Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Seksonderrig: Ingeligte kinders neem beter besluite
Zian Blignaut

Uiteindelik is daar nou ’n voorstel vir ’n nuwe, omvattender kurrikulum vir seksvoorligting op skool. Daar is voorstelle gemaak om die vak lewensoriëntering aan te pas sodat die jonger generasie vroegtydig oor kwessies aangaande gender en seksualiteit kan leer.

Dit voed hulle op oor hul eie liggaam, hoe hulle van ander verskil en hoe om mekaar te hanteer.

Hierdeur word daar aan almal, ondanks jou gender-identiteit of seksuele oriëntasie, die geleentheid gebied om op ’n vroeë ouderdom en op ’n gesonde manier met seks kennis te maak. Dit leer hulle ’n woordeskat aan om hulleself te kan beskryf en hoe om na ander te verwys.

Dit sluit inligting oor gender-identiteit, seksuele oriëntasie en maatskaplik-bestendige geslags- en magsrolle in. In die leerplan word die biologiese en funksionele aspekte van seks ingesluit en leerlinge word opgevoed oor seksuele geweld en toestemming, insluitende wanneer en hoe om “nee” te sê. Ook hoe om swangerskap, onveilige aborsies en seksueeloordraagbare siektes te verhoed.

Laat vaar konserwatisme

Die voorgestelde kurrikulum word deur konserwatiewes soos Chris Klopper, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, en groepe soos FOR SA en die ACDP teengestaan.

Van hul uitsprake is diskriminerend teenoor enigiemand wat nie hul heteronormatiewe, patriargale riglyne volg nie en hulle vind onder meer fout met die normalisering van queer mense.

LEES OOK: Ons moet vir kinders leer oor seks'

Ek glo dit is tyd om die konserwatisme te laat vaar in ons hedendaagse maatskaplike klimaat waar ons gekonfronteer word met kwessies soos gendergebaseerde geweld wat vroue, queer mense en kinders se lewe in gevaar stel.

Sodra die opvoeding aangaande seksuele kwessies reeds tydens skooljare plaasvind en leerlinge opgevoed kan word oor die verskillende spektrums van seksualiteit en gender, kan ons makliker en vinniger diskriminasie bekamp.

Daar is talle jong queer mense vir wie dit senutergend en verwarrend is om vrede te maak met wie hulle is, wat nog te sê van die boelies en ander fundamentaliste wat hulle verder gaan afbreek in hul lewe.

SA het dit nodig

Jy kan nie ’n kurrikulum voorhou wat leerlinge leer om onthoudend teenoor seks te wees en dat dit slegs lei tot swangerskap en seksueeloordraagbare siektes nie, want dit skets nie die volledige prentjie nie.

Ek verbly my dus in die voorstelle van Unesco en Usaid om dié opvoeding in skole toe te pas. Dit is die soort vooruitgang wat ’n land soos Suid-Afrika nodig het.

Dit is die tipe vooruitgang wat ’n land soos Suid-Afrika nodig het.

So, kan mnr. Klopper en die fundamentalistiese Christen-groepe asseblief terugstaan met hul patriargale, konserwatiewe uitgangspunte en die vordering toelaat.

Almal is altyd so besorg oor wat ander mense doen en hoe dit hulle raak, terwyl dit nie hul eie lewenservaring is nie en hulle nie die persoonlike ervarings deel wat minderheidsgroepe dikwels daagliks ondervind nie.

Regte ding om te doen

As hulle so bekommerd is oor die kinders, is die regte ding om te doen om die nuwe kurrikulum te aanvaar. Leerlinge sal nie meer of vroeër seks hê as wat hulle moet nie. Inteendeel, hulle sal juis eers later seksueel aktief begin raak.

In lande wat reeds soortgelyke temas op skoolvlak aanbied, is daar eerder ’n afname in die seksuele aktiwiteite van leerlinge ná die inwerkingstelling van hierdie progressiewe temas in hul kurrikulum.

Kinders is nuuskierig en wanneer hulle seks wil hê, gaan hulle dit doen. Die nuwe kurrikulum rus hulle toe om dit op ’n veilige manier te doen. Hulle sal weet hoe hul lyf en dié van ander werk en mekaar met respek kan hanteer.

Kinders is nuuskierig en wanneer hulle seks wil hê, gaan hulle dit doen.

Geen kurrikulum is natuurlik perfek nie, maar hierdie soort opvoeding is die begin van iets belangrik wat nog verder kan verbeter. Die mense wat gekant is teen die kurrikulum moet eerder hul fokus op die foute in die leerplan plaas.

Dit is die punt

Die gevallestudies in die nuwe handboeke wat fokus op homoseksuele geweld, moet aangepas word sodat daar nie ’n verwronge beeld geskep word van queer mense as seksoortreders nie. Hierdie oortreders kan iemand van enige gender-identiteit of seksuele oriëntasie wees.

Die spektrum van seksuele oriëntasies wat aangebied word, is onvolledig en daar is ook verwarring tussen gender-identiteit en seksuele oriëntasie wat reggestel moet word. Hoewel dit kan oorvleuel, is dit nie dieselfde ding nie.

Wat die gevallestudies wel regkry, is om verteenwoordigend te wees van iets wat werklik kan gebeur en kinders se lewe in gevaar kan stel, en dit leer hulle wat om te doen in hierdie situasies.

In een van die afdelings staan daar: “The fact is, sex is part of life and like many parts of life, it can be good or bad. It all depends on the choices you make.”

Ek dink dit is presies die punt van die nuwe leermateriaal, vir kinders (en toekomstige volwassenes) om beter besluite te neem in situasies waarin hulle moontlik kan beland.

  • Zian Blignaut (29) is besig met sy meestersgraad in kreatiewe skryfkunde aan die Universiteit Stellenbosch. Hy woon in Yzerfontein.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg Die Student op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.