Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Studente, dis tyd om ons stemme dik te maak!
Divan van Wyk
Divan van Wyk

Studente het deur die geskiedenis nog altyd opgestaan teen ongeregtigheid.

Van die Soweto-opstande in 1976, tot die Amerikaanse “March for Our Lives” en #MeToo in 2017, en die beweging waarvoor my generasie nog lank onthou sal word – die #FeesMustFall-opstande.

Korrupsie-uitputting

Studente is die nuwe stemme wat veronderstel is om te baklei vir ’n vrye en regverdige samelewing in Suid-Afrika, maar dit is besig om vinnig te verander.

Ek het die eerste keer die term “korrupsie-uitputting” (corruption fatigue) in Jacques Pauw se boek The President’s Keepers raakgelees.

Die term beskryf basies die nonchalante houding wat ons as samelewing (veral studente) teenoor stories rakende korrupsie ontwikkel het.

Dit het gebeur as gevolg van ’n tydperk waarin jy aanmekaar in die woorde “Nkandla”, “brandpoel”, “Gupta” en “onwettige tender” vasgekyk het.

(Die koerantagterblaaie se opskrifte was gedurende die tyd ook: “Bokke verloor weer”, maar dit is seker bietjie te ver om dit aan korrupsie toe te skryf . . .)

Ai, dis nou sleg

Om dit in plein Afrikaans te stel: Mense het gatvol geraak om te hóór van korrupsie in Suid-Afrika.

Grensverskuiwende stories deur ons land se beste joernaliste wat in ’n ander milieu tot nasionale protes sou lei, word nou met niks meer as “ai, dis nou sleg” ontvang nie.

Om dit in plein Afrikaans te stel: Mense het gatvol geraak om te hóór van korrupsie in Suid-Afrika.

Ons as studente druk gesamentlik ons koppe in die sand met die sentiment dat as ons nie daarvan weet nie, dit ons nie kan ontstel nie.

Die vraag vir mediahuise en politieke partye het verskuif van “Hoe kry ons die boodskap by mense uit?” na “Hoe kry ons mense om om te gee?”

Jy is seker besig om in dié stadium vir jouself te vertel dat jy nie soos almal anders is nie, en dat jy weet wat in jou land gebeur.

LEES OOK: Korrupsie versmoor die SAID

Vra jouself dié vrae: Hoeveel weet jy werklik van die staatskapingskandaal? Die Prasa-tenders? Staatsgedrewe smeerveldtogte teen SAID-werknemers wat regeringsamptenare aanspreeklik hou? Om maar net ’n paar te noem.

Die belangriker vraag is: Wat het JY daaromtrent gedoen?

Ons moet aktief die besluit neem om elke dag in ons eie omgewing korrupsie en ongeregtigheid teen te staan.

Om net ’n inskrywing op Facebook te like is nie genoeg nie. Ons moet aktief die besluit neem om elke dag in ons eie omgewing korrupsie en ongeregtigheid teen te staan.

Almal het ’n vriend wat op Facebook ’n prentjie van ’n mooi berg met die woorde “Be the change you want to see in the world” geplaas het.

Ongelukkig was Berta op Facebook reg. Groot verandering begin by ’n groep mense wat almal besluit om individueel ’n klein verskil te maak.

Maak jou stem dik

Hou jou SR, jou gemeenskap, jou stadsraad en jou politieke party aanspreeklik.

Skryf briewe oor onderwerpe waaroor jy passievol is, teken petisies en raak aktief betrokke by ’n struktuur wat teruggee aan die gemeenskap.

Skep binne jou eie omgewing ’n kultuur van aanspreeklikheid, en verbeel jou net hoe mooi ons Suid-Afrika kan word as 56 miljoen Suid-Afrikaners dieselfde doen.

Skep binne jou eie omgewing ’n kultuur van aanspreeklikheid, en verbeel jou net hoe mooi ons Suid-Afrika kan word as 56 miljoen Suid-Afrikaners dieselfde doen.

Ons is tans op ’n koers waar ons opsetlike onkunde lei tot laer openbare aanspreeklikheid vir die mense wat daagliks besluite maak wat ons vooruitgang as samelewing bepaal.

LEES OOK: Jong, wit SA’ners voel nie welkom in SA

Suid-Afrika het sy studente nodig om hul stem dik te maak en selfs die mees gesoute politikus mooi te laat verstaan dat hulle nie met ons toekoms kan speel nie.

Suid-Afrika kan nie meer corruption fatigue bekostig nie. Die verskil gaan by jou begin.

  • Divan van Wyk (21) studeer Bcom Kommunikasiebestuur aan die Noordwes-Universiteit. Hy kom oorspronklik van Krugersdorp.
  • Wonder jy hoe studente se koppe werk? Lees al die meningstukke hier.

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.