Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Roofkyk is net soos om ’n motor te steel

“Hi, kan ek dalk die nuwe Avengers vanmiddag by jou kom kry?” Of: “Bring môre vir my jou hardeskyf dan sit ek ’n paar gig se reekse en musiek vir jou op.”

Urgh. Frases wat ons gereeld hoor wat my nie net naar maak nie, maar ook skaam laat kry. In die afgelope twee dekades het meer en meer mense, veral ons jongmense, begin om rolprente, TV-reekse, musiek, videospeletjies, programmatuur ens. onwettig af te laai van plagiaat-webtuistes, en dit as moreel aanvaarbaar beskou omdat dit “maklik” en “verniet” is, of “omdat Tom Cruise en Taylor Swift reeds genoeg geld het”.

Ek was al menigmaal uit die veld geslaan wanneer ek vir iemand vertel dat ek ’n video-redigering-program gekoop het of ’n rolprent aanlyn gehuur het by iTunes. Hulle gereageer met “hoekom download jy dit nie net nie?”, sonder om te blik of te bloos.

“Moenie jouself pretensieus hou nie man!”, kan ’n mens selfs toegesnou word. Versigtig om dan nie ’n hoë toon aan te slaan nie, probeer ek mooi verduidelik hoekom ek dit wettig doen. Ek wil graag hierdie verskonings ondersoek en probeer sin maak hoekom ons as jeug so maklik die onwettige kopiëring van digitale media goedkeur.

Stille water, diepe grond; agter die rekenaar sit die roofkyker rond

Ons almal ken die ou advertensie (wat nou al reeds ’n meme geword het) van “You wouldn’t steal a handbag. You wouldn’t steal cellphone.” So, hoekom rasionaliseer ons dan die onwettige aflaai en verspreiding van rolprente en so meer? Dis tog nie anders as om iets fisiek te steel nie?

In 2016 het Australasiese navorsers bevind wanneer dit kom by ontasbare dinge soos digitale media, is dit vir homo sapiens se brein makliker om die skuldgevoel te versteek. Ons brein se laterale orbitale frontale korteks, wat onder meer te doen het met morele sensitiwiteit, word geaktiveer selfs al dínk ’n mens net daaraan om iets fisiek, soos ’n kar, te steel.

“Hi, kan ek dalk die nuwe Avengers vanmiddag by jou kom kry?”

Hierdie gedeelte is egter minder aktief wanneer ons daaraan dink om Sheldon van The Big Bang Theory se nuutste manewales te stroom. Verder, mense laai gewoonlik dit wat hulle wil hê van die digitale media af in die gemak en privaatheid van hul eie huise, so daar is geen opsigtelike polisiëring nie. Wat dan ook natuurlik die onderdrukking van skuldgevoelens vergemaklik.

Ons kulturele en morele sienings in die Suid-Afrikaanse samelewing het tot gevolg dat mense begin dink het dit is eintlik heel in orde om die nuutste seisoen van 13 Reasons Why onwettig af te laai. Dit het so maklik geraak om te stroom, ten spyte daarvan dat hierdie plagiaat-webtuistes konstant deur die owerhede ondersoek en van die wêreldwye web afgehaal word. Daar is ook sekerlik ’n mate van ongeduld – Netflix kry dalk eers oor ’n maand die nuwe seisoen van Brooklyn-Nine-Nine, maar ’n mens wil mos nie tot dan wag terwyl al jou vriende wat die programme onwettig kyk dit vir jou bederf deur met Jake en kie se nuwe kwinkslae te vore te kom nie.

Hoe nou gemaak?

Roofkykwerk is konkelwerk

Met die verbetering van die internet-infrastruktuur in ons land is pryse laag en vinnige internet met ’n hoë aantal gigagrepe maklik verkrygbaar.

Ek reken – nes dit eties die regte ding is om jou belasting te betaal – is dit ook eties die regte ding om jou digitale media deur wettige kanale van diensverskaffing te verkry.

Dis ook nie so veilig om onwettig jou hardeskyf vol te prop nie. Studies het al bewys dat tot 50% van cracked media besmet is met skadelike virusse wat jou rekenaar stadig kan maak, dokumente en lêers korrupteer, jou inligting steel, en so meer. Die grap is dat die einste anti-virusprogram wat jy dalk dan gebruik om jou rekenaar te skandeer, sommer self ook onwettig verkry is.

Verder, met die toetrede van mediadiensverskaffers in ons land soos Showmax, Apple Music en Steam, is pryse vir rolprente, reekse, musiek en speletjies op ’n laagtepunt. Ander stroomdienste soos Spotify en Crunchyroll het selfs ’n gratis opsie. Die meeste van hierdie dienste het ’n funksie dat jy jou reeks of rolprent kan aflaai en later kyk, sonder om skuldig te voel dat jy onwettig optree.

DF Luttig.

Laastens, daar is ’n wye verskeidenheid van hierdie dienste plaaslik beskikbaar. Daar is DEOD, Telkom LIT, Simfy Africa, om maar net ’n paar te noem, en jy kan selfs dit koppel aan ’n televisie of rekenaarskerm met ’n toestel soos die Kwesé Play Roku-stroomtoestel. Local is inderdaad lekker.

Dis nie ’n kwessie van om hoogheilig te wees nie. So betaal vir jou kykstof, dis bloot net die regte ding om te doen.

Dis wel waar dat die glanspersoonlikhede nie noodwendig armer gaan wees sonder jou maandelikse R60 vir ’n intekening by ’n stroomdiens nie, maar hou net bietjie in gedagte hoeveel mense regtig aan ’n produksie werk.

Wanneer die krediete aan die einde rol, is die volgende paar minute toegewy aan ’n ellelange lys van mense wat gesweet het om hul beroep te beoefen en eerbaar hulle brood te verdien. Hierdie kunstenaars benodig die geld vir toekomstige vrystellings. Moenie hulle daarvan ontneem nie.

Onthou, as jy die siening het dat “ek is maar net een mens wat dit onwettig aflaai, ander sal tog daarvoor betaal”, wat sal gebeur as meer en meer mense soos jy begin dink?

  • DF Luttig (24) is besig met sy meestersgraad in kliniese sielkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK). Hy kom oorspronklik van Kaapstad.
Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.