Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Waardeer die mans en vergeet van die 'seuntjies'
Vianca Bester

Wie is volgende? My ma? My tannie? My niggie? My sussie? My ouma? My vriendin?

Statistiek sê dat meer as 40% van Suid-Afrikaanse vroue in hul leeftyd verkrag sal word, net 1 uit 4 verkragtings word aangemeld en slegs 14% van die verkragters word gevonnis.

Was jy al in ’n poskantoor? Ja? Dit kon jy wees. Dit kon ek wees. Dit kon enigeen van ons wees.

Stel jouself voor jy gaan helder oordag poskantoor toe om ’n pakkie af te haal. Sal jy dink dit is waar jy jou laaste asem gaan uitblaas?

Was jy al in ’n poskantoor? Ja? Dit kon jy gewees het. Dit kon ek gewees het. Dit kon enigeen van ons gewees het.

Niemand is veilig nie

Mense is geneig om te dink dat geweld, moord en verkragting ’n “ver-weg-probleem” is.

“Dis ’n meisie in die Kaap.”

“Dis ’n vrou in Pretoria.”

“Dit sal nie met my gebeur nie.”

Die realiteit is dat nie een van ons werklik veilig is nie. Enigiemand kan ’n slagoffer wees. Dit is nie ’n “ver-weg-probleem” nie. Hierdie dinge gebeur elke liewe dag reg onder ons neuse. Ons verkies net om daar verby te kyk, want ons wil nie die werklikheid daarvan aanvaar dat ons dalk volgende kan wees nie.

Mense is geneig om te dink dat geweld, moord en verkragting ’n “ver-weg-probleem” is.

Uyinene Mrwetyana het nie gedink sy gaan volgende wees nie, Amy’Leigh de Jager het nie gedink sy gaan volgende wees nie. Leighandre Jegels het ook nie gedink sy gaan volgende wees nie.

Ons probeer vroue leer hoe om weg te bly van gevaarsones en hoe om reg aan te trek sodat sy nie ’n man uitlok nie. Hoekom leer ons nie eerder vir seuns van kleins af hoe om meisies te respekteer en hoe om hulself te beheer nie? Want solank as wat mense glo boys will be boys sal geen voorsorgmaatreël van ’n vrou se kant af genoeg wees nie.

Ons lewe in vrees

Omtrent elke meisie moes al meer as een keer vir ’n ou nee sê omdat hy nie nee vir ’n antwoord wou vat nie. Omtrent elke meisie het al vinniger geloop omdat sy bang is die man langs die pad gaan haar agtervolg. Omtrent elke meisie het al haar hart in haar keel voel klop, want die oom se hand gly al hoe laer op haar rug. So dit sal nie met jou gebeur nie? Raai wat . . . dit het reeds.

LEES OOK: Liewe vrou, het ons die oorlog verloor?

Dit is tyd dat vroue gehoor word wanneer hulle nee sê. Dit is tyd dat vroue veilig kan voel waar hulle ook al gaan. Dit is tyd dat vroue nie bang of skepties hoef te voel oor omtrent elke man nie.

Die realiteit is dat vroue so bang en sensitief word dat hulle selfs skepties raak oor mans wat onskuldig is. Mans is ook slagoffers van geweld en verkragting, maar dit is uitsonderings. Dit is tyd dat mans insien waar meisies vandaan kom. Dit is tyd dat mans meisies beskerm waar hulle kan.

Laat julle stemme gehoor word

My vriendin het vir ’n seun in ons koshuis gevra of sy saam met hom kan loop, want sy voel onveilig en hy het vir haar nee gesê. Ek noem hom nie ’n man nie, want hy verdien nie daardie titel nie. ’n Man sal nie sy hand vir ’n vrou lig of onnodig vatterig raak of ’n vrou verkrag nie. ’n Onvolwasse “seuntjie” sál.

Boys will be boys – until they are taught to be accountable men.

So vroue, laat jou stem gehoor word. Brul soos ’n leeu. Staan op vir diegene wat al slagoffers was en ook dié wat dalk volgende mag wees. Waardeer die mans en vergeet van die “seuntjies”.

Boys will be boys – until they are taught to be accountable men.

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.