Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
SA wou my nie keur nie, nou swot ek medies in Letland
Marelize Vermeulen
Marelize Vermeulen

Ek woon in Europa.

Oukei, hokaai net hier! Voor jy jou mond uitspoel oor al die mense wat trek, voor jy vir my vertel ek moet eerder net bly waar ek is as ek van die kantlyn af advies skree: Hier is my storie net vir jou.

Ek studeer medies in Europa omdat ek nie keuring gekry het in Suid-Afrika nie en ’n geleentheid gekry het om dit te doen in Letland. Soos baie expats het ek nie net gehardloop nie. Dit was ’n moeilike besluit en dit het ses jaar gevat vir my om dié besluit te neem om oorsee aansoek te doen.

Dit was ’n moeilike besluit en dit het ses jaar gevat vir my om dié besluit te neem om oorsee aansoek te doen.

Suid-Afrika is my land. Dis waar my kaalvoete tuis is in die Afrikason. Die Jakarandastad my huis. Op die trappe van die Uniegebou my gunstelingplek om na ’n sonsopkoms te kyk met ’n tannie Karen Zoid-treffer in my gedagtes en my vingers om ’n koppie boeretroos gevou.

Kaalvoet-rondhardloop, trekker- en perdry en net kindwees was my lewe. Ek is grootgemaak op 7de Laan, braaivleis, koeksisters en moenie van die Oros en Jannie-verjaar-koeldrank vergeet nie.

Chutney, ordentlike rooiwyn en tannie Ina-speserye maak ná elke kuier by die huis my tasse vol. Ek is ’n Suid-Afrikaner en sal altyd wees, dit maak nie saak waar ek in die wêreld bly nie.

Nie altyd sonskyn en madeliefies nie

Maar glo dit of nie, om in Europa te bly, is nie altyd sonskyn en madeliefies nie. Sonder om te praat oor die lang administrasieprosesse, die gebrek aan beursgeleenthede omdat Suid-Afrika nie onder die regte klassifikasies val of aan ooreenkomste voldoen nie (veral nie in Letland nie) en uitdagings met meer eenvoudige goed soos die vreemde weer en tekort aan vitamine D, is daar ’n ander uitdaging.

LEES OOK: 'Ek moet in Letland medies gaan studeer'

Die geskiedenisboeke het iewers nie so mooi teruggevloei oor die water soos wat ons dink nie. Die stereotipering van ’n Suid-Afrikaner is reeds . . . hoe kan ek dit stel . . . kreatief – sonder om die feit in ag te neem dat ek boonop ’n wit Suid-Afrikaner is.

Ek dink nie dit is noodwendig so in al die Europese lande nie, soos in Nederland en Engeland waar baie Suid-Afrikaners woon nie, maar hier in die Noord-Ooste van Europa is dit ’n heel ander storie.

Dié vrae is deel van my elke dag:

  • Het jy ’n leeu as ’n troeteldier?
  • Loop olifante in die strate?
  • In watter land woon jy dan nou eintlik in Suider-Afrika?
  • Hoekom is jou Engels so goed of hoekom kan jy nie Swahili praat nie?

Maar die vraag wat ek die heel meeste kry is: “As jy dan regtig van Afrika af is, hoekom is jy wit?”

Ja, jy het reg gelees! Ek word gereeld gevra hoekom ek wit is.

“As jy dan regtig van Afrika af is, hoekom is jy wit?”

Die opvolgvraag is dan gewoonlik: “Só jou ouers het dan geëmigreer Afrika toe toe jy ’n kind was?”

Of die beste een nog: “So as jy dan van Afrika af is en daar gebore is, is jou ma of jou pa swart?”

Ek staan in verstomming en luister na hierdie vrae. Daar is groot verwarring te sien op hul gesigte wanneer ek vir hulle probeer verduidelik dat ek nie die eerste generasie is nie, dat my oupa en ouma se ouers ook in Suid-Afrika gebore is.

LEES OOK: Ek bid vir jou, Suid-Afrika!

Sommige mense dink ook dat ek dan slegs ’n kolonialis is en nie ’n regte Afrikaner nie. Dit laat my met ’n verwarrende hartseer oor myself, want ek is definitief nie ’n Europeër nie. Ek is nie gemaak vir die baie reën en koue nie.

Dit laat ’n mens tog wonder waar ’n mens dan inpas? Ek is nie Afrikaner genoeg nie en ook nie genoeg van ’n Duitser of ’n Sweed of ’n Hollander nie, so waar los dit my dan? Iewers in ’n oseaan, neem ek aan.

Bosveldson het my grootgemaak

Gelukkig weet ek presies wat ek is. Ek is ’n Afrikaner, ’n Suid-Afrikaner, ’n kaalvoet-Afrikakind. Die Bosveldson het my grootgemaak en die sandkorrels van die Kalahari het my drome bewaar.

Ek is trots op my afkoms en my nasionaliteit en ek weet presies waar is my kaalvoete tuis.

So moet my nie verkeerd verstaan nie, die positiewe aspekte van Europa oortref steeds vir my die uitdagings en ek weet elke droom het sy uitdagings.

Ek is ’n Afrikaner, ’n Suid-Afrikaner, ’n kaalvoet-Afrikakind.

My droom was om medies te studeer, my droom is om ’n dokter te word. So die klein Europese uitdagings is deel daarvan om my droom uit te leef.

Met my Suid-Afrika-sokkies aan my voete en my Springbokwapen op my bors, leer ek elke mens wat ek teëkom oor my taal, my nasie, my land en my Afrika.

So Oom, Tannie, ek vra mooi: Voordat jy weer negatiewe kommentaar lewer oor Suid-Afrikaners wat elders in die wêreld wandel, groet hulle in Afrikaans en deel ’n trotse Suid-Afrika-storie.

Ons mis ons huis, ons mis ons mense, ons kultuur en die son. Ons het uitdagings van ons eie en met ’n verwarring oor waar ons inpas aan dié kant, is dit lekker om te weet Suid-Afrika sal altyd huis wees.

So gun ons dit: Die wete dat huis altyd huis sal wees.

Ons mis ons huis, ons mis ons mense, ons kultuur en die son.

In die woorde van die skrywer Gladys Hunt: “Die huis is ’n veilige spasie, vry van aanval, ’n plek waar mense deel en mekaar verstaan. Die mense in die huis hoef nie volmaak te wees nie, hulle moet eerder liefdevol en ondersteunend wees en die gemeenskaplike aspek van menswees erken wat ons almal kwesbaar maak.”

So maak nie saak waar ek in die wêreld is nie, Suid-Afrika en Suid-Afrikaners is en sal altyd huis wees.

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.