Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Regte, egte kaaskoek kan tot wêreldvrede lei
Sybrand Harris
Sybrand Harris

Die woord kaaskoek is ’n samestelling van twee kossoorte, kaas en koek, wat in enkelvorm nie klink asof hulle goed saam hoort nie, maar wat met die samevoeging daarvan, en ’n paar ander bestanddele, ’n gebak tot gevolg kan hê wat wêreldvrede meebring.

Die Grieke het al in die vyfde eeu voor Christus gefilosofeer en liries geraak oor ’n gebakte kaaskoek. Later het die Amerikaners dinge kom kômmin maak met ’n jellierige kaaskoekbedryf in die yskas wat beweeg as jy verbystap. Maar, nietemin is kaaskoek so oud en resepte so gelees soos die Bybel.

Die perfekte kaaskoek, na my mening, is tot perfeksie gebak. Gebak. Gebak! ’n Kaaskoek het nooit nodig om die binnekant van jou yskas te sien nie. Kaaskoeke, soos nudiste, wil die plesier van hitte op alle nodige plekke voel. Gebak is dus ’n noodsaaklikheid!

Die oppervlak is roesbruin en lig gebak met geen krake nie en die kors kom soos enige goeie basaartert op tot by die kante. Die kors kan selfs ’n bietjie uitsteek soos ’n keerwal – niemand was al ooit ontsteld oor genoeg kors nie.

Vermy aangeplakte versierings

Die kors word voor die koek gemaak met meel en botter. Die Tennis-beskuitjies en jou oorgewig vriend wat op die koekies in die Checkers-sak moet spring om dit fyn te kry, hoef nie te weet jy bak daardie dag koek nie.

Dan die vulsel. Die vulsel word gemaak van regte, egte bestanddele en niks kom uit ’n pakkie met die naam Ina op nie. Hoe varser, hoe beter. Gebruik goeie roomkaas en vermy margarien. Party mense gooi suurlemoensap in. Party mense dra ook tekkies en denim saam – jy kan nie almal vertrou nie!

Die vulsel word gemaak van regte, egte bestanddele en niks kom uit ’n pakkie met die naam Ina op nie.

Die vulsel moet dik wees en daar moet nie lae by betrokke wees nie. Jy bak ’n koek – jy probeer nie iemand se boarms wegsteek nie.

Volgende is die bakproses. Die oond moet tot op die graad op die regte temperatuur wees en die kaaskoek word gebak tot bruin bo, maar sag en romerig binne. Eerder te kort in die oond as te lank. ’n Byna gaar koek kan jy nog afsluk en glimlag, maar ’n droë ding wat te lank gebak het, is gevaarlik en kan nadelig wees vir jou vriendskappe en gesondheid.

As die koek uit die oond kom, vergeet jy daarvan soos ’n slegte keuse. As jy nou die noodlot en jou vermoë as amateurbakker wil beproef – dan bring jy ’n mes naby aan ’n vars-uit-die-oond-koek. Moenie!

LEES MEER: Fokus op dit wat werklik belangrik is

Soos enige iets opreg, word daar nie oorbodige geure en aangeplakte versierings aangebring nie. Oreo’s, gesmelte sjokolade, karamel, blinkertjies en ’n boks vergete Smarties is onaanvaarbaar. Twee bessies, ’n vars blom en dalk ’n bietjie room of jogurt is toelaatbaar, onder streng toesig van jou eie gewete.

Geen vreugde in gelatien

Ná wat voel soos sewe maer jare mag jy ’n sny deur die afgekoelde koek maak. As iets kraak, uitmekaarval of begin huil – hou moed. Proe eers. The proof is in the eating. As jou tong nie omvou word deur die sagte en liefdevolle teksture en jy later die romerige soetheid in die agterkant van jou mond proe nie – vat die koek na jou volgende selgroepbyeenkoms en vra vir gebed vir die volgende keer.

Ek self kon nog nooit die bak van die perfekte kaaskoek bemeester nie. Ek bedank diegene in sang en dans, want sonder hulle sou my lewe en verhoudings uitmekaarval. Gereeld gaan gee ek myself oor aan die omhelsing van ’n perfekte sny gebak by ’n restaurant of koffiewinkel wat ek vertrou met my sieleheil.

Gereeld gaan gee ek myself oor aan die omhelsing van ’n perfekte sny gebak by ’n restaurant of koffiewinkel wat ek vertrou met my sieleheil.

En ek glo dis waarom die wêreld lyk soos wat dit lyk. Mense gaan sit nie stil vir ’n middag om genees te word met ’n sny gebak en ’n koppie tee nie. (Ek het ook al die tee met vonkelwyn verruil vir ’n sterker alternatief.) Mense vergryp hulself aan kitskaaskoeke en yskasterte en verstaan dan nie waarom daar soveel hartseer om ons is nie. Jy kan nié vreugde vind in gelatien nie.

Die geheim van enige kaaskoek is om alles neer te sit en bewus te wees van waar jy is. Jy moet die soet tekstuur van die vulsel oplet, die hitte van die koppie tee in jou hande voel, luister na die persoon wat oorkant jou sit en besef in hierdie oomblik is álles genoeg. En dis oukei om net hier te wees. Selfs noodsaaklik.

  • Sybrand Harris (23) is ‘n finale jaar veeartsenykunde student aan die Universiteit van Pretoria se Onderstepoort-kampus. Hy is gebore in die bosvelddorpie, Louis Trichardt, en het aan die Hoërskool Ermelo gematrikuleer. Hy is ook 'n ambassadeur vir Afrikaans.com. 
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie. 
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg Die Student op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.