Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
VERKIESING: 'Ons moet die grondwet beskerm'

Almal het iets oor die Grondwet van Suid-Afrika te sê. Baie, aan die linker- én regterkant van die politieke spektrum, voer aan dat die Grondwet nie werk nie.

Martin van Staden.
Martin van Staden.

Talle linkses glo dat die Grondwet nie ver genoeg gegaan het om ongelykheid tussen wit en swart reg te stel nie, en baie regses glo dat die Grondwet self – en nie die problematiese uitsprake van die hoër howe nie – te blameer is vir, byvoorbeeld, die marginalisering van Afrikaans as onderwystaal.

Wat ook al jou politieke mening, indien jy in aanspreeklikheid en verantwoordelike regering glo, moet jy die voorgestelde verandering van die Grondwet teenstaan.

Die Grondwet verteenwoordig ’n regs-politiese breuk met die verlede. Onder ons vorige regime was die parlement soewerein en kon feitlik enigiets doen sonder beperking.

Daar was geen handves van regte nie, wat beteken het die regering kon beslag lê op eiendom nes hy wou.

Dit het die regering wel gedoen, veral op ’n rassige wyse, ingevolge wetgewing soos die Naturellegrond Wet van 1913 en die groepsgebiede-wetgewing wat van die 1950’s af verorden is.

Vandag sê die Grondwet in artikel 25 dat almal ’n reg tot eiendom het, ongeag van ras, en dat die regering die verantwoordelikheid het om eiendomsreg uit te brei en te versterk vir diegene vir wie dit histories ontken is. Nou wil die regering hiermee vroetel, en van die internasionaal erkende jurisprudensiële konsep van vergoeding vir onteiende eiendom wegdoen.

Grondwet? Watter Grondwet?

Die 2019-verkiesing, na my mening, draai dus op een substantiewe kwessie: Die beskerming van die Grondwet.

Opposisiepartye, veral die DA, het in talle vorige verkiesings aangevoer dat die regerende party die waardes van die Grondwet ondermyn en dat die Grondwet beskerm moet word deur vir hulle, die opposisie, te stem.

Dit bly waar vandag dat die regering die waardes van die Grondwet konstant ondermyn, maar in dié verkiesing word die teks van die Grondwet bedreig. Wanneer daar met die teks van die Grondwet op ’n onverantwoordelike manier gevroetel kan word, sal die waardes nie saakmaak nie.

Die 2019-verkiesing, na my mening, draai dus op een substantiewe kwessie: Die beskerming van die Grondwet.

Om veranderings aan die Handves van Regte aan te bring moet twee derdes van die Nasionale Vergadering (NV) daarvoor stem. (Daar is ’n alternatiewe argument, waarvan ek ’n voorstander is, dat daar eintlik 75% van die NV daarvoor moet stem.)

Dié verkiesing, met ander woorde, gaan vir my oor een ding en een ding alleen: Om die teengrondwetlike faksie in die NV onder twee derdes (66%) te hou. In hierdie stadium beheer daardie faksie 72,26% van die NV.

Doen jou deel

Vergeet dus van korrupsie en dienslewering. Wanneer jy op 8 Mei stembus toe gaan – en jy moet gaan! – stem vir ’n party wat vir eiendomsreg en konstitusionalisme staan. Sover dit partye aangaan wat rééds parlementêre verteenwoordiging het, is jou keuses daarom beperk tot die DA, Cope, ACDP, VF+ en die IVP.

Nadat alle Suid-Afrikaners se eiendomsregte afgewater is, wat wag volgende? Die regering kan dalk die reg op vryheid van spraak afwater om sy nuwe haatspraakwetgewing nóg meer indringend te maak.

Deur die blaam vir onvoldoende grondhervorming op die Grondwet te plaas, ondermyn die regering die Grondwet se legitimiteit en ignoreer hy die land se werklike probleme.

Miskien probeer die regering die mag van die howe afwater. Miskien termineer die regering die kantoor van die ouditeur-generaal. Enige aantal dinge, alles sleg, kan gebeur, en dit is hoekom jy moet gaan stem.

’n Grondwetlike wysiging is onnodig. Soos Terence Corrigan van die Instituut vir Rasseverhoudinge op Politicsweb geskryf het: Die regering is hier besig met misleiding.

Deur die blaam vir onvoldoende grondhervorming op die Grondwet te plaas, ondermyn die regering die Grondwet se legitimiteit en ignoreer hy die land se werklike probleme.

Ons moet verseker dat dit nie voortgaan nie.

  • Martin van Staden (24) is besig met sy LLM aan die Universiteit van Pretoria. Hy kom oorspronklik van Vereeniging, maar het hoofsaaklik in Pretoria groot geword.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Hierdie artikel is ‘n inskrywing vir Die Student se kompetisie oor die verkiesing. Lees die ander inskrywings hier.

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Verkiesingdiestudent  |  Verkiesing2019  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.