Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Sal die ‘Me Too’-beweging die toets van die tyd oorleef?

Ellen DeGeneres het dit volgens my die beste opgesom: “Hell hath no fury like a woman with a Twitter account.”

Toe die aktrise Alyssa Milano #MeToo aan die einde van 2017 weer op Twitter laat vlam vat het, het dié hutsmerk en die Me Too-beweging ’n revolusionêre uitwerking op vroue oor die wêreld heen gehad.

Talle vroue het ná jare se stilte uiteindelik oor seksuele teistering gepraat. Hoewel dit vir baie ander vroue, myself ingesluit, nie ’n nuwe verskynsel was nie, was dit verstommend om te sien hoeveel vroue, veral bekendes, hul stemme laat hoor het. Dit was veral te sien in die Amerikaanse vermaaklikheidsbedryf, waar aktrises soos Gwyneth Paltrow, Angelina Jolie, Cara Delevingne en Uma Thurman die rolprentmagnaat Harvey Weinstein van seksuele teistering beskuldig het.

’n Slap soen op straat

Ek het op die platteland grootgeword in ’n relatief beskermde gemeenskap waar elkeen geweet het wat twee huise verder aan die broei was. Dit was vir my veilig genoeg om skool toe te stap (ongeveer 400 m van my huis af).

Een doodnormale middag in gr. 10 kies ek koers skool toe vir ’n toneelrepetisie.

My 16-jarige self was in daardie stadium reeds gewoond aan fluite of vulgêre aanmerkings wat mans in die verbygang sou maak, want met wie het dit nog nie gebeur nie?

Met die skool in sig sluip ’n wildvreemde man skielik tot langs my en val in by my pas asof ek hom vir die staptog saamgenooi het. Waaroor hy met my wil gesels, weet ek nie, maar dat hy hardnekkig is, is gewis.

Binne ’n oogwink is hy so na aan my dat ek ’n nuwe vlak van ongemak in my lewe bereik. Terwyl hy onsinnighede in my oor fluister, spring ek byna met een sprong oor die hoofstraat wat voor die skool verbyloop. Ek moes net wegkom.

Ek het niemand by die repetisie vertel wat gebeur het nie, nie my onderwyser nie en nie eens my vriende nie. Dit was vernederend.

Toe ek die namiddag terug huis toe wou stap, het my bloed soos yskoue lood in my lyf tot stilstand kom. Die man was weer op die straathoek waar ek hom vroeër gelos het.

Die man sluit weer by my aan. Ek gril. ’n Beskaafde “los my asseblief uit” skrik hom nie af nie. ’n Paar gewaagde vloekwoordjies stuit hom ook nie.

Die horlosie staan skuins voor uitvaltyd en die dorp se strate is nog besig. Ek waag my kans. As enigiets gebeur, sou die mans by ’n werkwinkel oorkant die straat my mos te hulp snel. Die man sluit weer by my aan. Ek gril. ’n Beskaafde “los my asseblief uit” skrik hom nie af nie. ’n Paar gewaagde vloekwoordjies stuit hom ook nie. Dis toe ek dreig om te gil, maar voor my siel weet ek geen klank sal uit my toegetrekte keel kom nie, dat hy wéér my persoonlike ruimte binnedring en wragtig ’n slap soen op my wang neerplak. Hy het met ’n grinnik weggeseil. My ongemak, sy oorwinning.

Die trane lê vlak in my oë. Ek weier selfs die hulp van ’n barmhartige Samaritaan wat dié gedoente gesien en aangebied het om huis toe te neem nie. Hy is nie uit dieselfde lap as Slapsoen gesny nie, maar ek wonder tog of hy nie al iets soortgelyks aan ’n ander meisie of vrou gedoen het nie.

So in die gees van uitpraat en opstaan teen ongeregtighede: “Me Too”.

’n Klein snytjie bloei ook

As ek ander vroue se verhale hoor, besef ek hoe lig ek daarvan afgekom het. Die gedagte aan die erger gevalle wat daagliks in ons land en die wêreld plaasvind, laat my sidder. Ek besef egter terselfdertyd dat só ’n voorval onaanvaarbaar bly, ongeag hoe “lig” jy daarvan afgekom het. ’n Klein snytjie bloei ook.

En tog leer ons meisies om stil en soet te wees, nie teë te praat nie en ongelykheid as die norm te sien, dat dit aanvaarbaar is om minder te verdien in dieselfde pos as ’n manlike kollega. Meisies is geleer om te glo dat teistering húl skuld is omdat hul onvanpas aangetrek is of te laat by partytjies bly.

Dan is daar boonop mense soos Karl Lagerfeld, kreatiewe direkteur van die modehuis Chanel, wat hoofsaaklik vroueklere ontwerp, wat aan die Franse tydskrif Numéro gesê het as ’n vrou nie wil hê daar moet aan haar gevat word nie, moet sy nie ’n model word nie. Hy voer dit ’n stap verder en raai dié vroue aan om by kloosters aan te sluit. Hy sê ook dat die Me Too-beweging “te ver” gegaan het.

Ek wil dan die volgende vrae vra, nie net aan die Harvey Weinteins en die Karl Lagerfelds van die wêreld nie, maar aan die hele mensdom: As dít die bepalings en voorwaardes is, sal hierdie beweging óóit ver genoeg kan gaan? Gaan hierdie golf van rebellie teen patriargale norme eenvoudig verdamp? Of gaan ons klou soos ’n neet en iets van hierdie beweging laat voortleef vir toekomstige generasies?

In Carrie N. Baker se The Women’s Movement against Sexual Harassment vertel sy die verhaal van ’n dinamiese sosiale beweging, soortgelyk aan die Me Too-beweging, wat seksuele teistering in die 1970’s en 1980’s onder die Amerikaanse publiek se aandag gebring het.

“Die samewerking van vroue van verskillende rasse, ekonomiese en geografiese agtergronde het dié beweging versterk deur die ervarings en perspektiewe van ’n groot verskeidenheid vroue te weerspieël en deur hulle hulpbronne en strategieë vir sosiale verandering te inkorporeer,” skryf Baker.

Hoewel hierdie bewegings seksuele teistering en vroueregte in die kollig geplaas het, kan daar duidelik op sosiale media gesien word hoe duisende vroue sedertdien steeds elke dag slagoffers word.

’n Vry vrou

Arleen Stone.

Ek herhaal dan: Gaan die Me Too-golf nes die bewegings in die 70’s en 80’s stelselmatig uit alledaagse gesprekke verdwyn en pogings om die skuldiges vas te vat, verslap? Gaan ons voortgaan om ons dogters en seuns te leer dat ongelykheid aanvaarbaar is, dat dit reg is dat seuns en mans met die vroulike geslag maak soos hulle wil en dat ons nie oor hierdie ongemaklike onderwerpe moet praat nie?

Hoewel die Me Too-beweging hoofsaaklik in die VSA ontstaan het, het dit my herinner aan die kreet van ons eie land se ystervroue in 1956: “Wathint’ abafazi, wathint’ imbokodo” (“as jy ’n vrou slaan, slaan jy ’n rots”).

Die tyd dat vroue teistering, mishandeling en geweld eenvoudig moet duld, is verby. Genoeg is genoeg. “Paternoster” deur Antjie Krog eggo in my ore: “ek is / die here hoor my / ’n vry fokken vrou”.

  • Arleen Stone (21) is studeer joernalistiek aan die Universiteit Stellenbosch en kom oorspronklik van Springbok in die Noord-Kaap af.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.