vir sosiale kommentaar is, beteken dit nie dié platform moet so oorlaai word met die kommentaar dat dit uiteindelik nie meer sin en waarde het nie.

Suid-Afrikaanse sepies is ook gereeld voor in die ry wanneer dit kom by die opdwing van sosiale kwessies.

Ek wil afsluit met nog ’n brokkie wysheid van my oupa: Daar is ’n tyd en ’n plek vir alles. Daar is beslis plek in die kunste vir protes, aktivisme en sosiale kommentaar en dit is baie belangrik, maar dit beteken nie ons moet dit indruk in elke gaatjie van die kunste wat ons kan vind nie.

Soms is vermaak bloot net dit, vermaak en dit is oukei.

  • Hofmeyr is besig met haar meestersgraad in korporatiewe kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit. Sy het haar BA-graad en honneurs in kommunikasie aan dieselfde universiteit verwerf.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Volg ons op Instagram en Facebook!
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Ons stuur elke Vrydag ‘n nuusbrief uit met die drie gewildste meningstukke van die week. Klik hier en teken in vir die Stemme-nuusbrief.
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.