Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Stigma van depressie in die kerk

Die duisternis het ’n naam en dit is depressie. Oorverdowende stiltes waarin ek te bang is om te skree, want wat as iemand my noodroep hoor?

Ek sukkel om te verwoord wat ek voel en nog minder kan ek verduidelik wat in my kop aangaan. Depressie is ’n stille stryd van eensaamheid en verlatenheid, van angs, twyfel en hopeloosheid.

Tussen die vier mure van die kerk word daar min oor depressie gepraat.

Melissa van EedenFoto: Verskaf

Dominee is elke Sondag op sy pos om te preek oor hoe om meer “Christelik” te leef.

Tog besef Dominee nie dat ek soms struikel en sukkel om my kop bo water te hou en aan my geloof vas te klou wanneer die stemme in my kop leuens wat as waarheid blyk, in my oor fluister nie.

Of van die oorweldigende angs wat my binneste laat inmekaar tuimel nes ’n gebou wat inplof nie.

Wanneer ’n Christen bieg dat hulle depressie het, word hulle óf gebrandmerk óf ’n pleister met ’n Bybelversie word op hul arm geplak.

Hier lê die kerk se leemte

Die stigma van depressie is nes ander sonde, geestestoestande en siektes onderwerp aan ander se oordeel en hoe die brandmerk (D) jou identiteit en wese beïnvloed.

Daar is ’n leemte in die kerk om gebroke te wees omdat gelowiges voorgee dat hulle genees is van hul wonde, dat hul sonder fout of sonde is, dat ander minder van hulle sal dink as hulle eerlik is oor die toestand van hul verhouding met God en hul struikelblokke in geloof.

Die pleister met ’n Bybelversie herinner my aan die pleisters wat ons gehad het as kind, dié met Disney-karakters daarop.

Hoewel die psige agter Skriftelike genesing miskien anders is as dié van Disney-pleisters, is daar wel die idee en geloof dat die bedekte (en miskien selfs gesalwe) wond sal genees.

Indien mens om hulp roep, is daar die verwagte kruisiging dat jou geloof nie sterk genoeg is nie.

Tog meen die stigma dat as ’n mens net bid en Bybel lees, depressie genees sal word. Indien mens om hulp roep, is daar die verwagte kruisiging dat jou geloof nie sterk genoeg is nie – daarom word jou gebede nie verhoor nie en word jy nie genees nie.

Dis nie aldag ’n saak van geloof nie, maar eerder om die situasie as ’n legkaartstuk te gebruik om God se meesterstuk, die groter prentjie, uit te beeld.

God hoor jou gebede, al voel dit nie so nie.

In Johannes 9:3 wys Jesus op die idee dat ’n mens nie noodwendig deur donker dieptes gaan as gevolg van sonde nie, maar sodat God daardeur verheerlik kan word. Al te dikwels voel dit asof jy net hier is, maar God het ’n plan met elke ding in jou lewe – die goed (die lig in jou lewe), maar so ook die sleg (die duisternis en donker dieptes waarin ons soms moet loop).

Waar is God?

In duisternis blyk die Lig om dof te wees. Jy stap die pad alleen, in eensaamheid is jy geïsoleer van alles en almal wat eens vir jou die wêreld beteken het. Selfs jou stem laat jou in die steek as dit stom word en jou woorde en noodroepe terugtrek. Sal God my stil gebede hoor, en verhoor?

God hoor jou gebede, al voel dit nie so nie – en die doel van gebed is nie noodwendig om jou situasie te verander nie, maar om jou te verander.

Mag ons die stigma van depressie in die kerk afbreek en ’n gesprek begin om mekaar te ondersteun, eerder as om mekaar te oordeel.

• As jy depressiewe of selfdoodgedagtes het, praat met vriende of familie, of bel Sadag by 011 234 4837 of 0800 567 567.

  • Melissa van Eeden is ’n derdejaar bemarkingstudent aan Unisa. Sy kom van Roodepoort.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg ons op Instagram en Facebook

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

Meer oor:  Mening  |  Suid-Afrika  |  Die Student
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.