Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Red ons tog van swak spelling!
Jané de Wet.
Jané de Wet.

Woorde open wêrelde. Droomwêrelde. Hartswêrelde. Nuwe wêrelde. En die wêreld se gesprekke, maar as die woorde eers verdraai, verengels en volksvreemd word, sit ons met ’n probleem.

Is ek ’n taalpuris? Nee. Is my skryfwerk en algemene taalgebruik foutloos? Beslis nie. Praat ek suiwer of “korrekte” Afrikaans? Nee, al wat suiwer is, is my gebottelde water.

Ek gebruik gereeld ’n Engelse woord of twee en soms sommer ses in my alledaagse gesprekke hetsy via sosiale media of van aangesig tot aangesig.

Om die waarheid te sê, daar is ’n baie groot kans dat daar êrens in dié artikel ’n spel- of taalfout is.

Foute as dit kom by taal en veral spel is onafwendbaar. Of is dit?

Ek gee toe dat Afrikaans (of enige ander taal) sy uitdagings en slaggate het, selfs meer as Suid-Afrika se paaie, maar iewers moet ons ’n streep begin trek of dalk kan ons net begin met ’n punt?

Ai, die sosiaale media . . .

In vandag se tyd waar ons die wêreld in ons hande en die woordeboek op ons selfone het, behoort ons nie meer soveel spelfoute te maak nie, veral nie op sosiale media, waar almal dit kan raaklees nie.

Jy kry boere wat met sade plant, daarmee boer en dit daarna oes en dan kry jy mense soos ek, wat boer op forums en in die kommentaarafdelings van artikels en sosialemedia-plasings om sodoende interessante kommentaar, debatsonderwerpe en lagwekkende woorde te oes, maar deesdae is daar heeltemal te veel plasings wat my dwars in die krop steek, woorde wat soos ’n stomp potlood die laaste lyn op my bladsy verwoes met donker grys. Dié met spelfoute.

In vandag se tyd waar ons die wêreld in ons hande en die woordeboek op ons selfone het, behoort ons nie meer soveel spelfoute te maak nie, veral nie op sosiale media, waar almal dit kan raaklees nie.

“Eke wil jule net herrinder dat ek nog op soek is na sulke stoel. Dus nie in die winkels nie, alles wat ek kry is heentemal verkeerd. Enige hulp sal wardeur word.

Dankie.” So lui die een sin wat ek op een of ander koop-en-verkoop-bladsy raaklees (sonder punte en kommas natuurlik) en net daar begin ek bespiegel. Waar kom dié euwel vandaan?

Met die intrapslag begin my ontleding: Eke, het die persoon dalk die “l” uitgelaat van leke? Jule, ek wonder oor wat ek sou doen met daardie ekstra twee sekondes wat dit sou vat om die ekstra “l” te skryf. Herrinder, ek het al soveel verskillende vorme en verdraaiings van die woord gesien dat niks my meer verbaas nie, die “d” was seker die letter wat bygekom het in die promosie van tik-een- kry-een-gratis.

LEES OOK: BA is nie vir sissies nie

Sulke, gelukkig is die beskrywing saam met ’n foto geplaas anders sou ek nog meer deurmekaar gewees het. Dus en dis, ek verstaan onderskeid is moeilik, dit is regtig.

Heentemal, waarheen ook al hierdie woord op pad is, is genoeg om my heeltemal mal te maak.

Net soos met dus en dis speel onderskeid ’n groot rol in die hele wardeur en waardeer situasie.

Al wil ek my kop soms met deernis teen ’n deur kap as Facebook-filosowe of kliktiviste die twee verwar. Dit daar gelaat.

Al wil ek my kop soms met deernis teen ’n deur kap as Facebook-filosowe of kliktiviste die twee verwar. Dit daar gelaat.

Ná my ontleding om alles mooi uit te pluis, natuurlik gevolg deur ’n paar koppies sterk koffie om die woordtrauma te verwerk, vra ek myself die volgende vrae: Is dit die invloed van Engels en ander Europese tale wat veroorsaak dat mense meer geneig is om woorde te verengels?

Is dit die veranderende sosiale omgewing en die invloed van SMS-taal en die sosiale media? Of is dit bloot omdat mense nie meer lees nie? Dalk het hulle dit verkeerd geleer en het niemand hulle nog ooit reggehelp nie.

Die oplossing is eenvoudig

So, in my verwondering het ek tot die gevolgtrekking gekom dat die oplossing eenvoudig is: tik, lees, hersien en plaas.

En as jy ’n vingerfout of tikfout maak, het die meeste sosiale netwerke gelukkig ’n redigeer-knoppie sodat jy dit vinnig kan regmaak voordat jy jou woorde die kuberruim instuur.

Onthou jou woorde word bykans onmiddellik deel van jou kubervoetspoor.

LEES OOK: Grondslagfase kort dringend hulp

Spelfoute en taalfoute op sosialemediaplatforms kan drasties verminder as elkeen sy of haar eie plasings hersien.

Iemand baie wyser as ek het altyd gesê, as ’n woord verkeerd lyk, is die kans baie groot dat hy verkeerd is.

Maar, ek vra mooi, uit elke bladsy van my woordeboek en die diepte van my hart; lees, hersien en plaas dan.

So, ek doen ’n beroep op alle sosiale skrywers; deel jou menings met mening, gee al jou opinies en dra jou hart op jou mou of waar ook al jy hom wil ontbloot. Begin ’n . . . debat.

Vloek as jy wil en doen en skryf wat jou tevrede laat voel. Laat die kommentaarafdelings op plasings en die kreatiwiteit in die kuberruim nuwe lewe kry en aanhou groei . . .

Maar, ek vra mooi, uit elke bladsy van my woordeboek en die diepte van my hart; lees, hersien en plaas dan. Saam kan ons die wêreld red van spelfoute en genees met goeie spelling.

  • Jané de Wet (20) studeer BA Media, Kultuur en Kommunikasie aan die Nelson Mandela-Universiteit in Port Elizabeth. Sy het ook in die Baai groot geword.
  • Wonder jy hoe studente se koppe werk? Lees nog meningstukke hier.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Volg ons op Instagram!
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.