SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Die Student
Kan protes ook vreedsaam wees?
Studente betoog in 2015 voor Luthulihuis in Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

In ons land is stakings en protesoptogte nie ’n vreemde verskynsel nie. Georganiseerd of informeel. Wettig, al dan nie.

As niemand wil luister nie (wat klaarblyklik gereeld die geval is), vaar ons die strate in met die hoop dat iemand sal aandag gee en luister na ons pleidooi.

Met Zuma se presidentskap het ek vir die eerste keer werklik protes begryp, want Suid-Afrikaners se pleidooie is bloot geïgnoreer, terwyl die hele nasie onder sy leierskap seergekry het.

Met die protesoptogte in Noordwes aan die einde van April, het ek die rede vir protes as ’n inwoner van dié provinsie verstaan, al keer ek nie die wyse goed waarop dit gedoen is nie. Supra Mahumapelo, destyds nog die premier van Noordwes, moes gaan en ons almal het daaroor saamgestem.

“Hoe noem julle hierdie protes, geen klasse is eers onderbreek nie.”

Maar hier het ons die lelike kant van protes weer beleef. Bande is gebrand en xenofobie het sy kop uitgesteek met honderde uitlanders se besighede wat geplunder is – iets wat niks met Supra te doen gehad het nie, maar met die aard van protes wat handuit ruk. Skares is met rubberkoeëls verjaag en toe is almal weer kwaad vir die polisie wat die optogte probeer beheer en die skade tot ’n minimum beperk.

Tydens die #FeesMustFall-optogte is universiteitsgeboue afgebrand. Niks vreemds om te sien as jy die nuus om sewe-uur saans aanskakel nie.

Tog, per definisie, is protes bloot net die opstand teen iets wat iemand voel hulle benadeel. Dit kan ’n stil protes wees of selfs vertoë wat in briewe aan beheerliggame gerig word, hoewel ons meer bekend is met die gewelddadige tipe.

'n Miernes oopgekrap

Middel Mei plaas Wapad, die kampuskoerant van die Noordwes-Universiteit, ’n foto op sy Facebook-blad van mense wat op kampus dans en sing teen die gebruik van Afrikaans op kampus. Wapad verwys in die onderskrif na “protes” omdat die deelnemers hul ongelukkigheid te kenne gee.

Dit het egter vinnig in die kommentaar geblyk dat die koerant ’n miernes oopgekrap het met sy woordkeuse, wat glad nie verwag is nie. Beskuldigings van propaganda het rondgevlieg, selfs toe daar later ’n video van die voorval op die blad geplaas is.

Die kommentaar wat my laat agteroor sit en woordeloos na my skerm laat staar het, het gelui: “Hoe noem julle hierdie protes, geen klasse is eers onderbreek nie.”

Colette Combrink.

Dit was nie die gemeenste of aggressiefste van die kommentaar nie, maar dit het boekdele gespreek oor die huidige toestand van die land. Waar “vreedsame” protes eenvoudig nie meer as protes gesien word nie, want daar is nie skade aangerig nie.

Die burgers van dié reënboognasie het so afgestomp en onsensitief geraak oor geweld, en teenoor mekaar dat protes gewelddadig móét wees om as protes bestempel te word. Dat betogers nie hul werk reg doen as die polisie en weermag nie betrokke raak en ’n paar mense in die proses seerkry nie.

Ons kan nie meer iets ernstig opneem of voel voordat dit nie geweld betrek nie – een van die redes hoekom geboue eers moet brand voordat enigiemand luister, maar selfs dan werk dit nie altyd nie.

Ons menswees wat so afgestomp is, maak dat ons nie meer sensitiwiteit vir mekaar of mekaar se pleidooie kan toon nie. Ons raak kwaad vir mense in beheer. Dan haal ons dit op mekaar uit. En die beheer luister op die ou end steeds nie na die land se pleidooie nie, terwyl universiteite en dorpe en hoop stukkie-vir-stukkie verbrokkel.

Mahumapelo het uiteindelik bedank en dorpe word herbou, maar een verandering gaan nie die haat, die wraak, die seer in Suid-Afrikaners se harte wegneem nie.

  • Colette Combrink (20) studeer BA Geografie en Geesteswetenskappe (finale jaar) aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. Sy is oorspronklik van Ermelo, Mpumalanga.
Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.