Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Stem net as jy regtig weet waaroor dit gaan
Heinrich Anderson
Heinrich Anderson.

Om te stem in jou land se verkiesing word bykans beskou as ’n vanselfsprekende plig. Ek het al selfs ’n artikel geskryf vir Die Student oor die belangrikheid daarvan om te gaan stem. Ek het nooit eens vir ’n oomblik gestop en gedink daaraan dat daar dalk ’n alternatiewe manier is om te kyk na jou keuse om te stem nie.

Is dit noodwendig ’n “moet”?

Die samelewing rondom ons indoktrineer ons op so ’n wyse dat ons nie regtig hierdie vraag vir onsself sal vra nie. Ons is nóg minder bereid om die moontlikheid te oorweeg dat die party vir wie ons besluit om te stem meer afhanklik is van die onmiddellike samelewing rondom ons en die koerantopskrifte wat ons lees, as wat dit afhanklik is van ons eie kritiese denke en volledige ingeligtheid oor die saak.

'n Noodsaaklike euwel

Die demokrasie word deur die meerderheid van die wêreld gebruik as die “beste slegte” struktuur vir ’n land se funksionering. Die oorsprong van die demokrasie is die antieke Griekeland se hoofstad, Athene. Dit is ook waar die filosofie gebore is. Snaaks genoeg, die Griekse filosowe van daardie tyd was almal skepties oor dié nuwe stelsel, die demokrasie.

Sokrates, beskou as die vader van westerse filosofie, was uiters pessimisties oor die idee van demokrasie. Dalk is daar ’n les om te leer uit sy teenstand oor die saak. Sy argument teen demokrasie is as volg: Verbeel jou jy en ’n groot groep mense is op ’n skip wat die diepsee moet invaar. Wie sal jy wil hê moet kies wie die boot beman en bestuur? Sommer net enige groep mense? Of liewer mense wat die nodige vaardighede daarvoor behoorlik verstaan?

Natuurlik sal jy die laasgenoemde verkies.

Sokrates vra dan dié belangrike vraag: “Hoekom sal jy dan wil hê dat sommer enigiemand ’n sê moet hê in wie die land regeer?”

Verbeel jou jy en ’n groot groep mense is op ’n skip wat die diepsee moet invaar. Wie sal jy wil hê moet kies wie die boot beman en bestuur? Sommer net enige groep mense? Of liewer mense wat die nodige vaardighede daarvoor behoorlik verstaan?

Dit is ’n komplekse besluit wat slegs deur mense met ’n volledige begrip daarvan geneem moet word.

Sokrates se argument stel nie elitisme voor nie. Dit lê eenvoudig klem op die volgende: tensy ’n burger volledig ingelig is oor die land se politiek, ’n behoorlike begrip het van elke party as ’n geheel, en deeglik gedink het oor hul keuse, moet hy nie eintlik ’n sê hê in wie die land regeer nie.

As nie elke burger wat stem voldoen aan hierdie basiese vereistes nie, dan is ons land se toekoms meer afhanklik van demagogie as van demokrasie. Demagogie floreer in die teenwoordigheid van onkunde. Benadeel dit nie dan die land as iemand stem sonder dat hul stem gebaseer is op ingeligte, rasionele denke nie?

So, gaan ek stem?

Ek moet die spieël objektief bestudeer.

Ek sou in die verlede myself beskou as iemand wat ingelig is oor my land se politiek, maar dalk was ek verkeerd. Ek besef dat my politiese uitkyk meestal gebaseer is op die uitkyk van die onmiddellike samelewing rondom my.

Dit is gebaseer op die gesprekke, tussen volwassenes, wat ek afgeluister het deur die loop van my tienerjare. Dit is gebaseer op die nuusopskrifte wat ek lees op borde van Die Burger. Dié burger het nie eens die volle artikel gaan lees nie, maar steeds sou ek maak asof ek presies weet in watter politiese toestand ons land is, vir watter party ek moet stem en hoekom.

Ek is seker ek is nie die enigste persoon op die skip wat eintlik nie genoeg weet van seevaart om deel te wees van die aanwys van die kaptein nie.

So, gaan ek stem?

My huidige antwoord: nee. Ek het vereistes waaraan ek eers sal moet voldoen.

  • Heinrich Anderson (18) studeer BCom Ekonomie aan die Universiteit Stellenbosch. Hy kom van Durbanville.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Hierdie artikel is ‘n inskrywing vir Die Student se kompetisie oor die verkiesing. Lees die ander inskrywings hier.
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Verkiesingdiestudent  |  Verkiesing2019  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.