Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Sosiale afstand kan jou nader aan mense bring

Carla Snyman
Carla Snyman

Ek sit op die stoep met ’n beker koffie in my hand. My foon lui. Dit is my ma. Vir die eerste keer in ’n lang tyd antwoord ek opgewonde: “Hallo Mamma!”

Ons praat seker vir 20 minute oor koeitjies en kalfies, niks ernstig nie. Dit is so lekker om haar stem te hoor. Nadat ons afgelui het, besef ek met ’n skok ek kan nie presies onthou wanneer ek haar laas gesien het nie. In die grootmenswêreld is dit seker nie ongehoord om jou ma min te sien nie, maar dit is erg om te weet dat sy al vir die afgelope drie weke in Australië gestrand is.

Ek deel hierdie met jou, want soos die meeste van ons al hopelik teen dié tyd besef, is dit die mense wat die belangrikste in ons lewe is. Toe ek vir die eerste keer die term “social distancing” gehoor het, het ek nie besef met hoeveel mense ek daagliks in aanraking kom nie. Of dit nou ’n kennis in Checkers of ’n vriend by die gim is, ons was in konstante kontak met ander mense.

In ’n kwessie van minder as ’n maand het ons lewe handomkeer verander en sal die samelewing seker nooit weer dieselfde wees nie. Ek weet dat daar daagliks soveel positiewe boodskappe uitgaan, maar ek hoop van harte die een boodskap wat jy sal onthou as alles verby is, is die waarde van die mense in jou lewe.

Word 'n omgee-mens

Ek hoop dat jy ten minste een persoon in jou lewe het wat vir jou bid. Iemand wat die moeite gedoen het om die laaste keer voordat die inperking begin het, gou te kom kuier.

Iemand wat vir jou sonneblomme bring, ’n buurvrou wat vir jou pa se 50ste ’n koek bak (want jy het nie kakao of ’n koekpan nie). Jou vriendin langsaan wat steeds haar “snickerdoodles” deel, al mag sy nie oorkom vir koffie nie, en ’n ouma wat bel om te hoor waar al haar kleinkinders gaan wees vir die 21 dae.

As jy nie sulke mense in jou lewe het nie, hoop ek dat jy daardie persoon vir ander sal word.

Word die vriend wat jy wens jy gehad het gedurende die inperking.

Die persoon wat jou vriendin bel omdat die isolasie besig is om haar onder te kry, of seker maak dat jou vriende met hul eie besighede darem nog kop bo water hou.

Word die persoon wat vir jou bejaarde bure gaan inkopies doen en die oom bederf met ’n sjokolade sonder dat die tannie sien. Word die vriend wat jy wens jy gehad het gedurende die inperking.

Ek weet wat jy dink: fortune cookie advice. Maar voordat jy dit afmaak as sentimenteel, dink aan al die mense wat jy in jou hart ronddra, dalk het hulle iemand net so nodig soos wat jy het.

Wat wil jy onthou van inperking?

Jare van nou af gaan ons almal verskillende herinneringe van hierdie tyd hê. Tog kan jy kies watter herinneringe jy in hierdie tyd maak.

Ek hoop dat die gelukkigste herinneringe dié sal wees waar jy en die mense wat jy liefhet moeite gedoen het om nog deel te wees van mekaar se lewe.

Tog kan jy kies watter herinneringe jy in hierdie tyd maak.

Dit is ’n uitdaging, maar as alles verby is, gaan ons ons lewe weer moet begin leef. Maar ons gaan nie kan begin waar ons opgehou het voor alles nie. Dit gaan die tyd wees wat ons mekaar broodnodig gaan hê.

Die tyd as jou besigheid net nie weer van die grond af wil kom nie of jou vriend permanent sy werk verloor het, of wanneer iemand ’n geliefde weens die virus verloor het.

Ek weet ek skets ’n troebel prentjie van die toekoms, maar dit is ons werklikheid. Tog is ek hoopvol, want as ons ons lewe van voor af weer moet opbou, hoop ek dat ons met die menslike verhoudings in ons lewe sal begin.

LEES OOK: Maak die beste van dié tyd by jou ouers

Ek weet nie wat jou situasie op die oomblik is nie en wat die toekoms vir jou inhou nie, tog hoop ek dat jy weer opgewonde sal raak as jou ma bel en dat die mense in jou lewe jou hart en siel goed doen. Because no man’s an island en die mense om ons maak ons sterker, somtyds met gelag en ander tye met ’n skouer om op te huil.

So bly by die huis, bly veilig en hou die mense wat jy liefhet baie naby aan jou hart, want op die ou einde is hulle baie meer werd as enigiets anders wat jy opgaar.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.