Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Son, see en stres vir Desember
Elani Nell
Elani Nell

Desember-vakansie, son, see, sand en stres . . . Nee wag, kom ons probeer weer. Son, see, sand, slaap, sandkastele en stres. Oukei, iewers is duidelik iets fout.

Miskien het Desember te vinnig gekom, of miskien het die jaar net te vinnig gegaan. Maar wat dit ook al was – dit was vinnig en stresvol. Die jaar is basies verby, maar die stres bly.

Om tot by tien te tel en diep asem te haal help eenvoudig nie, want die realiteit skop in. Ek moet in 2020 inval, blindelings en sonder enige idee wat die toekoms inhou. Ek haal diep asem, maar dit werk nie.

Daar is baie in my bootjie

As ek nog een mens in die dorp raakloop wat vir my vra “en wat gaan jy volgende jaar doen?” gaan ek sowaar 27 kg se doughnuts opvreet en in ’n klein bondeltjie in die hoek van my kamer opkrul en huil. Want ek weet nie. Die ergste is die oordeel in mense se oë as jy antwoord: “Ek weet nie.”

Maar jammer, Tannie en Oom, ek weet regtig nie.

LEES OOK: Kan 'n graad nie maar met 'n werk kom nie?

Basies is ek ’n ongeslypte diamant, of seker nog ’n stuk steenkool wat wag vir die proses om te begin – dis nou as ek nie voor die tyd uitgegrou en -gebrand word nie. Ek weet ek sit nie alleen in my stres-boot vol onsekerheid nie, want die bootjie raak maar redelik vol as ek met mede- gegradueerde klasmaats praat, en die see raak al hoe meer onstuimig.

Ek reken ons is ongeslypte diamante. Laat my toe om te verduidelik. Ons het kennis opgedoen oor drie, vier of vyf jaar (ses of sewe).

Ons het hard gewerk om hier te kom en om ’n stukkie papier te kan wys wat dit bewys. En nou? Wel, nou het ons nie genoeg ondervinding nie en almal is te bang om ons aan te stel want hulle weet nie wat ons kan en nie kan doen nie.

Maar darem is ek nie alleen nie, want daar is nog duisende ander nes ek, op ander bote, nes myne.

Ons kort net almal iewers ’n kansvatter wat ’n ongeslypte diamant sal slyp en ’n begeerte, ’n bate, ’n aanwins sal maak – eerder as om ons te beskou as ’n las, irritasie of charity case.

My hart klop ’n snaakse ritme as ek dink aan hoe ek my pot aan die kook gaan hou. Want soos dinge nou lyk, gaan ek vir ’n rukkie maar van two-minute noodles leef. Maar darem is ek nie alleen nie, want daar is nog duisende ander nes ek, op ander bote, nes myne.

“Goeienaand, dames en here, en welkom by die weervoorspelling vir Desember. Dit is warm in die son en koel in die skadu. Daar sal plek-plek wolke wees en plek-plek baie son. Ons verwag ook ’n stresgolf wat veral diegene sal tackle wat klaar maak met hul studies en nog nie werk het nie. Maar dis nie al nie, ons verwag nog ’n golf, warmer as vuur, en die beheersentrum het dit geïdentifiseer as ’n Ondervindinglose Golf. Hierdie golf gaan veral studente tref, en plek-plek ook neerval op gegradueerdes. Hou hulle maar styf vas en gee hulle genoeg water – hulle gaan nie ’n goeie Desember hê nie.”

Desember-vakansie. Son, see, sand, stres, stres, stres.

  • Elani Nell (21) studeer inligtingsontwerp aan die Universiteit van Pretoria. Sy kom oorspronklik van Middelburg in Mpumalanga.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 of die Noordwes-Universiteit nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg Die Student op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.