Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Wat as Jesus 'n Afrikaner was?
Bouwer Bosch
Bouwer Bosch.

Ek dink wanneer jy as Afrikaner in die kerk grootgeword het, kom daar ’n punt dat ’n mens soms nie meer weet wat moet eerste kom nie. Jou Christenskap of jou Afrikanerskap? Is die twee afskeidbaar? Ek is seker dit is in ander kulture ook so, maar ek dink soms dat ons Afrikanerkultuur ’n groter impak as geloof op selfs ons geloofslewe het.

Ek dink as dit kom by jou Christenskap en jou Afrikanerskap moet ’n mens altyd ontvanklik wees om dinge af te leer wat jy geleer is, maar oop wees om nuwe dinge te leer. Christenskap (in al sy verskillende vorme) was nog altyd deel van die Afrikaneridentiteit.

Een van die grootste gebeurtenisse in die Afrikaner se geskiedenis, naamlik Die Slag van Bloedrivier, is gegrond op ’n gebed en ’n gelofte wat aan God afgelê is, naamlik dat as Hy hulle die stryd teen die Zoeloes laat wen, sal hulle Hom elke jaar op 16 Desember eer, en hul nageslagte opvoed om dieselfde op daardie datum te doen.

God of godsdiens was nog altyd verweef in ons kultuur; óf Hy was die bargaining chip waarmee ons in ’n geveg ingegaan het soos in 1838, óf ons sê vandag vir Hom ons het Hom nie meer nodig nie.

Christenskap (in al sy verskillende vorme) was nog altyd deel van die Afrikaneridentiteit.

Afrikanernasionalisme het gedurende apartheid geïmpliseer dat swart mense die “die swart gevaar” is en dat ons beter en slimmer as hulle is, maar die Bybel leer ons dat almal na God se beeld geskape is. Wie het ons geglo tydens apartheid en wie glo ons vandag? Die Bybel of wat ons kultuur vir ons geleer het? Ons pak ons geloof en identiteit aan soos ons potjiekos aanpak: Jy skep net dit wat jy wil eet in, nie alles nie, net waarvoor jy op dié dag lus is.

Wat sou Jesus doen?

As ek so kyk na die verskillende narratiewe in Afrikaanse kringe en hoe ons onder mekaar kan baklei vir die taal en vir die behoud van ons kultuur, kom dit soms voor asof sekere mense dink dat Jesus ’n Afrikaner was . . . en toe het dit my laat dink: Wat as Jesus wel ’n Afrikaner was? Hoe sou Sy lewe gelyk het in ons kultuur as Hy die Verlosser ook was.

Sou Hy baklei het vir ’n land wat hy meen syne is of sou hy sy land gedeel het met ander wat nie ’n land het nie?

Sou Hy jammer gesê het vir apartheid al het hy niks daarmee te doen gehad nie?

Sou Hy ’n Bafana Bafana-trui besit het?

Sou Hy gay mense in die kultuur aanvaar en liefgehad het?

In watter kerk sou Hy wees? Die NG Kerk? APK? ’n Dopper? In die CRC? Dalk die VGK?

Sou Hy die Ghoemas sowel as die Aitsa-pryse ondersteun het?

Sou Hy ook gedink het dat FW de Klerk die land verraai het?

Sou Hy ook soos ek kla oor die toestand van die land agter my Apple iPhone terwyl ek by die see sit en Netflix kyk?

Sou Hy in Pretoria-Oos of in Linden gebly het, of in Munsieville?

Sou Hy by Pick n Pay, Checkers of die sopkombuis kos kry?

Sou Hy sy geld vir kollekte gee of Sy tyd vir bergies?

Sou Hy saam met Eugène Terre’Blanche gaan perdry het of sou hy eerder saam met Anton Rupert sigare gerook het?

Sou Jesus iemand vloek in die verkeer en dan steeds daarna vir hulle sterf?

Sou Hy een van die ander Afrikatale leer praat het?

Sou Jesus iemand boikot net omdat Hy nie met hulle saamstem nie, of sou Hy saam met hulle sit en hulle probeer ken en hul siening verstaan?

Sou Jesus die hele volkslied gesing het of slegs die Afrikaanse deel?

Sou Jesus ’n leë kamer vir haweloses in Sy huis hê?

Sou Hy sy kinders in private of in staatskole sit?

Sou Hy ook “tipies transformasie” geskreeu het elke keer as ’n swart speler die bal laat val in ’n Springbok-wedstryd, of sou Hy bly wees dat almal saam kan rugby speel?

Sou Hy op 16 Desember Geloftedag of Versoeningsdag gevier het?

Sou Hy verkies het dat sy dissipels Afrikaans is soos Hy of sou hy vir dissipels van ’n ander kultuurgroep ontvanklik wees?

Sou Jesus ’n lid van AfriForum of Solidariteit gewees het, en sou hy geglo het dat Liefde Wen?

Sou Jesus ingestem het om diensplig te doen of sou Hy oorsee gegaan en gevlug het van die dinge hier?

Sou Hy ’n trotse Voortrekker gewees het of sou Hy eerder by Gay Pride in Kaapstad wou uithang?

Sou Hy dalk ook baklei het vir Sy taal of onderdruk gevoel het soos baie van ons vandag?

En sou Hy steeds vir Suid-Afrika sterf nadat Hy gesien het hoe ons hier leef? Sal ons Sy genade verdien?

My punt is dat Christenskap net soos Afrikanerskap nie so eenvoudig is soos wat ons altyd dink nie. Dit is layered, dis deurmekaar, dis moeilik, maar dis mooi. Dis hoe dit moet wees vir ons om as mense en as land te groei. Kom ons hou aan vrae vra oor ons identiteit en geloof sodat ons as burgers van hierdie mooi land nader aan mekaar kan kom.

  • Bouwer Bosch (34) is 'n musikant en filmvervaardiger en is 'n gasskrywer vir Die Student. Hy het BA Kommunikasie aan die Noordwes-Universiteit studeer en kom ook oorspronklik van Potchefstroom af. Hy woon nou in Randburg. 
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg Die Student op Instagram!
Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.