Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Stop tog met sinnelose staptogte

Die tweede jaarlikse Slut (Start letting us talk) Walk is weer vanjaar by Universiteit Stellenbosch se hoof- en Tygerbergkampus gehou.

Die mikpunt van hierdie staptog is om vroue te bemagtig en die verkragtingskultuurte beveg deur vir vroue die geleentheid te gee om aan almal te wys dat hulle “vir hulself aantrek en nie vir iemand anders nie”.

Die geleentheid word deur die studenteraad en ander studenteorganisasies op kampus gereël.

Kort ná vanjaar se Slut-staptog sit ek egter weer met my hande in my hare soos ek probeer uitpluis wat die groepie van seker so 100 studente werklik met hierdie staptog uitgerig gekry het.

Dit is nou maar eenmaal so dat ’n klein groepie mense wat halfnaak deur die strate van Stellenbosch stap nie vir enigiemand iets leer nie.

Daar was mense in onderklere, een of twee vroue naak met kleefband om hulle borste minimaal te bedek, een verlore Black Lives Matter-plakkaat (ek wonder nou nog hoe daardie veldtog by hierdie een inskakel) en ’n spreker wat die gehoor toegespreek het met ’n toespraak waarin sy Winnie Madikizela-Mandela se afsterwe probeer invleg het by die geleentheid.

Liberale studente hou daarvan om sulke geleenthede te reël. Die bewoording van hul mantra en uitgangspunt is gewoonlik sterk oortuigend. Hulle sing struggle-liedjies terwyl hulle stap en dink dat hulle binne ’n kwessie van ’n uur die wêreld (of ten minste die kampus) verander het.

Dit is vir my te betwyfel of hul boodskap, dat vroue aantrek vir hulself en nie vir iemand anders nie, regtig so waar is soos hulle dink. Ja, ’n mens trek aan om jouself uit te beeld en om selfvertroue in hoe jy lyk te hê. Maar terselfdertyd is dit kortsigtig om aan te voer dat jy uitsluitlik vir jouself op ’n bepaalde manier aantrek. ’n Mens doen dit tog om raakgesien te word en om ’n indruk van jouself te skep. Dit volg tog net logies van die premis dat ’n mens aantrek om selfvertroue in jou voorkoms te hê. Dit is myns insiens ’n klug wat liberales weier om te erken.

Kom ons praat eerder as om te loop

Emile Opperman.

Tydens die geleentheid kon ’n mens ’n paar van die toeskouers hoor soos hulle vir mekaar probeer verduidelik dat hierdie staptog niks beter maak nie. Sommiges het onder mekaar gemeen dat die Slut-staptog dinge vererger – die gaping tussen mans en vroue vergroot.

Dit is nou maar eenmaal so dat ’n klein groepie mense wat halfnaak deur die strate van Stellenbosch stap nie vir enigiemand iets leer nie. ’n Beter oplossing sou dalk wees om ’n forum hieroor te hou sodat die gesprek ten minste meer interaktief en veelsydig kan wees.

Dit is lank reeds my mening dat die ver linkses nie eintlik so gretig opinies van die meer konserwatiewe stemme verwelkom nie. Dit is my hoop dat ons minder sinnelose staptogte op kampus sal hou en dat ons eerder met mekaar in gesprek sal tree en vir mekaar iets leer oor ons oortuigings en opinies.

Miskien sal ons dan werklik as ’n studentegemeenskap dit regkry om die gapings te vernou en ’n eenheid te vorm.

  • Emile Opperman (20) studeer regte aan die Universiteit Stellenbosch. Hy is oorspronklik van Kaapstad.
Meer oor:  Stellenbosch  |  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.