Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Totsiens Tukkies, dankie vir 'n dekade!
Handré Meyer
Handré Meyer

Ek en my kampus – ’n dekade van saamwees.

Ek stap met ’n blye hart uit die lokaal. Die verligting spoel oor my – ek is klaar. Ná tien jaar, en vier (tegnies vier en ’n derde) kwalifikasies is my dae as universiteitstudent aan die UP verby. Ek stap by die teologiefakulteit ná ses jaar uit en besluit om vir oulaas deur die geliefde kampus te stap waar ek in meeste van die fakulteite iewers iets gedoen het oor die jare . . .

Om te onthou

Ek wandel deur die laaste dekade van my lewe en ek beleef ’n tikke heimwee oor die vervloë dae.

Ek verloor myself in die nostalgie. Ek onthou my eerste eerstejaar in 2010 en koffies in die Hub by Universiteitsoord, maar veral die FIFA Sokkerwêreldbeker waar ons Argentyne in die Square stil gesing het met ons volkslied, alle Suid-Afrikaners saam. Ek beleef dat verandering wel die enigste onveranderlike is as ek die kampus van toe vergelyk met vandag s’n.

Ek beleef dat verandering wel die enigste onveranderlike is as ek die kampus van toe vergelyk met vandag s’n.

Ek dink weer aan koshuiskuiers, hoewel ek ’n daily was. Ek onthou vriende saam met wie ek begin het en sonder wie ek eindig, vriende wat ek later eers ontdek het, vriende wat bygekom en weer gegaan het en alles tussenin.

Ek dink aan my vrou wat ek hier ontmoet het. Verhoudings, vriendskappe, partytjies, klas, kuiers, funksies en ’n eindelose aantal geel vormpies voor eksamens. Dit alles het ek beleef en meer.

Die geboue leef

Ek stap by oom Gert verby en onthou die gesprekke oor ’n bier ná klas, die wense na meer, die wonder oor die toekoms. Ek stap verby die B-Com-fakulteit na die grasperke voor die dienssentrum en beleef weer menings uitdeel en lag onder die bome, kuier in die piazza, verkyking en vergaping aan mense wat verby stap.

Ek verdwaal in my gedagtes een laaste keer in die GW en onthou die uitsig van die boonste vloer af. Ek asem die biblioteek een laaste maal in met die eeue se kennis daarin vervat. Ek bou weer molekules in die Groot Chemie-gebou en besef niemand weet steeds waar die Bio-labs is nie. Ek huil weer oor moeilike toetse in die Kanseliersgebou en slaag weer prakties in die NW-gebou.

Al daardie emosies

Ek drink weer koffie by Haloa, want Fego’s is al lankal toe, en onthou toe Coffee Buzz vir ons ’n boks gegee het om al ons koffie in te dra. Ek kry die ingenieurs by Steers jammer en hoop hulle is gelukkig. Ek ril weer oor Fisika in die A.E du Toit en lag oor die daggaplantjies by die Ou Plantkundegebou.

LEES OOK: Amper klaar geswot en my keel trek toe . . . 

Ek stap verby die Amfi en onthou hoe hierdie arme outjie net wou hoor wat aangaan en amper onderstebo gehardloop is met wat die begin van wat later #FeesMustFall sou word. Ek stop by Burgundy’s en dit gee my ’n pure oomblik van nostalgie – dit is waar ek en my vrou die eerste keer alleen koffie gedrink het. Beleef die kampus, my kampus, een laaste keer.

Om dankbaar te wees

Dankie UP. Dankie my kampus. Jy was die konstante hierdie laaste dekade waar alles in my en om my verander het. ’n Gerustheid, ’n vastigheid, selfs wanneer ’n mens gefrustreerd was met die studies.

By jou het ek grootgeword en my stem gevind. Hier is my hart gebreek en het dit weer heel geword. Hier het ek loopbane ondersoek en ’n roeping gevind. Hier het ek gelag en gehuil. Hier is dit waar ek gehoor het van geboortes in die familie, en dat mense oorlede is.

Hier is ek teleurgestel deur mense en het ek my hoop opnuut in God gevind. Jy was by toe my ontnugtering met die kerk gemaak het dat ek kerkloos was vir ’n tyd. Jy was ook by met my charismatiese draai en my besef dat dit glad nie vir my is nie. Jy was teenwoordig met my herontdekking van die mooi in die kerk en die kweek van ’n dieper liefde vir my NG Kerk, selfs met al haar dinge.

Dankie dat jy saam met my verander het. Saam met my gegroei het. Ek dra jou vorentoe saam. Ek sal altyd ’n oud-Tukkie wees.

Dankie dat jy saam met my verander het. Saam met my gegroei het. Ek dra jou vorentoe saam. Ek sal altyd ’n oud-Tukkie wees.

Op pad na die hek en my kar val ’n Jakaranda-blom op my skouer. Ek glimlag oor die ou stories daaroor en besef – dit is my kampus wat my groet en sterkte sê.

Soos ek vir oulaas my vinger op die ingangskandeerder plaas en my studentekaart deursit, glo ek dat, nes ek my vingerafdruk daar los, ek darem ook ’n paar spore op Tukkies se siel kon los, nes die kampus op myne gelos het.

  • Handré Meyer (28) het sopas 'n Teologie en 'n BSc graad aan die Universiteit van Pretoria voltooi. Hy kom oorspronklik van Pretoria.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 of die Noordwes-Universiteit nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Volg Die Student op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.