Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
‘Victim blaming’: Die slagoffer mag nie die skuld dra nie

So in die middel van hierdie jaar het die Stellenbosch-kampus besluit dis ’n goeie idee om plakkate vir veiligheidsbewusmaking oral op kampus op te sit. Dit het foto’s en slagspreuke soos: “Open window = open invitation – keep valuables away from windows!” en “Donkerwerk lok konkelwerk – maak spore as die son sak!” ingesluit.

Mart-Marié Serfontein
Mart-Marié Serfontein

Die plakkate het my van my kop af gemaak. Duidelik het dit nie die misdaadprobleem op kampus aangespreek nie.

Dit was ’n pleister vir ’n wond wat al lank sweer (en dalk al ’n bietjie gangreen in die hoekies ontwikkel het).

Kampus-veiligheid het dit vir ons duidelik gemaak: As jy nie hierdie raad volg nie en jy word ’n slagoffer van bogenoemde, is dit jou skuld.

Kampus-veiligheid se probleem is dat hulle oplossings probeer gee vir ’n probleem wat nie sal weggaan totdat die stelsel behoorlik gefixword nie.

Maar hierdie artikel gaan nie oor ongelykheid in Stellenbosch nie (hoewel ek definitief eendag na die onderwerp sal terugkeer). Hierdie artikel gaan oor victim blaming en watter impak dit op die samelewing het.

Geen volmaakte wêreld

Vir diegene wat nou-net ingekom het en nie weet waarvan ek praat nie, victim blaming behels dat die skuld vir ’n misdaad op die slagoffer gepak word en nie op die oortreder nie. Voorbeelde sluit in verkragting, roof en gesinsgeweld.

Hoeveel keer het jou ma nie al vir jou gesê: “Jy loop nie ná donker terug huis toe nie, jy bel vir my of jou pa!” Hoeveel keer het jy en jou vriendinne nie al na ’n aand uit die volgende oggend die gebeure bespreek en dan word daar gevra of jy daai een meisie gesien het wat “so gedans het asof sy en die ou aan mekaar vasgeplak was”.

Vir diegene wat nou-net ingekom het en nie weet waarvan ek praat nie, victim blaming behels dat die skuld vir ’n misdaad op die slagoffer gepak word en nie op die oortreder nie.

Hoekom is hierdie sinne so bekend aan jou? Want as ek ná nege in die straat af stap en ek word aangeval dan sal die eerste vraag altyd wees: “Wat het jy daar gesoek, meisie-alleen?” Want as ’n meisie die volgende oggend in ’n stegie gekry word, verkrag, haar lewe wat aan ’n draadjie hang, sal daar altyd eerste gesê word: Sy moes in die eerste plek nie so verleidelik gelyk en opgetree het nie!

Ek kan vir dae lank nog soortgelyke voorbeelde gee, maar ek dink julle kry die idee.

Almal weet alle misdade het ’n oortreder en ’n slagoffer – die oortreder is die een wat die reg oortree en die slagoffer is die een wie se regte geskend word. As ek in die donker oorval word en my selfoon word gesteel is ek die slagoffer. Die meisie in die stegie is die slagoffer.

Maar.

Ek het alleen in die donker geloop, daai girl het met ’n vreemdeling gedans en haar drankie alleen gelos toe sy haar lipstick weer gaan aansit het. As ons nie dit of dat gedoen het nie sou ons nie in die latere posisie gewees het nie.

LEES OOK: Familie...Ai, dis nooit maklik nie!

So, wat nou? Mag ek nie in my straat afstap nie? Mag meisies nie meer gaan dans nie?

Die probleem is dat ons nie in ’n volmaakte wêreld lewe nie. Daarin sou ons enigiets kon doen en daar sou geen slegte gevolge gewees het nie. Maar omdat die wêreld sleg is, moet ons sekere stappe doen om ons eie veiligheid te verseker.

Nie sodat mense kan ophou om ons daarvan te beskuldig dat ons ’n aandeel in ons eie mugging of verkragting gehad het nie, maar om die moontlikheid daarvan te verminder, omdat die wêreld nie volmaak is nie.

Die ideaal wat ons moet najaag

Daar is al studies gedoen waarin vroue wat verkrag of aangerand is, getuig het dat toe hulle oor hul eie aksies teruggedink het en gesien het dat daar ander goed was wat hulle kon doen om die situasie te vermy, dit hulle eintlik gehelp het om die gebeure te verwerk.

Dit het ’n deel van daardie magteloosheid wat hulle gevoel het weggeneem, omdat hulle nou kon besluit om in die vervolg meer x te wees, of om y nie weer te doen nie.

In plaas daarvan dat hulle heeltemal hulpeloos gevoel het en angsbevange om elke hoek en draai vir die volgende aanvaller wag, kon hulle hul lewenslot in eie hande neem en weet dat juis omdat hulle hul eie gedrag aangepas het, die kanse dat hulle weer ’n weerlose slagoffer sou wees, net soveel minder is.

Maar omdat die wêreld sleg is, moet ons sekere stappe doen om ons eie veiligheid te verseker.

Ons moet altyd strewe na die volmaakte wêreld, waar enigiemand ná donker enige plek heen kan stap, waar mans nie in klubs opdaag met sakke vol Rohypnol nie, waar as ek my venster die dag oop vergeet ek nie terugkom sonder ’n skootrekenaar en juwele nie.

Dit is die ideaal wat ons moet najaag en ons moet elke dag daarvoor baklei, daarop aandring en geleenthede in ons gemeenskap skep om dit te verwesenlik. Maar voordat dáárdie wonderlike dag nie aanbreek nie, is om verantwoordelikheid te neem vir van jou aksies ’n goeie idee en dalk het daardie plakkate op kampus tog ’n punt beet . . .

  • Mart-Marié Serfontein (21) studeer BA Regte aan die Universiteit Stellenbosch. Sy werk ook vir Die Matie as teksredakteur. Sy kom oorspronklik van Kaapstad. 

Is jy 'n student en wil jy R5000 wen? Kliek hier.

Beste Cyril


Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.