Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
'Verlies en verwerping is nie meer welkom in my huis nie'
Jené Liebenberg
Jené Liebenberg

Daar was al oomblikke in my lewe wat my na my asem laat snak het – en nié “die sonsondergang is so lieflik”-tipe asemwegslaan nie.

Dit was eerder weens oomblikke dat my hart so seerkry dat ek die pyn tot in my linkerkleintoontjie voel, dat dit die lug uit my longe pers, want seer en suurstof werk nie saam nie.

My grootste twee asemdiewe is verlies en verwerping. Hulle daag sonder skaamte, onverwags en ongenooid op. Hulle bars deur die deure van my hart en maak hulle lekker tuis in die donker ruimtes (hulle geniet nie te veel lig nie) en omdat dit seer en ongemaklik is maak ek saggies eerder die deur agter hulle toe soos ’n goed gemanierde jong dame geleer is om te doen.

Dit veroorsaak wel ’n probleem of twee. My hart se huisie lyk dus van buite af heel beskaafd en normaal, mooi in stand gehou en netjies.

My grootste twee asemdiewe is verlies en verwerping. Hulle daag sonder skaamte, onverwags en ongenooid op.

Binnenshuis is dit egter ’n ander saak, met die twee asemdiewe wat nes maak in die intieme kamers waar niemand (selfs ek) ooit draai nie, slegs omdat hulle net nie daar kan uitkom nie.

Ek weet teen dié tyd hoeveel om te gee van sekere dele van my storie om mense se nuuskierigheid te les, ek hou hulle besig in die woonkamer.

’n Storie vir ’n ander dag

Vra my oor my grootwordjare in Zimbabwe en ek vertel jou als van die skool tot die plaas. Ek het selfs ’n paar stories oor hoe ons die plaas verloor het uitgekeer om die onkundige mens wat aanhou krap-krap tevrede te stel.

Ek vertel jou graag van my familie met my ouers in Limpopo en my ouer suster wat in Boedapest woon en skoolhou, ek is immers baie trots om deel van hulle te wees.

LEES OOK: Hoekom ervaar ons soveel angs?

Maar vra my oor my matriekvakansie en ek sing vinnig ’n ander deuntjie, want nou betree jy daardie donker hoekies waar jy die asemdiewe gaan betrap – en hulle speel beslis nie mooi nie.

Jy gaan ’n deur in die gesig kry as jy my uitvra oor die geskiedenis van my liefdeslewe of my eerste soen. Dit laat my kriewel van ongemak, ek gaan ’n manier vind om jou nie te antwoord nie, want dit is altyd ’n storie vir ’n ander dag.

Asemdiewe leef nie in die lig nie

Die waarheid is dat ek nie geweet het hoe om my asemdiewe uit my harthuisie te jaag nie, hoe om vir hulle te gil “Laat jy trap, Boetman!” terwyl ek met my vlieëplak in my hand staan en die agterdeur oophou nie.

Uit onkunde laat ek hulle toe om my huis as gyselaar aan te hou, ek dra al vir hulle tee en beskuit aan en voer hulle spekvet met my sensitiwiteit en oortollige vrese.

Totdat ek besef het dié diere floreer in die donker en kan nie in die lig leef nie.

Ek besef nou dat ek nooit my ou wonde, gemaak met die vlymskerp en baie vuil lem van verwerping en verlies, laat genees nie. Ek het net die deur toegemaak, want dit was te seer om te hanteer.

So nou gryp ek daardie Maglite (ek vertrou nie Eskom nie) en werp lig op die donker hoekies van my hart. Eerstens is ek eerlik met myself, wat amper moeiliker is as om eerlik te wees met ander, en kyk my asemdiewe in die oë. Ek vergeet van maniere en skreeu: “Moenie laat die deur jou op jou gat slaan op pad uit nie!”

Ek besef nou dat ek nooit my ou wonde, gemaak met die vlymskerp en baie vuil lem van verwerping en verlies, laat genees nie. Ek het net die deur toegemaak, want dit was te seer om te hanteer.

Jaag hulle uit jou huis

Die realiteit is dat as jy nie die asemdiewe uitjaag nie, hulle moles gaan maak – en dan help tyd niks, dit maak dit eintlik net erger.

Hoe gouer hoe beter is ’n baie wyse keuse, want die pyn raak deel van ’n mens en dan is die genesingsproses eers ’n skoonmaakproses.

Ek leer tans hoe om deur die seer en ongemak te praat en hoe om dit te deel, al is dit vir nou net tussen my en my God. Ek weet later sal ek dit met mense ook kan deel.

Ek leer tans hoe om deur die seer en ongemak te praat en hoe om dit te deel, al is dit vir nou net tussen my en my God.

Daardie twee asemdiewe is nie meer welkom in my huis nie, ek maak nou plek vir die belangrike mense en dinge in my lewe wat ’n woonplek wil hê.

Ek soebat en smeek hulle nie meer nie, Verwerping en Verlies weet hulle moet maar op straat gaan tent opslaan.

  • Jené Liebenberg (20) studeer BA Kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus. Sy het in Zimbabwe groot geword, maar woon tans in Tolwe, Limpopo.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang?Klik hier om in te teken.
  • Volg ons op Instagram!
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.