Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Trek jou prop uit en maak soms ’n klei-os

’n Digitale skerm lawaai my wakker met my gunstelingliedjie. Met my oë nog bottoe voel ek na waar my selfoon lê en maak hom stil, net om te sien 20 onbeantwoorde boodskappe, 12 e-posse en ’n Facebook-kennisgewing dat iemand vandag verjaar, het in die nag hul weg na die skerm op my bedkassie gevind.

Nog voordat my voete die grond kon raak of ek my keel met koffie kon lawe, begin ek met ’n diep sug deur die belangrikste boodskappe werk.

Die res van die dag, elke dag, sit ek agter ’n rekenaarskerm in ’n beknopte kantoor met my selfoon wat voor middagete pap gaan wees, want hy wil net nie ophou lui nie. Óf in 'n klaskamer starend na 'n digitale skyfievertoning, waar ek netjiese notas teen die spoed van lig op die helder skootrekenaarskerm voor my maak.

Vir ’n breek besoek ek my gunsteling-koffiewinkel, waar ek in vrede en met vinnige internet op my skootrekenaar sit en werk, of lees wat in die wêreld om my gebeur.

Klei-osse vir die kinders

Dis 2018 en dit sal absoluut skynheilig van my wees om enigiemand aan te sê om summier hul selfoon af te skakel, uit hul kantoorwerk te bedank as dit hulle heeldag agter 'n rekenaar laat sit, vir die kinders klei-osse te koop en iewers in die wildernis gaan bly, unplugged.

Want hier sit ek agter 'n rekenaar en ‘pen’ woorde neer, dieselfde woorde wat jy op hierdie oomblik iewers op 'n tegnologiese toestel met toegang tot die internet lees.

Tog, wanneer ek in die oggend in die bed lê en my dag op 'n helder handpalm beplan, weet ek dat daar gevare agter my aksies lê. Wanneer ek vir 'n dag my selfoon afskakel omdat die aanhoudende kommunikasie my teen die mure wil uitdryf en ek vir die eerste keer in maande werklik tyd met myself kan deurbring, weet ek wat staan in die pad van my intieme verhouding met myself, en met die mense om my.

Kinders is meesterlike na-apers

Net soos wat ek gebombardeer word deur tegnologie in my alledaagse lewe, word kinders ook daaraan blootgestel. As kind het my ouers lank nie 'n televisie in die huis gehad nie. Ons kon heeldag buite op die plaas baljaar en my eerste (baksteen)selfoon het ons noodgedwonge aangeskaf die dag toe ek koshuis toe is.

Colette Combrink.

Dit bly 'n oorweldigende voorreg en ek is vas oortuig daarvan dat ek die beste kinderlewe op aarde gehad het. En dis 'n tragedie dat die tweejarige wat so slim is op die selfoon en al die regte knoppies druk, dalk nooit daardie geleentheid gaan kry nie.

Ons lewe nie in 'n wêreld waar kinders van tegnologie weerhou kan word nie, maar kinders was, is en gaan altyd meesterlike na-apers wees. Soos wat jy optree, tree die kinders wat na jou kyk op. As jou selfoon en jou hand al amper een geword het, wat anders verwag jy van jou kinders om te doen?

Dit is beter vir jou kind om 'n boek te lees en om buite te speel. Dis beter vir jóú om 'n boek te lees en om buite te speel. Unplug vir 'n paar oomblikke 'n dag, en bring ’n bietjie tyd deur saam met die mense wat saak maak. Jouself inkluis.

  • Colette Combrink (20) studeer BA Geografie en Geesteswetenskappe (finale jaar) aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom. Sy is oorspronklik van Ermelo, Mpumalanga.
Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente  |  Tegnologie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.