Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Rasionele mense stem nie'
Mari Folscher
Mari Folscher

Rasionele mense stem nie.

Dis nie ’n opinie nie – dit is ’n ekonomiese feit. Die rasionele man doen die wiskunde en bereken dat dit hom veel meer sal kos om te gaan stem as wat die voordeel is wat hy daaruit sal kry.

Hy dink aan die vroeg opstaan, die registreer, die ID-boekie soek, die lang rye, die ewig stygende petrolprys en die reis na die stembus en besluit nee wat.

Hy weet ook dat sy een stembriefie se kans om ’n verskil te maak in ’n verkiesing waar miljoene mense stem, nietig is. (As hy regtig die wiskunde doen, weet hy dat dit tans êrens rondom 3,73494025x10 tot die negatiewe mag agt lê. Indien jy, soos ek, nie ’n wiskundige is nie: Dis bitter min.)

Logika is dit eens: Moenie stem nie – dis ’n mors van tyd, geld en energie.

En tog doen mense dit steeds. Hoekom?

Is dit omdat ons wiskundige vermoëns veel te wense oorlaat? Of is dit omdat die rasionele man nie veel van ’n rolmodel is nie?

Ja, rasionele mense stem nie. Maar hulle staan ook nie op sodat die meisie met die krukke op hul plek kan sit nie. Hulle hou nie die deur vir iemand oop nie. Hulle bring nie hul eie sakke na die winkel toe nie. Rasionele mense skenk beslis nie geld vir renosterbewaring nie – wat kan daardie prehistoriese eenhoring tog vir hulle doen?

Samelewing werk net sonder selfsug

Studie wys dat jong mense vandag meer omgee oor die omgewing, oor mekaar, oor ongelykheid en ja, oor die renosters as ooit tevore. Dit terwyl ander studies bevestig dat die omstandighede al hoe donkerder word.

Êrens maak ’n oom nou gereed om op Facebook te verklaar: “Ek het mos gesê vandag se studente is irrasioneel!” Hy mis egter die punt. Die samelewing werk nie as elkeen van ons individualisties redeneer nie.

Dit werk net as elkeen van ons ons eie selfsug opsysit en optree soos ons wil hê ander moet optree, nie vir ons eie gewin nie.

As ons waarde heg aan die konsep van ’n regering wat aanspreeklik is teenoor al sy mense, moet ons stem. Nie net stem nie – ons moet deelneem aan protes wanneer ons dink ons word nie gehoor nie en ander toelaat om dieselfde te doen.

Ons moet ons verteenwoordigers ontmoet en ondervra en toets. Ons moet menings lug en kritiseer waar nodig en mense toelaat om dieselfde te doen al verskil hulle van ons.

As ons waarde heg aan die konsep van ’n regering wat aanspreeklik is teenoor al sy mense, moet ons stem. Nie net stem nie – ons moet deelneem aan protes wanneer ons dink ons word nie gehoor nie en ander toelaat om dieselfde te doen.

Ons moet aanvaar dat ’n demokrasie slegs werk wanneer ons ook dit toelaat wat ons dink irrasioneel is of waarmee ons nie saamstem nie, want iemand anders stem weer nie met ons saam nie. Ons moet mekaar se regte beskerm selfs wanneer dit nie in ons eie belang is nie.

Maar bowenal moet ons onsself inlig oor die stand van politieke sake – dis makliker as ooit tevore en as jy nou hierdie rubriek lees, het jy geen verskoning nie – en dan moet ons stem.

Evelyn Hall het in 1903 (eintlik met verwysing na Voltaire) geskryf: “Ek stem nie saam met wat jy sê nie, maar ek sal jou reg om dit te sê tot die dood verdedig.”

Ons het al almal stories gehoor van mense wat ongelooflike goed doen om ander te help, soos kinders red onder bome wat op hulle geval het of hul pensioen skenk aan kinderhuise. As ’n mens na dié heldedade kyk, lyk dit nie te veel gevra om te gaan stem nie.

Hierdie rubriek maak dus ’n heel irrasionele pleidooi: Gaan stem asseblief vanjaar op 8 Mei. Selfs al gee jy nie om vir die renosters nie.

  • Mari Fölscher (22) studeer BA Internasionale Studies aan die Universiteit Stellenbosch.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Hierdie artikel is ‘n inskrywing vir Die Student se kompetisie oor die verkiesing. Lees die ander inskrywings hier. 
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Verkiesingdiestudent  |  Verkiesing2019  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.