Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Soek antwoorde vir jou probleme op regte plek

By Hom wou ek weet hoekom ons so ly... Foto ter illustrasie. Foto: Patrick Fore/Unsplash

Ek onthou die tye toe ek moes ly, die tye toe ons moes ly. Dis tye waar ek na God verlang het.

Net ’n antwoord; dalk ’n oplossing.

Ek het gesmag na God se verskyning, by Hom wou ek weet hoekom ons so ly. Natuurlik het ek geweet dat Hy die lyding kon verduidelik, maar tog het ek gehoop dat mense dit makliker sou maak om te verstaan.

Ek is nog glad nie lank op aarde nie, allesbehalwe. Sekere dinge is nog onbekend aan my, sekere dinge weet ek wel. Dinge soos die feit dat ek en jy sonder enigiets in die wêreld gekom het en sonder enigiets daaruit sal gaan.

Maar dis hier waar ek en jy gaan swaarkry, probleme gaan teëkom.

Hierdie probleme gaan ondanks vroomheid en opregtheid jou pad kruis. Dit klink dalk eenvoudig, maar dis nie iets wat aldag in ons gedagtes is nie. Daagliks verpletter hierdie probleme ons mense.

Wanneer ’n mens daaraan dink, dink jy dit is goed wat net met ander gebeur. Dis nou mense soos die laaitie in die agtergeblewe gemeenskap of die meisie wat nooit haar dwelmverslaafde pa geken het nie.

Probleme het oplossings. Altyd. Foto ter illustrasie. Foto: Joshua Earle/Unsplash

Maar hulle is nie die enigste mense met probleme nie. Die probleme val selfs die meisie aan wat gedurig die belange van haar ouers eerste moes stel ten opsigte van akademie of romanse en daarin geslaag het.

Ek praat nou van die seun wat nooit ’n egskeiding sien kom het nadat sy ouers dekades lank oënskynlik gelukkig getroud was nie.

Dis probleme wat jong vroue laat glo dat hulle oorgewig en nie goed genoeg is nie. Daardie einste laaitie van die agtergeblewe gemeenskap wat glo dat hy net nog ’n mislukkingstatistiek gaan wees. Dit alles weens dié probleme.

Wanneer ek aan probleme dink, besef ek hulle vra nie wie jy is nie. Vergeet van jou voorkoms en agtergrond. Vergeet van jou rykdom. Soms is dit voor die drumpel van jou deur, soms in jou huis of werkplek.

Probleme deurkruis die wêreld daagliks met min mense wat oplossings op die regte plek soek.

Probleme het oplossings. Altyd. Dit laat ’n mens soms vreemde dinge doen en sê, maar dis gewoonlik uit desperaatheid.

Vrede is waarna jy verlang, maar party van ons soek die vrede op verkeerde plekke. Foto ter illustrasie. Foto: Robert Lukeman

Vrede is waarna jy verlang, maar party van ons soek die vrede op verkeerde plekke. Dalk is dit in ’n bottel rum, dalk in ’n glasie wodka.

Nee wag, dalk soek jy dit in die seksuele verhouding wat jy met die tiener of oom het. Ek weet sommige studente meen altyd ’n studente-aand gaan hulle beter laat voel.

As kind het ek geglo ’n eenvoudige krieketwedstryd sal my beter laat voel.

Probleme laat mense snaakse goed dink en glo. Probleme laat mense glo selfdood sal die vrede bring wat hulle verlang.

Probleme sal daar altyd wees, maar die oplossings gaan jy nooit in die dinge van die wêreld vind nie.

My ma het gebed altyd so eenvoudig laat klink. Dis wat sy altyd voorgestel het wanneer ek by haar gepleit het dat ons ons tasse moet pak en van my tik-verslaafde pa moet vlug.

“My kind, jy sal nie verstaan nie, maar eendag sal jy.”

Dit was maar altyd haar woorde. As ek daaraan dink, besef ek die raad van my vriende en onderwysers was altyd ’n gejaag na wind. Dit het nooit die euwel van tik in ons huishouding laat verdwyn nie. Mense het dit nooit makliker gemaak om te verstaan nie.

Die wêreld kon geen oplossing bied nie, maar ek het dit by God gevind.

Die wêreld kon geen oplossing bied nie... Foto ter illustrasie. Foto: Jackson David/Unsplash

Ek wonder soms hoekom ek nie vroeër die eerste stap gedoen het nie. Ek moes kontak maak met Hom, maar ek verstaan nou dat dit die moeilikste ding is om te doen juis omdat die duiwel jou daarvan probeer weghou.

Die lewe het soms diep vrae en mense het nie altyd die wysheid om antwoorde te verskaf nie. Dis net God wat die wysheid het om die antwoorde op dié diep lewensvrae en probleme te bied. Dis by Hom waar jy die ware vrede gaan vind.

* Mario is ’n onderwysstudent in sy vierde jaar aan die Kaapse Skiereiland-Universiteit vir Tegnologie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.