Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Rassisme kom van vrees'
Marcelle Samons
Marcelle Samons

Wanneer ek myself in enige ernstige konfliksituasie bevind, dien my pa as my raadgewer. Hy gee nooit ’n swart en wit antwoord nie, hy vra eenvoudig: “Wil jy bou of wil jy breek?”

As daar een ding is wat ek nie met woorde kan regpraat nie, is dit dat rassisme steeds baie Suid-Afrikaners se alledaagse, gemeenskaplike sonde is.

Daar is verskeie definisies vir rassisme. My definisie is gegrond op my eie ervarings en is nie noodwendig die een wat jy in jou woordeboek sal vind nie.

Ek glo rassisme kom voor in meer as een vorm. Die eerste vorm is wanneer ’n persoon ’n ander persoon se gedrag of vermoë toeskryf aan sy ras.

Die tweede vorm (volgens my die afskuwelikste vorm) is wanneer ’n persoon haat uitspreek teenoor ’n rassegroep as ’n geheel.

Rassisme was die basis van die apartheidstelsel. ’n Kwarteeu gelede het die regstelsel ’n 180 grade-draai gemaak en streef nou na ’n gelyke, nie-rassige samelewing.

Rassisme was die basis van die apartheidstelsel. ’n Kwarteeu gelede het die regstelsel ’n 180 grade-draai gemaak en streef nou na ’n gelyke, nie-rassige samelewing.

Ons regstelsel is beslis meer progressief as ons samelewing. Dis moeilik om te erken, maar ’n groot deel van ons samelewing het nog nie hierdie draai gemaak nie.

Ek raak mismoedig om net te dink aan al die subtiele rassistiese kommentaar van sommige ooms en tannies om ’n braaivleisvuur. Of as ek dink aan die wat die dood van kinders regverdig omdat die kinders nie dieselfde velkleur as hulle het nie.

Rassisme is vandalisme

Rassisme is orals, maar in die oortreffende trap op Facebook. My moed sak in my skoene as ek dink aan al die sinnelose en rassistiese kommentaar wat volop is op hierdie platform.

Dit is mos baie makliker en geriefliker om iemand te veroordeel in die Facebook-kommentaar-afdeling as om iemand in die oë te kyk en ’n verantwoordelike gesprek te voer.

LEES OOK: 'Bruin mense bly altyd agter'

Wil ons bou of breek? Enige redelike Suid-Afrikaner sal onmiddellik antwoord dat ons wil bou. Suid-Afrika is ons almal se huis. Die huis het baie werk nodig. Rassisme bou nie, dit breek. So waarom is soveel van ons skuldig aan hierdie vandalisme?

Ek kan rassisme nie beter skryf nie (al sou ek wou) en ek gaan dit ook beslis nie regverdig nie. Wat ek wel besef het, is dat rassisme gewortel is in vrees. Rassisme is ’n verdedigingsmeganisme. ’n Baie ondoeltreffende en selfsugtige verdedigingsmeganisme (wat heel ironies ons veiligheid en vrede bedreig).

Dink maar aan die oom met sy moedelose rassistiese opmerkings. Hy is bang hy verloor sy huis of sy werk. Dink aan die jong man met sy rooi T-hemp. Hy vrees dat hy in dieselfde kringloop van armoede vasgevang gaan wees as sy ouers.

Vrees en die behoefte vir beskerming lei tot rassisme. Want wanneer ons nie genoeg voel nie, oortuig ons onsself dat die mense om ons nog minder is.

Vrees en die behoefte vir beskerming lei tot rassisme. Want wanneer ons nie genoeg voel nie, oortuig ons onsself dat die mense om ons nog minder is.

My doelwit is nie om iemand te verwyt nie, maar eerder om ons almal uit te daag om ’n paradigmaskuif te maak. Ras is nie die rede vir iemand se vermo? of gedrag nie. Dit is ’n absoluut irrasionele stelling.

’n Persoon van ’n spesifieke ras het goeie bestuursvermo? (my broer) en ’n ander van dieselfde ras sukkel (ek). So ook is ras nie noodwendig die rede vir iemand se gedrag nie. ’n Persoon van ’n spesifieke ras sal dink dit is aanvaarbaar om beledigende kommentaar op sosiale media te plaas en sal dit dan doen, terwyl ’n ander persoon van dieselfde ras dit heeltemal sal teenstaan en die plaser daaroor sal aanspreek.

Staan op vir ander

Ek glo egter nie dat ras en herkoms heeltemal irrelevant is nie (ons mag trots wees op ons taal en kultuur), maar wel dat dit baie selde ’n beduidende bepaler van enigiets is. ’n Mens is die amalgamasie van duisende elemente en ras is maar net een van daardie elemente.

Ons moenie toelaat dat ons frustrasie met die regering ons dryf na haat vir mekaar nie. Daar is politieke partye wat ook ’n groot rol hierin speel.

Sommige partye kies om hoofsaaklik een rassegroep se belange te bevorder. Ons moenie hierdie verskynsel toelaat om te idee te normaliseer dat ons net vir een ras kan staan nie.

Wat ons moet besef is dat ons almal dieselfde aspirasie het: ’n land van melk en heuning. My grootste aspirasie is dat ons ubuntu in mekaar raaksien voordat ons na ras kyk.

Jy is nie ’n verraaier as jy opstaan vir ander rasse (of enigiemand wat anders as jy is in enige opsig) teen dié wat soos jy is en lyk nie. Net so kan mans ook feministe wees.

Rassisme is nie die enigste verweer wat tot ons beskikking is nie. Ek is trots om te sê dat ek deel is van ’n generasie wat “bliksem met liefde” as ’n doeltreffende alternatief sien.

Wat ons moet besef is dat ons almal dieselfde aspirasie het: ’n land van melk en heuning. My grootste aspirasie is dat ons ubuntu in mekaar raaksien voordat ons na ras kyk.

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.