Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Totsiens bier, brood en pasta . . .
Dianri Wessels
Dianri Wessels. Foto: Martin de Kock

Ek het die afgelope 21 jaar vreesloos deur die lewe gegaan en geëet en gedrink net wat ek wou. My rustige lewe het onlangs in ’n oogwink verander ná die e-pos van my dokter. Ek ly aan gluten-intoleransie! Koebaai bier, brood en pasta!

Ek was nog nooit regtig gepla oor gesonde kos en diëte nie. Pizza en pasta was nog altyd my stapelvoedsel en ek het die vermoë om ’n vyfster-ete met two minute noodles te maak. As ek kuier, sal jy my ook nie sommer sonder ’n Castle Light in my hand sien nie. Helaas sal ek nou ongelukkig al dié lekkernye moet los.

Ek moet bieg, ek moes eers ’n bietjie gaan navorsing doen oor wat gluten nou eintlik is. Omdat ek nog nooit belanggestel het in gesondheid en diëte nie, het ek nie regtig geweet watter kossoorte gluten bevat nie.

Lang storie kort, omtrent alles bevat gluten. As jy net wonder of iets dalk gluten bevat, is die kanse groot dat dit wel so is. My voorland is om elke etiket haarfyn te bestudeer om seker te maak dat daar geen spore van die gluten-monster is nie!

As jy dink ek is te dramaties as ek sê dat byna alles gluten bevat, gaan kyk ’n bietjie na die etikette.

As jy dink ek is te dramaties as ek sê dat byna alles gluten bevat, gaan kyk ’n bietjie na die etikette. Ek kan nie meer Nesquik in die aande drink nie, ook nie meer ’n 5 Star-sjokolade eet nie, en die ergste is dat ek nie meer my soesji in sojasous kan doop nie. Wat bly nou eintlik oor wat lekker is?

Ek raak nou gewoond hieraan

Toe ek my vriende die nuus vertel, het almal my probeer gerusstel dat daar baie gluten-alternatiewe is. Hulle is reg. Daar is baie in die wêreld, maar ongelukkig net nie so baie in Suid-Afrika nie. Ek het talle winkels platgeloop vir alternatiewe en kon byna niks kry nie. Dit wat ek wel kon kry, kos drie keer meer as gewone produkte. Suid-Afrikaanse winkels maak ongelukkig net nie voorsiening vir ons arme klomp wat nie oor die weg kom met die gluten-monster nie.

As ek na die glas halfvol kyk, is daar wel baie voordele aan hierdie nuwe leefstyl verbonde. Die eerste is dat ek seker baie gewig gaan verloor. Aangesien ek nie meer my lippe aan bier, brood en pasta kan sit nie, gaan ek sekerlik baie vetjies afskud. My ma is seker só verlig dat ek nou nie meer bier drink nie, want “ ’n meisie drink nie bier nie!”.

Die grootste voordeel van dié nuwe dieet is dat ek meer energie sal hê en nie ná elke ete soos ’n Oros-mannetjie gaan voel nie.

Die grootste voordeel van dié nuwe dieet is dat ek meer energie sal hê en nie ná elke ete soos ’n Oros-mannetjie gaan voel nie.

Hoewel ek baie geskok en hartseer was toe ek die e-pos van my dokter ontvang het, begin ek nou meer gewoond raak aan die hele verandering. My vriende en familie sal dit net saam met my moet doen en my nie in die versoeking moet lei nie. Dit laat my darem ook beter voel om te hoor hoeveel ander Suid-Afrikaners ook in hierdie penarie is.

Totsiens, al die lekkernye in die wêreld. Hallo, gesonde Dianri!

  • Dianri Wessels (21) is 'n derdejaarstudent aan die Universiteit van Pretoria. Sy studeer BCom menslikehulpbronbestuur. Sy woon al haar hele lewe in Pretoria en het gemartikuleer aan die Hoërskool Garsfontein. Sy sing tans ook in die Tuks Camerata.
  • Meningstukke is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg Die Student op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

x

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.