Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Van die slimste mense het nie grade nie
Lia Snijman
Lia Snijman

Die internet het nie net tot die demokratisering van kennis gelei nie, maar ook tot wie tot hierdie kennis kan bydra.

Of dalk is inligting ’n beter woord? Baie van die kommentaar op plekke soos Facebook of YouTube sal nou nie juis as “kennis” deur die meeste mense bestempel word nie.

Daar was nog altyd konflik oor wie hul mening mag lug oor een van die belangrikste kwessies – ons leiers. Vroeër is jou mening as ongeldig geag indien jy nie ’n man was nie, nie wit was nie, sonder eiendom was, of nie deel van ’n elitegroep van families was nie.

Sommige mense wou hê net mense met ’n sekere onderrigvlak moet kan stem, à la Plato en sy “filosoof-konings”, maar dit laat die vraag ontstaan tot op watter vlak mense opgelei moet wees. By watter vlak van onderrig sal jy dan kan stem? As dit hoërskool is, sal jy nog ’n klomp sogenaamd “onkundige” mense insluit. Maak dit tersiêre onderrig en dan sal iemand soos Mark Zuckerberg nie kan stem nie (tensy eregrade tel).

Graad maak jou nie wys nie

My pa sê altyd van die slimste mense wat hy ken sit sonder grade. Ná party Woensdagaande dink ek ook nie juis dat ek almal met ’n graad sou vertrou om goeie keuses te maak nie.

Ek dink ook dis ’n gevaarlike speletjie om te speel in ’n land soos Suid-Afrika waar tersiêre onderrig nie toeganklik vir almal is nie omdat dit so duur is. Ongelukkig is dit ook nog steeds meestal swart studente wat as gevolg van ons onlangse geskiedenis uitgesluit sal word.

Daar was nog altyd konflik oor wie hul mening mag lug oor een van die belangrikste kwessies – ons leiers.

Oukei dan, ons laat almal wat as ’n grootmens kwalifiseer toe om te stem. Wat nou gemaak met menings oor ander sake? En selfs kwessies wat net oor feite behoort te gaan, maar waaroor selfs menings nou kwansuis ernstig opgeneem moet word.

Sosialemedia-maatskappye het deesdae etlike probleme hiermee. Sekere gevalle is maklik – as dit jou mening is dat jy mense moet doodmaak op grond van hul ras, geslag, of geloof, mag jy dit nie lug nie. Ander gevalle is moeiliker – mag die ma wat werklik glo dat haar kind outisties sal wees as sy inentings gebruik, nie op Facebook daaroor skryf nie?

Mense raak al hoe meer huiwerig om kenners te glo oor sekere onderwerpe – klimaatsverandering, inentings, evolusie – en beskou nie hul menings as waninligting nie. Dinge raak baie moeilik as ons nie eens meer kan saamstem oor wat die werklikheid is nie.

LEES MEER: Ons vra te veel verskoning en sê te min jammer

Ek sien gereeld op die sosialemedia-platforms van VivA asook ander woordeboeke en taalhulpbronne hoe mense met die kenners stry oor die gebruik van sekere woorde (gewoonlik die gevreesde Anglisismes).

Die publiek kla gewoonlik dat die woordeboeke nie streng genoeg is nie, maar die kenners stry weer dat hul woordeboeke en hulpbronne die taal moet weerspieël soos wat die publiek dit gebruik. En so vorm ’n vreemde siklus van stryery.

(Ek betrap myself dat ek dink daardie “tannie” se mening is ongeldig, want haar kommentaar op VivA se Facebookblad bevat drie spelfoute. Dan onthou ek dat ek altyd onseker is oor hoe om “onmiddellik” te spel en ek het ’n hele BA-graad, boonop met Afrikaans en Nederlands as ’n hoofvak.)

Wie se mening tel?

’n Mens kry selfs verskillende menings wanneer mense dieselfde inligting het en saamstem oor die feite en syfers. Dis hoe ons by besprekings uitkom oor of plaasmoorde in Suid-Afrika ’n groot kwessie is of nie.

Behoort ons soms net na sekere mense se menings te luister? Wanneer ons wette oor aborsie maak, mag net vroue die wette maak? Net dié wat kan swanger raak?

Ek dink ons as samelewing moet weer gaan nadink oor hoe ons sekere kwessies benader en na wie se menings ons luister.

Ek dink ons as samelewing moet weer gaan nadink oor hoe ons sekere kwessies benader en na wie se menings ons luister.

Resensie van ’n fliek? Ek sal ’n lukrake persoon op die internet se mening vertrou. Die voor- en nadele van inentings? Ek gaan met my dokter praat, dankie.

En dan die finale vraag: Maak die mening van een of ander Stellenbosch-student saak net omdat dit deur Netwerk24 gepubliseer word? En is die menings wat mense onderaan los geldig?

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.