Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Wat beteken dit om tuis te voel?
Michelle Smart
Michelle Smart

Ek kyk nie baie televisie nie. As ek kyk, is dit omdat ek geforseer word om Binnelanders (vir dié wat wonder: At lewe nog) saam met my ouma te kyk en om af en toe gholf saam met my pa te kyk, néé, slaap.

Maar in die gemiddelde uur ’n week wat ek televisie kyk, is ten minste 20 minute daarvan advertensies. En omdat ek aanneem die meerderheid van die bevolking wat ’n televisie besit, kyk baie meer televisie as ek, is daar ’n goeie kans dat hulle al die Sanlam-advertensie gesien het. Die een met die dogtertjie wat beweer dat die eerste mens wat 120 jaar oud sal word, reeds gebore is.

Omdat ek besig is om mense se lewensverwagtinge te bestudeer en om maniere te vind om uit te werk hoeveel sekere mense sekere tipes versekering behoort te hê, het hierdie advertensie ’n knoop in my gedagtes gemaak.

Ek het toe afgekom op ’n boek wat geskryf is oor die oudste mense op aarde. Hulle is meer as ’n honderd jaar oud, maar is steeds aktief en gesond. Hierdie mense word op vyf of ses plekke op die aarde gevind, bekend as die blou sones.

Navorsers het agtergekom dat die redes vir hul lang lewe nie noodwendig die dinge is wat ons eerste aan sou dink nie

Navorsers het agtergekom dat die redes vir hul lang lewe nie noodwendig die dinge is wat ons eerste aan sou dink nie: soos reg eet, baie rus, min stres, medikasie en meditasie nie, maar eerder omdat hulle baie gelukkig is in hul omgewing. Hulle voel veilig en tuis, omring hulself met die regte mense en is geesdriftig oor een of ander tydverdryf of aktiwiteit.

Die blou sones

Ek self wil geensins só oud word nie. Ek het geen begeerte om in my laaste jare die meeste van my maaltye in ’n vloeistofvorm in te neem nie. ’n Braaibroodjie-smoothie klink nie baie aangenaam nie.

Maar ek wil graag my lewende bestaan met gehalte deurbring en wil myself met goeie oordeel deur hierdie doolhof stuur.

Ek self wil geensins só oud word nie.

Ek het al te veel in my kort lewe verhuis en het nog nooit vir langer as drie jaar in een huis gebly nie. Sodra ek tuis begin voel, staan daar reeds ’n verkoopbordjie in ons voortuin en drie gesinne het al ’n aanbod gemaak.

Ek het ook gister opgemerk hoe herfsblare in hope in die tuin lê en dat al die bome halfkaal staan en wag vir die volgende grys halfjaar. Dus is ek vreeslik melankolies en bly dink ek aan dié in die blou sones. Die feit dat hulle tuis voel.

Wat beteken dit om tuis te voel? Beteken dit jy is op jou gelukkigste? Hoe weet jy jy is op jou gelukkigste, en sal ek ooit iewers tuis voel?

LEES MEER: Moenie 'n backseat driver wees nie...

Ek bly in ’n baie mooi omgewing en met baie veiligheidspersoneel, geëlektrifiseerde heinings, en twee bulterriërs in die huis voel ek altyd veilig. Maar om by enige snelweg uit te kom moet jy ’n paar kilometer aflê op ’n afgryslike nou paadjie wat in die vroeë 1900’s laas geteer is. En omdat Hartebeespoort ’n groot toeriste-aantreklikheid is, is dié paadjie bekend vir niks anders as konstante en aanhoudende verkeer nie.

Elke middag as ek vasgevang sit agter nog ’n BMW met ’n GP-nommerplaat, sien ek dieselfde toneel. Langs die pad stap ’n ouerige egpaar vinnig met swaaiende arms. Die vrou is kort en weelderig om die heupe en gee ’n duisend klein treetjies vir elke tree wat haar lang man, met knieë wat lyk asof dit in enige rigting kan knak, gee. Elkeen het ’n knopkierie en sleep ’n vet Jack Russell wurg-wurg agterna.

Ek droom van ’n klein Griekse dorpie

Ek sou dink as jy in jou goue jare is en tyd het vir ’n daaglikse wandeling het, sou dit op ’n spierwit strand wees, of in ’n groen vallei. Hoekom sou hierdie paartjie kies om hul middagstappie langs die aakligste straat in die noorde van die land te neem? Voel hulle tuis? Is dit hoe hulle die lewe vier? Die kroon op hul lewe se prestasie plaas?

Ongelukkig kom ek nie uit ’n koninklike familie wat elke jaar terugkeer na dieselfde landgoed nie, ek lewe in ’n land wat vir my laat voel of ek nie meer hier welkom is nie, en snags droom ek van ’n klein dorpie in Griekeland.

Ek hou baie van my woning, maar ek weet dat ek binnekort weer die pad gaan vat.

Ek hou baie van my woning, maar ek weet dat ek binnekort weer die pad gaan vat. Dalk sal ek hierdie keer soek na ’n ou boom, ouer as 300 jaar, een met wortels so diep dat hy bly staan deur oorloë en storms. Een waaronder ek kan tuis voel.

’n Tannie in my ouma se ouetehuis het eendag vir my gesê: “Ek weet nie hoekom almal so tekere gaan nie, dis nie ons land nie, dis niemand se land nie, dis die Here s’n. Ons is net hier neergesit. Skep nog poeding.”

En ek’s doodseker sy voel tuis.

  • Michelle Smart (21) studeer BSc Aktuariële en Finansiële Wiskunde aan die Universiteit van Pretoria. Sy bly in Hartbeespoort.
  • Menings is rubriekskrywers se eie en weerspieël nie noodwendig dié van Netwerk24 nie.
  • Wonder jy waaroor studente praat? Lees meer meningstukke hier.
  • Wil jy Die Student se WhatsApp nuusbrief ontvang? Klik hier om in te teken.
  • Volg ons op Instagram!

IS JY 'N STUDENT? KLIK HIER OM OP NETWERK24 IN TE TEKEN!

Studente aanbod

Meer oor:  Menings  |  Die Student  |  Studente
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.