SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Die Student
Taalskande in die onderwys

Ek is die eerste keer hierdie jaar gekonfronteer met ’n omgewing waar dit algemeen is om die enigste Afrikaanssprekende in ’n vertrek te wees.

Dit klink dalk absurd maar as iemand wat haar hele skoolloopbaan in Afrikaanse skole deurgebring het, was die enigste plek waar ek nie Afrikaans gepraat het nie, die Engelse klas. Die gedagte om in ’n ander taal onderrig te word – anders as die een wat ek by die huis praat – was iets waaraan ek nooit gedink het nie.

Dit is hoekom ek altyd ’n ongemaklikheid in my bors voel wanneer ek mense van die afskaffing van Afrikaans op universiteitskampusse hoor praat.Afrikaanssprekendes besef eers die probleem wanneer dit op hulle van toepassing is en wanneer dit selfs te laat is.

Moedertaalonderrig en die Grondwet

Moedertaalonderrig is ’n groot probleem in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel. Die Grondwet verklaar dat “almal die reg het om onderrig te ontvang in die amptelike taal of tale van hul keuse”, terwyl dit in werklikheid slegs vir gr. 1 tot 3 geld. Die meerderheid van skoolgaande Suid-Afrikaners word gedwing om in ’n tweede of selfs derde taal onderrig te ontvang, naamlik Engels of Afrikaans.

Ek sê hierdie met die wete dat baie mense se aandag dadelik verdwyn die oomblik wanneer die woord “privilege” gebruik word, maar Afrikaans en Engels geniet ongetwyfeld voorregte in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel.

Dit is die enigste twee tale waarin die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen afgelê mag word, wat beteken dat jy minstens een van daardie twee tale magtig moet wees om toelating tot ’n universiteit te kry.

In ’n land met 11 amptelike tale glo ek is dit ’n skande.

Ek het dit nooit eens bevraagteken om in my moedertaal te leer nie. Dit is moontlik vir my om as Afrikaanssprekende te kies om my lesings en studieklasse in Afrikaans te kry, waar Xhosa- of Zoeloesprekende studente nie dieselfde keuse het nie.

Ná ’n lesing oor moedertaalonderrig in Suid-Afrika het hierdie kwessie vir homself ’n plekkie in my brein gereserveer. Ek kon nou uiteindelik verstaan hoekom die opslae oor die “onderdrukking” van Afrikaans my so ongemaklik maak. Op universiteitsvlak kry Afrikaans ’n voorsmaak van die behandeling wat ander tale in Suid-Afrika kry – ’n taal wat nie gepas is in akademiese ruimtes nie. Daar moet jy na Engels oorskakel.

Ek sal vir die res van my lewe die lesing onthou waarin die dosent ons gevra het om ons hande op te steek as ons in ons huistaal skoolgegaan het, of anders gestel, geleer het in die taal wat ons by die huis praat. Studente van kleur het openlik na hul asems gesnak toe ’n groot groep van ons ons hande opsteek. Dit is toe dat ek my bevoorregting besef het.

Ek het dit nooit eens bevraagteken om in my moedertaal te leer nie. Dit is moontlik vir my om as Afrikaanssprekende te kies om my lesings en studieklasse in Afrikaans te kry, waar Xhosa- of Zoeloesprekende studente nie dieselfde keuse het nie.

Niemand moet benadeel word nie

Hiermee sê ek nie dat Afrikaans heeltemal afgebreek moet word nie, maar dat gekyk word na ongelykhede wat taal betref.

Afrikaans se ongemaklike posisie op universiteite is ’n gevolg van probleme wat nie aandag geniet nie, naamlik dat ander amptelike tale nie dieselfde ondersteuning geniet nie. Onder apartheid het Afrikaans en Engels ’n voorsprong geniet en hulle is onder meer gevestig as tale wat vir onderhandelinge op akademiese vlak geskik is – nou is dit nodig dat ander tale wat onder die apartheid-regime as “primitief” beskou is, dieselfde ondersteuning ontvang.

Anje-Mari le Roux.

’n Probleem kan net opgelos word wanneer dit getakel word en ek glo dat die bevordering van ander amptelike tale ’n begin kan wees.

Taalwetenskaplikes het bepaal dat ’n mens moeilike konsepte die beste verstaan wanneer dit vir jou verduidelik word in die taal wat jy die beste verstaan. Dit is hoekom ek glo dat my medestudente nie benadeel moet word net omdat hulle nie in Engels of Afrikaans grootgemaak is nie.

Om op universiteitsvlak hierdie probleme te probeer oplos, sal onproduktief wees. Daar moet by die bron begin word. As gekyk word na die Grondwet, kyk na die miljoene leerlinge wie se skoolloopbane in direkte kontras is met wat aan hulle belowe word – om in hul taal onderrig te word.

Suid-Afrika is ’n land wat beslis nie ’n tekort het aan tale of kulture nie en ons streef eintlik maar net na inklusiwiteit in ruimtes waar ’n verskeidenheid van hierdie tale en kulture op ’n daaglikse grondslag met mekaar te doen het.

  • Anje-Mari le Roux (19) is 'n eerstejaarstudent aan die Universiteit Stellenbosch. Sy studeer BA Taal en Kultuur en kom oorspronklik van Parow, Kaapstad af.
Meer oor:  Stellenbosch  |  Menings  |  Taal  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.