Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Vrouedag: Die viering van gewone, dapper vroue

Dit is vroeg op ’n somersoggend in Leipzig, Duitsland, en ek drink my gebruiklike koppie Café Crème in die skadu van ’n ou kalkboom by die Moritzbastei.

Daar is verskeie redes waarom ek verkies om juis by hierdie koffieplek my dag te begin: Die gebou is deel van die laaste oorblyfsels van die historiese stadsmuur wat in die 1550’s tot stand gebring is, dit is neffens die universiteit se biblioteek, en die ou klipwerk wat deur klimop bedek is, verleen ’n ouwêreldse sjarme aan die restaurant – wat byna ’n verdieping laer in die ou stad se grag geleë is. Dit is egter die interessante geskiedenis van hierdie studenterestaurant wat my keer op keer na die gebou laat terugkom – want die geskiedenis van hierdie restaurant is ook die geskiedenis van Duitsland se dapperste vrou, Duitsland se Mutti, Angela Merkel.

Onverskrokke en dapper

Lank reeds voordat sy teen die grein van ’n mans-gesentreerde wêreldgeskiedenis haar opgang as vroulike leier van een van die belangrikste en invloedrykste Europese lande gemaak het, en lank reeds voordat sy die moedige besluit geneem het om Duitsland as veilige hawe vir oorlogsuf ontheemdes te verklaar, het sy haar stem as studenteleier in kommunistiese Oos-Duitsland aan die Karl Marx-universiteit (nou Leipzig-universiteit) laat hoor.

In ’n tyd waar menige stemme van teenstand onderdruk is en enige vorm van studente-organisering summier in die kiem gesmoor is, was Merkel – ’n pastoriekind van die omgewing – aan die hoof van ’n groeiende groep studente wat op ’n ruimte vir gesprekvoering, gemeenskap en ontspanning aangedring het. Hierdie studente het op eie houtjie planne vir die bou van so ’n ruimte opgetrek en het (ten spyte van die teëstand van die universiteit) self ingespring om die ou stadsmuur in ’n studenteklub te omskep. ’n Inisiatief wat in die destydse DDR (Oos-Duitsland) besonderse moed en onverskrokkenheid geverg het.

Vrouedag in Suid-Afrika

Vandag vier ons Vrouedag in Suid-Afrika. ’n Dag wat sedert 1994 die optog van 20 000 vroue teen die apartheidsregering se paswette in 1956 herdenk, en die dapper vroue in ons eie geledere in herinnering roep en vereer.

Ons vier hierdie dag ook te midde van ’n toenemende bewustheid van die belangrike rol wat die dapperheid van “gewone vroue” kan speel.

Op Vrouedag vier ons die kunstenaars, die koppige aktiviste, die vryheidsvegters, die storievertellers, die leiers, die sakebreine, die wetenskaplikes en die sportvroue wat deur hul moed ons verlede gevorm het, en ons toekoms rig – vroue soos Emily Hobhouse, Fatima Meer, Helen Suzman, Natalie du Toit, Thuli Madonsela, Caster Semenya, Lillian Ngoyi, Nadine Gordimer, Miriam Makeba, Antjie Krog, Krotoa en selfs Mev. Ples. Individue wat aan die vroue in Suid-Afrika ’n stem gegee het.

Ons vier hierdie dag ook te midde van ’n toenemende bewustheid van die belangrike rol wat die dapperheid van “gewone vroue” kan speel. Die afgelope jaar is ons newsfeeds op sosiale media gevul met vroue wat as deel van die #MeToo-beweging standpunt teen seksisme, seksuele teistering en die onderdrukking van vroue, veral in die werkplek, inneem.

Die Women’s March as reaksie op Donald Trump se neerhalende opmerkings jeens vroue het tot aan die suidpunt van Afrika ons aandag getrek en onlangs het die video van die jong Switserse aktivis, Elin Ersson (wat moedig geweier het dat ’n vlug waarop ’n Afgaanse man gedeporteer sou word, opstyg), wêreldwyd opslae gemaak.

Gewone vroue wat deur hul dapper dade rimpelings dwarsoor die wêreld stuur. Dit is immers nie om dowe neute dat die slagspreuk “The Future is Female” tans soveel aftrek kry nie!

Donderdag-in-swart

Angelique Havenga.

Vanoggend kyk ek opnuut na die foto van ’n jong Angela Merkel teen die muur van die Moritzbastei – graaf in die hand en veiligheidshelm op die kop. En ek lig my koppie vir haar en vir die dapperheid van vroue wat ’n beter, vriendeliker en gelyker plek maak om in te woon, te leef en te werk.

Terloops, dit is noemenswaardig dat vanjaar se Vrouedag op ’n Donderdag val. Die dag in die week wat deur die veldtog Thursdays in Black uitgesonder word as geleentheid om solidariteit met slagoffers van gender-gebaseerde geweld te toon (deur swart te dra), sowel as om voorspraak teen sulke vorms van geweld te doen.

In ’n land waar geweld teen vroue, kinders en weerloses ’n alledaagse verskynsel is, is Vrouedag, Vrouemaand en Donderdag-in-swart ’n oproep aan ons elkeen om ook óns standpunt teen sulke verfoeilike dade in te neem.

Op Vrouedag 2018 word ons dus opnuut uitgenooi om ons eie stem by die dapper vrouestemme van oor die eeue en oor die wêreld heen te voeg.

Vive la femme!

  • Angelique Havenga (28) is 'n predikant in die NG Kerk en werk tans voltyds aan ’n doktorsgraad in praktiese teologie. Sy is 'n student aan die Universiteit Stellenbosch en doen die afgelope jaar navorsing by die Leipzig Universiteit in Duitsland. Sy kom oorspronklik van Zeerust in Noordwes.

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente  |  Vrouedag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.