Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Slaan die vrou, dan slaan jy ’n gekraakte rots
Tiny Ngobeni
Tiny Ngobeni

Liewe Cyril Ramaphosa.

My naam is Tiny Ngobeni. Ek is ’n 20-jarige eerstejaarstudent aan die Universiteit van die Witwatersrand. Ek studeer vir ’n graad in chemiese ingenieurswese (BSc). Ek kom van ’n klein dorpie by Krugersdorp genaamd Rietvallei, uitbreiding 2 en 3.

Ek skryf hierdie brief omdat ek wil praat oor geweld teenoor getroude vroue en vroue in verhoudings wat in my gemeenskap en Suid-Afrika in geheel plaasvind.

Gesins- en geslagsgeweld het die norm geword in ons gemeenskappe. Daar is meer en meer aangemelde gevalle van vroue en kinders wat vermoor, ontvoer, verkrag en vir prostitusie verkoop word, om maar net ’n paar te noem.

Hierdie brief sal verduidelik waarom die meeste vroue in gewelddadige verhoudings bly en hoe hierdie verhoudings hulle en diegene rondom hulle beïnvloed.

Wees bewus van jou waarde

Die meeste vrouens word in hul eie huis deur hul eggenoot aangerand en bly om verskeie redes vasgevang in so ’n verhouding.

Sommige bly getroud omdat die bruidsgeld reeds betaal is en hulle nie na hul pa se huis wil terugkeer nie uit vrees dat die geld reeds bestee is.

Gesins- en geslagsgeweld het die norm geword in ons gemeenskappe

Hulle word ook geleer oor die belangrikheid om in hul eggenoot se huis te bly wat ook al gebeur.

Dit dui daarop dat die samelewing ook ’n bydrae hierin lewer. Vroue wat nie die slegte behandeling wil verdra nie, word as swakkelinge beskou wat as vroue misluk het.

LEES OOK: 'Beste Cyril, staar ons 'n wit volksmoord in die gesig?'

Maar ek moet vra, wat is daarmee verkeerd om jou eie waarde as ’n vrou te besef en jou tasse te pak om na jou geboortehuis terug te keer as dinge nie uitwerk nie?

Die huwelik is nie veronderstel om ’n pyniging te wees nie; ek glo dit moet ten minste veilig wees vir albei partye. Die bruidsgeld dui nie op eienaarskap nie; vrouens is nie besittings nie.

Talle voel vasgevang

Tweedens bly sommige vroue in gewelddadige verhoudings omdat hulle dink dit is die regte ding om te doen omdat hulle kinders by die oortreder het.

Hulle verdra die pyn om onder dwang seks te hê; hulle verdra die ontrouheid, die leuens en om daagliks geslaan te word, omdat hulle op hierdie mense staat maak.

Het jy enige idee hoe seer dit maak om jou ma oortrek met bloed te sien lê nadat jou pa haar aangerand het?

Al is hulle die lydende party, vind hulle steeds redes om hierdie mense te beskerm. Sommige blameer hulself vir alles waaraan hulle onderwerp word.

Ander bly vasgevang in sulke verhoudings omdat hulle gedreig word. Ander voel daar is geen lewe buite die sogenaamde verhouding nie.

Die waarheid omtrent gesinsgeweld is dat dit ander mense ook raak. Die mense naby aan die suster, ma of dogter wat mishandel word, word ook beïnvloed.

LEES OOK: Jy is nie 'n produk van jou omstandighede nie

Het jy enige idee hoe seer dit maak om jou ma oortrek met bloed te sien lê nadat jou pa haar aangerand het?

Het jy enige idee hoe sleg dit is om te hoor hoe jou pa jou ma in jou teenwoordigheid beledig?

Weet jy hoe dit voel om gedurig vir jou en jou ma se lewe te vrees?

Dit is ’n pyn wat onbeskryflik is, en een wat die moontlikheid van die dood inhou.

Die kinders ly ook

Kinders wat sien hoe die pa hul ma daagliks misbruik, word onder meer sielkundig beïnvloed.

Die meeste van hulle ontwikkel ’n gevoel van walging teenoor die pa en as dit ’n dogter is, kan hulle later ’n haat vir mans ontwikkel wat hul toekomstige verhoudings vernietig.

Dit is tyd dat vroue voorvalle van misbruik aanmeld; daar is genoeg instellings daarvoor.

Die seun kan selfs in sy pa se voetspore volg en later ook vroue misbruik. Verder kan kinders depressief raak weens die pyn wat hulle indirek ervaar deur wat hulle by die huis sien.

Dit kan lei tot swak skoolprestasie, dwelmmisbruik en selfs selfdood-gedagtes en pogings om hul eie lewe te neem, wat soms suksesvol kan wees.

Nou is die tyd om op te tree

Dit is tyd dat vroue voorvalle van misbruik aanmeld; daar is genoeg instellings daarvoor.

Moenie wag totdat dit te laat vir jou of jou kinders is nie.

Ek moedig elkeen van ons as Suid-Afrikaners aan om saam te werk om die regte van vroue te beskerm, en om dié wat dit nodig het, te help.

Ons kan nie meer wetsoortreders hê wat borgtog kry ’n dag nadat hulle in hegtenis geneem is nie.

Ons kan nie voortgaan om hierdie barbaarse en afwykende gedrag te verdra nie.

Dit is tyd dat gereg geskied wanneer sulke voorvalle aangemeld word. Ons kan nie meer wetsoortreders hê wat borgtog kry ’n dag nadat hulle in hegtenis geneem is nie.

LEES OOK: Cyril, jy moet dapper wees.

Dit is tyd dat die departement van korrektiewe dienste behoorlike strawwe afdwing. Moenie wag totdat nog ’n verkragting, moord of selfs nog ’n geval van mensehandel aangemeld word nie.

Dit is tyd dat ons optree.

Die uwe

Tiny Ngobeni

  • Tiny Ngobeni (20) studeer (BSc) Chemiese Ingenieurswese aan die Universiteit van die Witwatersrand. Sy kom oorspronklik van 'n klein dorpie in Krugersdorp, bekend as Rietvallei.
  • Hierdie berig is 'n inskrywing vir Die Student se kompetisie Beste Cyril...
  • Hierdie brief is oorspronklik in Engels geskryf. Lees die Engelse weergawe hier.
Meer oor:  Die Student  |  Bestecyrildiestudent  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.