Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Suid-Afrika, ons staan oopmond, grootoog en met gebalde vuiste'
Sybrand Harris
Sybrand Harris

She wasn’t drunk. She wasn’t wearing anything provocative. She wasn’t being a smart ass. She wasn’t walking around at odd hours. She merely went to collect a package at the post office, during the day. But she was still raped and killed. I give up.”

– Lady Kuda

Die bevestiging van die dood van Uyinene Mrwetyana het Suid-Afrika en myself tot stilstand geskok. Die onmenslike en barbaarse omstandighede waaronder sy dood is, laat ’n mens moedeloos, kwaad en hartseer.

Ons wil iets sê om dit beter te maak, maar daar is niks te sê nie. ’n Jong vrou se lewe is brutaal geneem en dit los ’n mens met ’n verlammende stilheid. Nie ’n enkele woord kan die impak van hierdie misdaad, of elke misdaad voor dit, verlig nie.

Wie kan ons kwalik neem?

My hart gaan in onverstaanbare ongeloof uit na haar vriende en familie wat moet vrede maak en afskeid neem van ’n dogter, ’n sussie en ’n vriendin wie se lewe geneem is deur ’n versteurde, ondenkbaar selfsugtige man.

’n Jong vrou se lewe is brutaal geneem en dit los ’n mens met ’n verlammende stilheid.

En die res van die land staan oopmond, grootoog en met gebalde vuiste. Ons beskuldig die land. Ons beskuldig die regering. Ons beskuldig mans. Ons is moeg. Ons is seer. Ons is moedeloos. Ons soek antwoorde. En ons soek regverdigheid wat lank nie meer blyk in hierdie land te wees nie!

Die hoop vir die toekoms van ons land en ons hoop vir ons toekoms as ’n individu in hierdie land hang aan ’n dun garinkie van pessimisme. En wie kan ons kwalik neem?

Almal het genoeg gehad

Vandag het my garinkie, wat ek deesdae so mooi probeer versorg en versterk, ook uitgerafel. Tot op die heel laaste veseltjie, totdat ek besef het: Ons kan nie toelaat dat die verkragter en moordenaar van Uyinene Mrwetyana nog iets by enigiemand neem nie.

Nie moed vir die toekoms, hoop vir ons land óf ’n strewe na gelykheid en veiligheid vir vroue nie. Hy het genoeg geneem!

Uyinene was killed in a post office . . . An entire f*ckin’ post office . . . A government owned entity! . . . Women really are not safe anywhere in this country . . . Next we’ll be killing them in parliament . . . My gender disgusts me. #UyineneMrwetyana – Njabulo Ndaba

Die regering is blind en naïef genoeg om selfs ná hierdie voorval te twiet dat vroue nie moet “toelaat” dat sulke dinge met hulle gebeur nie (wát?).

Ja, ons land se regstelsel laat ons liederlik in die steek. Die regering is blind en naïef genoeg om selfs ná hierdie voorval te twiet dat vroue nie moet “toelaat” dat sulke dinge met hulle gebeur nie (wát?).

Ons land is onderdompel in misdaad. Geslagsgegronde geweld is endemies in Suid-Afrika en wêreldwyd. Dit word dikwels onder die mat gevee. Vreesbevange vroue moet elke dag oor hul skouer kyk. Onskuldige mense word elke minuut slagoffers van ondenkbare misdade.

LEES MEER: Vroue staan met een voet in die graf

Dit is ongelukkig alles waar.

Maar, wat ook waar is, is dat álmal genoeg gehad het. Wat waar is, is dat die burgers van hierdie land in eksponensiële getalle in die meerderheid is teenoor die regering en die misdadigers. So ook ons strewe na vrede, gelykheid en ’n veilige omgewing vir elke man en vrou om in te leef. Daardie waarheid kan meer gewig dra as al die onmenslikheid wat om ons gebeur.

Ek doen ’n beroep op elke Suid-Afrikaner om nie moed op te gee en hoop te verloor nie. Mans, vroue, swart, wit, oud, jonk, arm, ryk. Kom ons staan saam, kom ons praat saam, kom ons doen saam en rig ons fokus op die mag wat ons as burgers van Suid-Afrika het in ons meerderheid en ons gesamentlike visie.

Hierdie euwel het verskillende wortels van kwaad wat diep en vieslik sterk in ons samelewing staan. Dit word sosiaal, sielkundig, geskiedkundig en polities versterk.

Ek doen ’n beroep op elke Suid-Afrikaner om nie moed op te gee en hoop te verloor nie.

“Someone’s uncle, possibly someone’s father, brutally raped and murdered this girl. Breaks my heart. When are we gonna address the fact that the problems start at home? What is happening to this world? She died for literally being a woman, this is so senseless.” – Karabo Nirvana

Begin by die huis. Seksistiese grappies, diskriminerende praatjies, onderliggende geboelie, emosionele manipulasie, tekens van fisieke mishandeling en ’n gebrek aan respek teenoor die ander geslag is nie snaaks of oukei nie. Dit is die begin van die versterking van ’n gedragspatroon en onderbewustelike denke wat geslagsmeerderwaardigheid tot gevolg het. ’n Baie gevaarlike denkproses.

Nie net moet ons by die huis begin praat nie, maar ook in die werkplek, in sosiale kringe en saam met vreemdelinge wat ook genoeg gehad het. Meer as wat reeds gepraat word. Ons moet die regering, die regstelsel en ons land se veiligheidstelsels aanvat, bevraagteken en uitdaag. Ons het die mag as burgers van ’n demokratiese land!

LEES OOK: Is ek dalk volgende?

Kom ons verlam die misdadigers en die regering en die mense wat ons in die steek laat deur hulle mag te smoor in ons gesamentlike stem.

“Imagine going to the post office. The post office! and not coming out alive. We are tired. All of the women around me is tired. When is enough going to be enough?”

– Zandile Ngobeni

Ons moenie hoop verloor nie. Ek weet dit voel onmoontlik – ek het amper. Maar ons moet ons hoop behou en geregtigheid vind vir elke Reeva Steenkamp, Jesse Hess, Sharnelle Hough and Uyinene Mrwetyana!

Teken die petisie om die regering te dwing om die stryd teen geslagsgedrewe geweld in Suid-Afrika te prioritiseer.

  • Sybrand Harris (23) is ‘n finale jaar veeartsenykunde student aan die Universiteit van Pretoria se Onderstepoort-kampus. Hy is gebore in die bosvelddorpie, Louis Trichardt, en het aan die Hoërskool Ermelo gematrikuleer. Hy is ook 'n ambassadeur vir Afrikaans.com.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie. 
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg Die Student op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.