Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Van vuurwerke tot trane: Dís hoe 2020 my gevorm het

Business vision new normal after Coronavirus COVID

Sodra dit jou finalejaar van jou studies is, is die vraag op almal se lippe: “Nou wat gaan jy volgende doen?” Die logiese antwoorde kan een van die volgende wees: jy gaan verder studeer, werk soek, of jy weet nie. Ja, die laaste een is ook ’n opsie.

Vir die afgelope drie of vier jaar was jou lewe vir jou uiteengesit. Staan soggens vroeg op en vat die pad kampus toe en op pad soontoe bid jy dat daar nie verkeer is nie. Sodra jy by die hek inry begin die lang dag.

Sekere dosente het darem ’n manier om ’n lang vroegoggend klas gesellig te maak, al registreer jou brein nog nie teen daardie tyd nie. Die reuk van koffie wat in die lug hang dra hoofsaaklik ook by tot die ontwaking van ons breinselle.

Soos die dag verloop ontvang jy gedurig e-posse wat jou herinner aan take wat jy moet inhandig. Ongelukkig kan jy nie die professor se boodskappe ignoreer nie, want anders ignoreer hy jou wanneer daar gemerk word!

Chànde van der Westhuizen
Chànde van der Westhuizen

Die ergste van alles is ’n groeptaak. Jy word geforseer om aan take te werk saam met studente wat soms ’n probleem kan wees of wat jy nog nooit vantevore gesien het nie. Maar ná ’n dreigement of drie kan jy darem ’n taak met meer as net een persoon se naam inhandig.

Met die roetine (wat soms aangepas word) het ek die laaste twee en ’n kwart jaar my studies aangepak. Deesdae doen ek dit vanuit my bed of op die bank.

Ek lyk al soos ’n verslaafde voor my eie selfoon. Nie dat ek wil nie, maar omdat dit my nuwe lesingsaal is. My gesin weet darem dat ek nie met vreemde dinge besig is nie, anders was my selfoon seker al afgevat.

Om by die huis te leer spaar my baie tyd, want al verkeer wat hier teenwoordig is, vind plaas by die badkamer. En die e-posse skep nog dieselfde effek, want die professor stuur steeds take uit. En ongelukkig is die groeptake steeds daar, maar dié keer kan ek darem my frustrasies uitleef, want niemand in die groep sien my nie.

Iets wat wel drasties verander het, is my slaappatroon. Waar ek gewoonlik so 22:00 gaan slaap het, gaan slaap ek nou ten minste voordat die hoenders kraai.

Maar ongeag Covid-19 het ek steeds geweet dat dit my laaste jaar van voorgraadse studie is. Ek moes my steeds voorberei vir die “grootmenswêreld”.

As ek terugdink aan verlede jaar vind ek dit ironies dat ek meer oor my toekoms daardie tyd gedink het in vergelyking met nou. Soos ’n afkop hoender het ek rondgehardloop en aan planne gewerk vir waar ek moontlik kan werk kry. Daar was ’n stadium waar ek van studierigting ook wou verander – ’n pre-midlife crisis, as jy my vra.

Maar 2020 is anders. Die jaar het sommer rof vir my begin. Die een oomblik het ek nog die vuurwerke van Nuwejaar dopgehou en die volgende was ek in trane. En mettertyd toe ek weer die wêreld wou face, hoor ek “My fellow South Africans . . .”

Dié ikoniese sin maak baie mense kwaad, maar vir my het dit perspektief gegee. Ná ’n lang tyd het ek weer kans gehad om op myself te fokus. Ek kon weer rustig raak en met God praat en met Sy leiding kon ek toe daardie vraag beantwoord wat almal wou weet. Wat die toekoms inhou weet niemand nie, maar met ’n bietjie hoop en optimisme is enige iets moontlik.

  • Chànde Frania van der Westhuizen studeer Afrikaans-Nederlands en sielkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland. Sy woon in Kuilsrivier.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier. 
  • Volg ons op Instagram en Facebook.

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video.

IS JY NETWERK24 SE STUDENT VAN DIE JAAR?

Jy kan R10 000 wen!

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.