Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'SA se fondament is wankelrig'
Nicole van Niekerk. Foto: Martin de Kock
Nicole van Niekerk. Foto: Martin de Kock

Presies 40 jaar nadat André P. Brink se boek ’n Droë wit seisoen gepubliseer is, lees ek dit vir die eerste keer.

Die boek lees asof dit gister geskryf is en daar lê ’n bekendheid in die hoofkarakter wat my ontsenu. Net soos die hoofkarakter wat in ’n stadium moet vra: “Wat nou?”, wonder ek ook partykeer, “Wat nou?”.

As ek koerant lees of na president Ramaphosa se leë beloftes luister, wonder ek waarheen gaan ons van hier, hoe lyk die toekoms? Hoe gaan die Suid-Afrika lyk waarin my kinders eendag gaan grootword? Hoe gaan die Suid-Afrika lyk waarin ek eendag gaan oud word?

Ek droom van ’n Suid-Afrika wat in 2039 ’n sterk ekonomie het, geen korrupsie nie en ’n regering wat in die beste belang van elke kind en volwassene optree.

In my hart wens ek vir dieselfde reënboognasie waarvan Madiba gedroom het. Ek wens vir ’n land waar almal ’n warm bed, kos en water het. ’n Land waar werkloosheid nie meer ’n realiteit is nie en misdaad iets van die verlede is.

Ek wens vir ’n land waar kinders positiewe rolmodelle het en weet wat dit beteken om hard te werk om sukses te behaal. ’n Land waar mense respek vir mekaar se waardes, kultuur, geloof en seksualiteit het.

Bou ’n nuwe huis

Ongelukkig word my hart gou teruggeruk na die realiteit as ek op Sondae Carte Blanche kyk of selfs net gou Woolies toe ry. Week ná week, dag ná dag word ek daaraan herinner dat daar nog ’n lang en moeilike pad na herstel is. Die bedelaars op die straathoeke en die brandmaer kinders met geskeurde klere bevestig net weer eens dat 40 jaar se ongelykhede en totale ontkenning van menswaardigheid nie binne twee dekades herstel gaan word nie.

Die realiteit is, as die omgewing rondom jou van kleins af bedreigend, negatief en koud is, gaan dit moeilik wees om ’n positiewe uitkyk op die lewe te hê as jy ouer word.

Dit is maklik om te sê die jeug moet hulle jong energie gebruik, uitgaan en gaan werk soek, nie in die strate rondlê nie en hard werk by die skool. Die realiteit is, as die omgewing rondom jou van kleins af bedreigend, negatief en koud is, gaan dit moeilik wees om ’n positiewe uitkyk op die lewe te hê as jy ouer word.

Miskien is dit tyd dat ons onsself begin vra: “Wat nou?” Hoe wil ek hê moet my land eendag lyk? En nee, om te sê jy gee nie om nie, want die oomblik dat jy jou graad het, emigreer jy Kanada toe, is nié ’n antwoord nie. Miskien is dit tyd dat ons verantwoordelikheid begin neem, nie net vir die toekoms nie, maar ook vir die verlede. Ons is dalk die sogenaamde born-frees, maar ons bestaan as die jeug van Suid-Afrika is nie vry nie.

LEES MEER: 'Ek droom van 'n SA sonder plaasmoorde'

Ons fondament is ’n mengsel van ongelykheid, hartseer, geweld, armoede, korrupsie en nog baie ander maatskaplike en politieke probleme. Dit is nie ’n sterk fondament nie, ook nie een waarop ons trots kan wees nie, maar ons kan dit nie ontken, ons oë toemaak en dit wegwens nie.

Dit is ons verantwoordelikheid om ’n huis op hierdie fondament te bou wat sterk is. ’n Huis wat bestaan uit gelyke regte vir almal, uit kinders na wie daar omgesien word, uit mense wat met waardigheid hanteer word, uit respek, geloof, veiligheid en warmte.

Dié van ons wat die voorreg gehad het om in ’n veilige huis groot te word, wat elke dag kos gehad het om te eet, wat ouers het wat omgee, wat kan studeer . . . ons het die bakstene om ’n nuwe toekoms vir Suid-Afrika te bou. Moenie jou bakstene êrens in ’n vreemde land gaan lê nie. Bly hier, vat die fondament wat jy gekry het en werk daarmee. Bou daarop voort en help ander wat nie so bevoorreg soos jy is nie.

  • Nicole Van Niekerk (23) studeer BA Visuele Kommunikasie (Fotografie en Kommunikasie Ontwerp) by die Open Window Institute. Sy het ook ‘n BA graad in Sielkunde en Kriminologie aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Sy het in Secunda, Mpumalanga groot geword, maar bly alreeds ses jaar lank in Pretoria.
  • Hierdie meningstuk is deel van Die Student se rubriek-kompetisie waar ons vir studente gevra het om te skryf oor die Suid-Afrika wat hulle oor 20 jaar wil sien en hoe die jeug kan help om by dié droom uit te kom. Die kompetisie is in samewerking met die Universiteit Stellenbosch aangebied ter viering van Jeugdag.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg ons op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Diestudentjeugdag  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.