Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Toksiese patriargie eis die paai van mans se gevoelens
Mizanne Hattingh
Mizanne Hattingh

#notallmenaretrash. Dit is die hutswoord wat gewildheid begin kry het in die onlangse opstand op sosiale media teen geweld teen vroue.

Dit is ’n perfekte voorbeeld van hoe ’n toksiese patriargie ons gekondisioneer het om te glo dat mans se gevoelens bó alles beskerm moet word.

Kyk, ek sê hoegenaamd nie dat elke man onder dieselfde sambreel van verkragters en moordenaars val nie. Ek sê ook nie die seer wat mans beleef as gevolg van verkragting wat nie waarde dra nie (omdat meeste mense dink mans kan nie deur vrouens verkrag word nie) is nie ’n werklikheid nie. Dis net nie die onderwerp van vandag se gesprek nie.

Ons land rou, ons land is naar. Uiteindelik het die pruttende pot van onderliggende woede ontplof. My vraag is egter, hoekom moes ’n paar eers sterf om ons wakker te skud?

My ander vraag is natuurlik of die sosialemedia-opstand net weer gaan wegkwyn? Gaan dit net weer val op die skouers van diegene wat nie bang is om hulself ’n feminis te noem nie? Gaan dit stil word nes die leiers van ons land in hierdie chaos?

Die harde realiteit waardeur ons in die gesig gestaar word, is dat verkragting nie gaan afneem terwyl sekere denkwyses in ons land voortduur nie.

Verkragting is ’n hartseer, dringende realiteit. Niemand wil daaroor praat om die etenstafel nie. Niemand wil daaroor praat by ’n kuier nie. Niemand wil daaroor praat by ’n koffiewinkel nie. Die harde realiteit waardeur ons in die gesig gestaar word, is dat verkragting nie gaan afneem terwyl sekere denkwyses in ons land voortduur nie.

Wat leer ons vir ons seuntjies?

Ons leer ons dogtertjies om dit en dit en dit te doen om hulself te beskerm. Ons vertrou nie die mense daar buite nie, daarom mag ons dogters nie alleen uitgaan nie. En ons seuntjies? Wat leer ons vir ons seuntjies? Tannie wat voor in die kerk sit, met jou man op die kerkraad, dis jou seun wat ’n verkragter is. En wat doen jy? Verskuif net die blaam.

My kind sal mos nooit so iets doen nie. Dit moet jy wees. Wat het jy aangehad? Is jy seker jy het nee gesê? Het jy nie te veel gedrink nie? Dis jou skuld.

Dis jou skuld.

LEES OOK: 'Suid-Afrika, ons staan oopmond, grootoog en met gebalde vuiste'

Verkragting is nie altyd gewelddadig nie. Dis nie altyd ’n mes teen die nek nie. Dis in ’n sitkamer deur iemand wat jy vertrou het.

Maar verkragting is ook ’n skaal teen die kop deur ’n 42-jarige poskantoorwerker. Dis ook die klip wat op iemand se kop laat val is. Dis die steel van ’n sesjarige uit ’n speelarea en die bloed in ’n badkamer.

Dis oumas, dis ma’s, dis dogters. Dis mense.

Dis mense.

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.