Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Voel jou lewe soos ’n pokerspel?

Liewe matrikulant van 2020. Eerstens, baie geluk. Elke matriekgroep het sy dinge, maar julle sal vir ewig die eerste groep wees wat in die pandemie matriek geskryf het.

Vandag rig ek die brief aan die dromers in dié groep. Soos altyd het Google my mooi gehelp met ’n prentjie wat Dromer (s.nw.) uitbeeld. ’n Mens wat haar/sy ambisies gebruik om ’n saadjie te plant vir die toekoms.

Marelize Vermeulen

Van kleins af plant ons die saadjies. Toe ek klein was, wou ek slegs perdry vir ’n lewe. Ek kon nie aan ’n beter plan dink nie.

Soos ons groter word, verander ons drome effens. Op 17 wou ek geld maak met ’n beroep om steeds te kan perdry.

Vandag kyk ek terug na díe drome met ’n giggellag.

Party van julle staan voor ’n oop deur. Die geleentheid het gekom om jou saadjie nou water te gee en dit te laat groei. Wees dankbaar en leef elke oomblik voluit totdat jy jou prentjie leef en moet dan nooit ophou om jou tuin te versorg en te laat groei nie.

Ander staan voor ’n deur wat hulle nie noodwendig gekies het nie, want die deur waaroor hulle gedroom het, is nie vir hulle oopgemaak nie, is nie bereikbaar nie of bestaan dalk selfs nie eens nie.

Hier staan jy voor ’n ander deur wat jou dalk kan help om by daardie droom uit kom – of dit gaan ’n hele nuwe droom vir jou skep. Die probleem op hande is, wat nou, waar nou en hoekom?

Jou poker face wys die krake, niemand kan vir jou sê wat die regte ding om te doen is nie. Jy voel alleen en deurmekaar, jy wonder oor alles.

Dit voel so ’n bietjie soos ’n pokerspel en die skyfies is jou toekoms. Jou poker face wys die krake, niemand kan vir jou sê wat die regte ding om te doen is nie. Jy voel alleen en deurmekaar, jy wonder oor alles.

Die afbrekende vrae begin deur jou kop maal: Is ek goed genoeg? Is my droom te groot? Gaan ek ’n straatveër word?

Maar jy durf dit nie hardop sê nie.

Liewe mededromer, daar is hoop, daar is lig vir jou én vir jou drome. Ek weet, want die 19-jarige wat ek so pas beskryf het, was ek.

Ek het met my baie hardkoppige, alles-is-oukei-poker face my trane gesluk en Tuks toe gegaan om BSc in plaas van medies te swot.

My droom het deur die paar jaar wat gevolg het baie verander, maar die klop en die roeping in my hart was nog altyd dieselfde, maak nie saak hoe ek dit probeer wegsteek en wegpraat nie.

Die drome en die paadjies het my grootgemaak, vir my visie gegee en lewenslesse geleer wat nie sou gebeur het as my deur die eerste dag oopgegaan het nie.

En dis oukei om jouself te vind, om nuwe deure oop te maak, om nie van die deur wat jy gekies het of oor gedroom het te hou nie. Die alles deel van hierdie avontuur wat ons die lewe noem.

Ek het dalk nie al die dromerwyshede in pag nie, maar ek kan wel ’n paar notas uit die koffer van my kronkelpad deel.

'n Paar nota's uit my koffer

• Jy is nie alleen nie. Sodra jy begin praat, sal jy sien daar is soveel dromers wat presies soos jy voel.

• Jy ís goed genoeg, jy was nog altyd en jy sal altyd wees – maar jy moet dit self eers glo.

• Volg jou hart. Jou brein is dalk slim, maar jou hart het daai sesde sintuig.

• Moenie moed verloor nie, jaag jou drome na en baklei daarvoor.

• Vind jouself, jou mense en jou ruimte – dit maak die najaag van jou drome nog beter.

• Bou jou CV met goed waaroor jy passievol is – dit maak ook nuwe deure oop.

• Net omdat jy op ’n ander pad is, beteken dit nie jy is verlore nie.

Maar die heel belangrikste: HOU AAN DROOM! Die prentjie verander, die drome verander, maar die dromer bly. Pas daardie dromer op.

Hierdie dromer studeer nou medies. Ja, soms word die realiteit selfs beter as jou wildste drome.

  • Marelize Vermeulen studeer medies aan die Riga Stradins-Universiteit in Letland.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig die van Netwerk24 nie. 
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier
  • Volg ons op Instagram en Facebook

WIL JY VIR DIE STUDENT SKRYF?

Maar jy wonder nog die heeltyd hoe dit werk? Kyk hierdie video: 

Meer oor:  Mening  |  Studente  |  Suid-Afrika  |  Die Student
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.