Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Respek vir mekaar, is dit te veel gevra?
Juvan Veldsman
Juvan Veldsman

Daar is ’n verskil tussen gelykheid en respek.

Gelykheid is een van die grootste onderwerpe in vandag se samelewing, maar dit voel vir my deesdae beteken dit net dat ons almal probeer gelyk kyk hoe hard ons op mekaar kan skreeu.

Moet my nou nie verkeerd verstaan nie, gelykheid is nie ’n grap nie. Dit is ’n edele stryd.

Maak geraas, maak geraas, Oubaas. Hilda wil skei. Die dans van die sewe serpies is nou mos seksisties en hoekom moet sý altyd die ikebanas maak. Net omdat sy ’n vrou is?

Liewe leser. Lag ’n bietjie saam met my, want dit is wat dít is. ’n Grap. Moet my nou nie verkeerd verstaan nie, gelykheid is nie ’n grap nie. Dit is ’n edele stryd. ’n Nodige stryd. Die grap lê egter in die situasie waarin dit alles ontaard het.

Kerm oor nietighede

’n Vrou is besig om haar hande te was in ’n geslags-neutrale badkamer in die VSA en twee mans loop in en sien haar. Die een tree uit en wag buite vir die vrou om klaar te maak. Die ander beweeg na die toilet en maak sy blaas leeg met ’n oop deur.

Die vrou, verontwaardig deur die man se gedrag, stap uit en bedank die man wat buite wag vir die respek wat hy getoon het. Daarna vaar sy uit op Twitter, dit is mos die nuwe era weergawe van “liewe dagboek my dag was k*k”, en vertel vir die wêreld oor hoe sy “violated” gevoel het.

LEES OOK: Feminisme: 'Mans is nie vuilgoed nie'

Die Twitter-wêreld is verskeur in twee. Een helfte glo die man het alle reg gehad om die badkamer voor haar te gebruik – want gelykheid werk tog alle kante toe – en dat dit geslagsdiskriminasie sou wees as hy nié het nie. Die ander glo weer die man was geheel en onvanpas en het haar minder geag in sy optrede, en ek weet nie wat nog als nie.

My vraag is egter: “Wat van die arme seeskilpaaie?”

Hulle was tog ook seker verontwaardig deur die gebruik van water tydens die hele interaksie.

Dit is hoe belaglik dit is. Dit is die wêreld waarin ons vandag leef. Ek is verbaas die vrou het nie in die moeilikheid gekom omdat sy aangeneem het wat die geslag van die twee mans was nie. Of moet ek eerder sê die ander twee “individue”.

So kom ons stop die drama sommer onmiddellik.

Wat beteken gelykheid?

Ons kan sekerlik ’n hele boek of meesterstesis hieroor skryf, maar vir my kom dit neer op die idee dat alle mense dieselfde regte, hulpbronne, geleenthede en beskerming moet geniet. Dit beteken vir my dat almal regverdig en met respek behandel moet word en dat die behoeftes van alle individue erken moet word.

Daar is egter ’n gróót verskil tussen om iemand gelyk te behandel en iemand met respek te behandel. Dit is juis hier waar die groot probleem is.

Hoe gereeld lees ons nie deesdae die arrogante frase, spottenderwys of te nie, van “Equal rights. Equal fights.”

Hoe gereeld hoor ons nie die astrante kommentare van mans wat as verskoning vir ongeskiktheid teenoor vroue hul gelykheid beklemtoon nie. Dit is dalk nog nie so opvallend in die volwasse wêreld nie, maar as ’n student sien ek dit meer en meer.

Daar is egter ’n gróót verskil tussen om iemand gelyk te behandel en iemand met respek te behandel.

Ek was erg ontstig ’n ruk terug toe ’n seun voor ’n meisie by ’n deur inloop, en as verdediging sê: “Sy wil mos gelyk wees, so wees gelyk.”

Nou, ek sal erken dat dieselfde vlak van belaglikheid mense oorval wat feminisme oordryf. Mense wat nie vir gelykheid veg nie, maar vir vroulike dominansie. Hulle sit weer heeltemal die pot mis.

Net vir duidelikheid: Die vorige sin is ’n wyd bekende gesegde en was geensins seksisties bedoel nie. (’n Mens kan deesdae nooit té versigtig wees nie)

Nie te veel gevra

Gelykheid en respek. Die twee is onafhanklik van mekaar, maar albei noodsaaklik vir ’n normaal funksionerende samelewing.

Waar in jou lewe leer jy vir ’n seun dat hy nie respek hoef te hê vir dames nie. Dat dit reg is om voor ’n meisie in te loop. Dat dit oukei is om met ’n oop deur voor ’n meisie te urineer. Ag nee flip man. Dit is basiese maniere.

Wat het gebeur van die respek wat ons as kinders geleer is om vir mekaar te toon?

In dieselfde asem beteken dit glad nie dat dit skielik reg is vir dames om hulself hoër te ag as mans nie. Respek is ’n tweerigtingpad.

Ja. Die man wat die badkamer gebruik het, hét die vrou as sy gelyke hanteer. Maar die man wat buite gewag het, het haar met die nodige respek hanteer.

Gelykheid en respek. Die twee is onafhanklik van mekaar, maar albei noodsaaklik vir ’n normaal funksionerende samelewing.

Dit is waarna ons moet streef. Nie hierdie heen-en-weer-moddergooi-argumente van wie is gelyk met wie, en wie wat waar mag doen, of hoe die seeskilpaaie inpas in alles nie.

Gelykheid en respek. Is dit so moeilik?

Hilda, maak maar jou ikebanas in vrede en gaan haal daardie serpies! Oubaas, maak maar die deur vir haar oop soos jou ma jou geleer het.

Hanteer mekaar net met respek en kry klaar. Is dit regtig te veel gevra?

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.