Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Van die perdejokkie tot die boomgat: Daar is 5 soorte dansers
MC Engelbrecht
MC Engelbrecht

As student gaan ’n mens nogal so af en toe uit. Jy drink jou drankie, loer so oor die dansvloer of sit en gesels dalk net by ’n tafel. Die ander aand toe ek een van die min kere na ’n kuierplek toe is, toe doen ek ’n bietjie people watching.

Al my pelle was besig met hul eie avonture, en toe gaan sit ek eenkant en kyk na die mense. Dis toe ek besef daar is verskillende soorte dansers:

Die boomgate

Sodra daai man die goedkeuring kry om te dans by die meisie wat hy kry, trek hy haar nader, en ná so paar passies van sleg aangeleerde two-step, dan gly die arm van hom by die meisie se rug af asof hy sopas die hek toemaak by ’n luukse wynlandgoed.

Dadelik besef ’n mens hier is iets fout, want voordat die “want ek wil net dans, dans in die reën”-chorus opkom, het die meisie al iets gefluister, hy het sy kop geknik en die danspassies het gestaak, waarna hy tussen die ander paartjies op die dansvloer skoffel na die kroeg toe. Aand verby.

Die perdejokkie

Kyk, die arme girl. Party van hierdie ouens ken net van so 10 cm van die grond af in die rondte spring, en die girl wat onwetend ingestem het, sweet haar onderlaag af.

Jy kan die pyn op haar gesig sien, maar dan sal sy darem smile en ’n drukkie gee ná die dans. As jy haar so wil laat ly, koop darem net vir haar ’n water.

Die Janniejammer

“Sorry”, “Jis, hierdie dansvloer is vol”, “Pasop, hier kom hy”, of “Is jou toon oukei?” Jip. Dis daai ou. ’n Mens kry sy metgesel so jammer, want hy het nie ’n halwe idee wat hy doen nie. Nee, my maat, moet nie.

Die Strictly Come Dancing-paartjie

Hierdie paartjie is nie jou deursnee-boerevereniging-opskop-in-’n-skuur-tipe-paartjie nie. Nee, pappa, hierdie twee mense ken hul goed.

Dis van deur die bene skuur, in die lug optel, ander soort draaie en wegkyk-dans-moves. Dis beter om dan te stop en asem te haal. ’n Mens kan net nie wen nie.

Die slowdance

Terwyl jy nog besig is om jou girl te dip en Lianie May sing haar hart uit op ’n lekker witwarmtreffer, sal die paartjie wat twee liedjies terug op ’n slowdance-treffer begin het, steeds besig wees. Nie eens die hare wat hulle soms tref, kan hulle uit mekaar se oë hou nie.

Ek kon hierdie vyf soorte identifiseer, maar ek is seker daar is nog. Laat ek maar verder gaan people watch!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.