Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
SA oor 20 jaar – waar gaan ons wees?
Mart-Mari van der Merwe

Wanneer laas het jy ’n lemoen geëet? Wat jy sélf geskil het?

Ek is mal oor lemoene. Ten spyte van die feit dat my gevoelens oor lemoene nie veel in gemeen het met ernstige sake soos die onderwerp van hierdie rubriek nie, het ek ’n lemoentjie met jou te skil oor die toekoms van ons land.

Suid-Afrika oor 20 jaar. Ek wil ’n prentjie vir jou skets, maar ek vermoed dit gaan ’n ander een wees as die een wat jy verwag.

Sien jy blink geboue wat na die hemel reik waarvandaan jy op soel somersaande na die sterre kan gryp?

Sien jy rye mense op stemdag wat almal oor-en-weer kuier – ongeag of hulle swart of wit of bruin of so vol tatoeëermerke is dat jy nie kan agterkom nie, gay of straight, oud of jonk of mooi of lelik of enige ander dan reeds gedekonstrueerde binêre opposisie is?

Sien jy virtuele universiteite en gesels jy elke dag van aangesig tot aangesig met mense van dwarsoor die wêreld want ons het geleer om te transporteer?

Die meeste van hierdie dinge klink nie negatief nie, en ook nie verregaande nie. Heel waarskynlik, en hopelik, is dit wat baie mense sien en hoop.

Die middeweg

My storie wil ’n ander draai maak. My storie gaan oor vreugde en kuns, passie en guns (ek pleeg soms rympies want dis lekker).

O, ja. Die lemoene.

Om ’n lemoen te skil is moeite. Die skil is bietjie te hard vir jou naels, en as jy dit hap, is die sap bitter. Almal skil lemoene op hul eie manier. Party vat kortpad en sny die vrug net middeldeur. Ander sny versigtig in sirkels om die vleisies. Die bestemming is wel altyd dieselfde: Kuns. ’n Ontploffing van sap, nie te soet, nie te suur, vars-soos-’n-lentebriesie-in-Oktober. Helder oranje blasies tot barstens toe vol van vreugde.

Miskien rol jy nou al jou oë. Miskien het jy lankal ophou lees. Miskien gee jy my tog nog die voordeel van die twyfel. (Sy het darem al ’n graad, al is dit ’n BA.)

LEES OOK: 'Ons land is gebreek, stukkend en gewond'

Wat ek vandag probeer voorstel, is ’n Suid-Afrika waar mense die moeite en tyd opoffer om die lemoen van die toekoms te skil, en tydsaam die lekkerte geniet. Voor jy dink ek stel voor dat almal ’n kannie-warrie houding moet aanneem, nee.

Ek sien ’n land met mense wat ’n passie het vir dit wat hulle doen, en elke dag kan glimlag as gevolg van die mooi om hulle. Ek sien ’n land waar almal tyd het om ’n Breytenbach-strofe of twee te lees by die werk.

Ek sien ’n land waar geluk soos vrugte aan bome langs die strate hang. Ek sien mense wat daardie bome water gee. Ek sien mense wat die vrugte vir ander uitdeel. Ek sien mense wat ander onder die bome laat rus.

Ek sien ’n land waar geluk soos vrugte aan bome langs die strate hang. Ek sien mense wat daardie bome water gee. Ek sien mense wat die vrugte vir ander uitdeel. Ek sien mense wat ander onder die bome laat rus.

My prentjie is te idillies, nè?

Noem my naïef, maar hoekom? Hoekom is dit verregaande om ’n land vol gelukkige, tevrede siele voor te stel? Siele wat genoeg slaap, genoeg kuier, genoeg musiek luister . . . Is dit die feit dat ek nêrens die woord “sukses” gebruik het nie?

Is dit die feit dat ek voel die lewe gaan oor meer as net geld en status? Is dit oor ek dink dit hoef nie so te wees dat jy óf ’n middelafhanklike, gedrewe hoofmeisie, óf ’n sorgvrye happy-go-lucky moet wees nie? Hoekom is die goue middeweg vir ons so buite die kwessie? ’n Taboe onderwerp?

Lemoene is soeter as jy hulle deel

Ek weet die harde werklikheid is dat my prentjie wel idillies is. Daar is baie kwessies en vraagstukke wat aandag moet kry voordat ons ’n tevrede Suid-Afrika sal wees.

Ek is ook deeglik bewus van my bevoordeelde posisie wat dit vir my moontlik maak om positief oor die toekoms te dink. Nogtans, die motivering agter my lemoen-metafoor is dit:

As ons streef na ’n perfekte toekoms, deur hard te werk aan dit waarvoor ons ’n passie het, sal ons agterkom die lemoenskil is nie so hard nie.

As ons streef na ’n perfekte toekoms, deur hard te werk aan dit waarvoor ons ’n passie het, sal ons agterkom die lemoenskil is nie so hard nie. As ons mik na die maan, sal ons steeds minstens tussen die sterre beland (’skuus, ek bloos ook sommer nou).

Ek glo lemoene is soeter as jy hulle deel. Kom ons skil saam en eet saam en vat lemoene vir almal wat dit nie self kan skil nie. Kom ons word gesond, een lemoen op slag.

Ek wil dié soetsappige storie sluit met woorde van Jan Rabie: “Of kan ’n mens ’n droom skryf tot hy leef?” Buiten sy gebruik van die manlike voornaamwoord vir die “droom”, dink ek dis ’n briljante eksperiment.

LEES OOK: 'Die Here seën ons elke dag met 'n pragtige begin'

Ek is seker iemand het al vir jou gesê jy verdien net die beste. Wil jy nie saam met my droom en skil aan ’n idilliese toekoms nie?

What’s the worst that could happen?

  • Mart-Mari van der Merwe (22) is tans besig met ‘n BA (Hons) in Afrikaans aan die Universiteit van Pretoria. Sy kom van Modimolle.
  • Hierdie meningstuk is deel van Die Student se rubriek-kompetisie waar ons vir studente gevra het om te skryf oor die Suid-Afrika wat hulle oor 20 jaar wil sien en hoe die jeug kan help om by dié droom uit te kom. Die kompetisie is in samewerking met die Universiteit Stellenbosch aangebied ter viering van Jeugdag.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg Die Student op Instagram

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Die Student  |  Diestudentjeugdag  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.