Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Vroue se veiligheid: Mans kan help
Colette Combrink
Colette Combrink

Uyinene Mrwetyana, ’n student aan die Universiteit van Kaapstad, gaan poskantoor toe en word verkrag en vermoor.

Leighandre Jegels, ’n kampioen-bokser, word deur haar kêrel geskiet en beswyk in die hospitaal aan haar wonde.

Die sesjarige Amy'Leigh de Jager word uit haar ma se hande gegryp en ontvoer en (genadiglik) ’n dag later teruggevind – want Suid-Afrikaners het vir die eerste keer, vir ’n sesjarige, baie hard probeer om saam te staan, saam te bid en saam na ’n klein, bang meisietjie te soek.

Ek kan aangaan en skryf oor vroue wat in stukkies opgekap is of ma’s wat dood buite woonstelkomplekse gekry is of vrouelyke wat op rommelhope gevind is.

Net die opskrifte van die afgelope maand se moorde, verkragtings en ontvoerings kan bladsye vul.

Net die opskrifte van die afgelope maand se moorde, verkragtings en ontvoerings kan bladsye vul. Op sosiale media begin vroue selfverdedigingsklasse reël en op straat hou ons ons handsakke styf teen ons vas en wag eerder binne vir die Uber want niemand weet wat in daardie twee minute se wag kan gebeur nie.

Ek vind myself aan’t lees oor hoe ’n mens ’n moontlike booswig kan identifiseer en, as hy jou nader, watter sielkundige metode die beste werk sodat jy die minste skade aangedoen word.

Toe huil ek en die Uber-bestuurder

Ek was nog nooit bang om alleen te wees nie – in Junie het ek vrou-alleen duisende kilometer oor Suid-Afrika afgelê en nét goedheid van mense beleef.

Op die oomblik sit ek op my eentjie in ’n hotelkamer in Kaapstad en ek gaan netnou weer alleen iewers heen pendel. Maar elke dag is dit ’n effens groter uitdaging – want ek kan alles in my vermoë doen om myself te beveilig, maar vir ’n verkragter of moordenaar is ek ’n maklike teiken.

Toe ons oor Suid-Afrika begin praat, kry hierdie vreemdeling, man en pa van twee, trane in sy oë en vra my innig verskoning dat mans nie beter vaar nie.

Dit het gister weer tot my deurgedring. Ek sit in ’n Uber op pad na ’n vergadering en ek en die Kongolese drywer begin gesels oor sy herkoms en die probleme in sy land (waar sy familie nog is), onder meer ’n onbeheerbare ebola-krisis en (basies) ’n burgeroorlog met rebellegroepe wat enige vorm van hulp uit die land uit hou.

So, besef ons, het elke land sy probleme. Toe ons oor Suid-Afrika begin praat, kry hierdie vreemdeling, man en pa van twee, trane in sy oë en vra my innig verskoning dat mans nie beter vaar nie.

LEES MEER: Is ek dalk volgende?

Hierdie man sê jammer vir sy geslagsgenote se gedrag en vertel my hoe hy sy seun met deernis, empatie en respek probeer grootmaak – en ons albei sit en snik oor die situasie in hierdie land en hoe ons albei se hande afgekap is.

Ek gaan hom seker nooit weer sien nie, maar ek weet ek was veilig op daardie Uber-rit. Ek wens vroue kon dit altyd weet. Ek wens mense kon altyd veilig by mekaar wees.

Saam maak ons alles veiliger

Maar hulle is nie, en vroue kan nie vrou-alleen hierdie probleem oplos nie. Ons vra nie eens dat mans sê hulle is jammer of sleg hoef te voel oor hul geslag nie, maar ons vra mans om beter te wees.

Om jouself en jou vriende te stop as vroue in geselskap oormatig “geseksualiseer” word. Om die mans om jou aan te moedig om goed te wees teenoor almal en om vroue met deernis te hanteer.

As ek kon, het ek my boeties oral saam met my gevat – want met hulle in my span is ek altyd veilig. Maar ek kan nie. So, liewe man, wees jy die wonderlike Uber-drywer, die respekvolle pa en die barrikade van boeties vir vroue in hierdie land.

Moenie aan afbrekende retoriek meedoen nie, en wag saam met ’n meisie vir haar saamrygeleentheid of in die ry in die poskantoor. Dis nét saam wat ons Suid-Afrika ’n veiliger plek, vir almal, kan maak.

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.