Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
SCHALK SKRYF: 'Soek jy 'n tietiebottel of soek jy 'n stem?'
Schalk Bezuidenhout
Schalk Bezuidenhout. Foto: Martin de Kock

Ek wil begin deur dankie te sê vir “Die Student”. Ek dink dit is regtig ’n great inisiatief om ’n platform te skep vir die moderne Afrikaanse stem. Die meeste van die stukke is deur studente van 19, 20, 21 jaar oud.

Ek is 27, wat nog baie jonk is, maar op “Die Student” is ek daardie creepy oom met die snor wat by die huispartytjie vir die kinders vra: “Rook julle die hubbly bubbly?”

Dis vir my baie interessant om die meningstukke van die jong mense te lees. (Heerlikheid, jy weet jy is ’n oom wanneer jy na studente as “die jong mense” verwys.)

Daar is egter iets wat my stuk ná stuk byval.

Sjoe, maar ons kry onsself jammer, hoor!

Kan iemand asseblief vir my verduidelik wanneer die volgende gebeur het:

“Kry my jammer, ek is wit.”

“Kry my jammer, ek is Afrikaans.”

“Kry my jammer, ek is wit en Afrikaans in Suid-Afrika.”

As dit maar net daar gestop het! Deesdae sien ek selfs:

“Kry my jammer, ek is die jong, nuwegenerasie-Afrikaner en die ouer mense/die ooms en tannies/my ouers verstaan my nie.”

Jammer om kras te wees, maar dit gee my ’n kramp in my hol. Sit dít in jou Gen Z, iGen, Centennials of watokal-julle-julleself-noem en vape dit.

Die Jannie Jammergat-stukke

Ek is beslis nie ’n fan van die kommentaar op Netwerk24 nie, maar een van die comments op een van hierdie Jannie Jammergat-stukke was net eenvoudig: “Trek Kanada toe.” Cheers op dit, oom.

Die meeste van hulle beweer hulle is liberaal, maar daar is ’n ondertoon van rassisme wat ek nie kan ignoreer nie. Ek sien heeltyd sinne soos: “Suid-Afrika, my hart sal vir altyd joune wees, maar jou mense maak my moedeloos”.

Die rede waarom ek sê ek verstaan dit nie, is omdat ek tog nie so lank terug nie ’n student was.

Die rede waarom ek sê ek verstaan dit nie, is omdat ek tog nie so lank terug nie ’n student was.

Ek was in 2010 in matriek. Dis minder as ’n dekade terug en daarna was ek vir vyf jaar ’n student. Dis ook belangrik om kennis te neem dat teen my matriekjaar was dit al ’n goeie 16 jaar ná apartheid. Dinge soos BEE was al in werking. As matrieks in die Hoërskool Jeugland in Kempton Park en as die handjievol Afrikaanssprekende studente by die Universiteit van Kaapstad het ons nooit onsself jammer gekry nie. Ons het ons koppe in ons boeke begrawe, soos al die ander, en ons werk gedoen.

Natuurlik kon ons tydens #RhodesMustFall en #FeesMustFall met ’n Minora in die hoekie gaan sit en gehuil het: “Ag, jammer dat ons wit en bevoorreg is en dat die meeste van ons se ouers dit kon bekostig om vir ons studies te betaal.”

Het ons?

Nee.

Die van ons (myself ingesluit) wat nie dieselfde struggles gehad het nie, het simpatie teenoor ons vriende getoon wat passievol oor die beweging was en hulle ondersteun.

Soek jy ’n tietiebottel of ’n stem?

Vandag se studente roei omtrent elke woud op aarde uit soos wat hulle ope briewe skryf. Ek sweer ek het vandag ’n ope brief in reaksie op ’n ope brief aan ’n ope brief oor ’n ope brief gelees. Dit dryf my tot ope lyf.

En hierdie arme bloeitjies soek simpatie, so asof hulle nie die geleentheid het om te swot, hul stukke op ’n Macbook kan tik en steeds ekonomies in die top-25% van die land is nie.

Ek weet hierdie is nie die reël nie, maar ek sal my top-25%-van-die-ekonomie-maandelikse-salaris daarop sit dat dit waar is in die meeste van die gevalle.

SCHALK SKRYF OOK: Ek hoop nou nie ek gee aanstoot nie, maar . . . 

Iemand skryf nou die dag hoe ’n swart persoon ’n ander swart persoon uitgetrap het omdat hulle nie besig was om hul werk te doen nie. Die (wit Afrikaanse) student se reaksie hierop was: “As dit nou ek was, was ek op die voorblad van Beeld.”

Relax.

Om vir iemand van ’n ander ras te sê “do your job” maak nie van jou Vicki Momberg nie.

’n Ander student het aangegaan oor hoe oom Steve gesê het dit is sy land en dat witwees ’n kruis is wat hy moet dra.

Eerstens, dis nie jou land nie.

Dis ons almal se land.

Dis ons almal se land.

Dis die punt van die nuwe Suid-Afrika. Wanneer het wit mense nou weer gesê “dis óns land” . . .? O ja! APARTHEID!

Tweedens, witwees is nie ’n “kruis” wat jy hoef te dra nie. Jou Afrikanerskap is iets waarop jy kan en mag trots wees. Wanneer daardie trots oorslaan na ’n onverdraagsaamheid teenoor ander, begin dit problematies raak.

Studente, hierdie oom wil nou nie vir julle preek nie . . . maar soek jy ’n tietiebottel of soek jy ’n stem?

Die ironie is dat wanneer jy so f****n moan, klink jy nogals baie soos die sogenaamde ooms en tannies wat jou kammakastig nie kan of wil verstaan nie.

Gee jou mening. Wees dapper. Sit pen op papier en staan op vir dit waarin jy glo. Een ding weet ek egter: ’n Ope brief gaan nie van die land ’n beter plek maak nie.

  • Schalk Bezuidenhout (27) is 'n komediant en 'n gasskrywer vir Die Student. Hy het drama aan die Universiteit van Kaapstad studeer en kom oorspronklik van Kempton Park.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat?Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg ons op Instagram!
Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.