Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Die Student
Wie oordeel uiteindelik die regter?
Almero Welgemoed

Tydens ’n reis van New York na Suid-Afrika publiseer ’n 30-jarige vrou ’n satiriese en sarkastiese opmerking oor vigs op Twitter net voordat sy die laaste deel van haar reis aanpak.

Sy was die hoof van korporatiewe kommunikasie by ’n groot maatskappy en het 170 Twitter-volgelinge gehad.

Die vlug het 11 ure lank geduur. Net nadat sy in Kaapstad geland het, skakel sy haar foon aan en word verwelkom met boodskappe van familie en vriende wat vra of sy weet wat besig is om met haar te gebeur.

Terwyl sy in die lug was, het iemand haar grappie hertwiet aan sy of haar 15 000 volgelinge. Die grappie het soos ’n veldbrand versprei. Duisende mense was woedend oor die onvanpaste grap en het dit vir hul volgelinge aangestuur.

Minwetend, verloor sy haar werk, word sy internasionaal verneder en word ’n hutswoord oor haar ondergang die gewildste hutswoord op Twitter.

Haar vlugnommer word opgespoor en die tyd wat sy land word deur almal op sosiale media verkondig. Iemand wag haar by die Kaapstadse lughawe in en neem foto’s van haar toe sy by die aankomssaal instap.

Sy word met die dood gedreig. Iemand twiet dat hulle hoop sy word verkrag en kry vigs.

In Desember 2013 is haar naam meer as ’n miljoen keer gegoogle.

Haar lewe is in 11 ure verwoes – sonder dat sy eens bewus was van wat aan die gang is.

***

’n 32-jarige vrou van Amerika plaas ’n grappige foto op haar Facebook-profiel as ’n grappie tussen haar en haar vriende. Die foto word vier weke later uit konteks gesien en iemand plaas dit op hul profiel. Dit versprei binne ure tussen vreemdelinge. Gou is sy afgedank en nuusfotograwe kampeer buite haar voordeur.

Sy het gewerk by ’n program vir leergestremde volwassenes. Iemand op Facebook stel voor sy woon die program as ’n pasiënt by.

Sy bly byna twee jaar lank net in haar huis. Sy sukkel om te slaap en ly aan depressie. Sy kry doodsdreigemente en in van die boodskappe dreig mense om haar te verkrag.

***

’n Amerikaanse sportster skud die wêreld wanneer hy tydens die Amerikaanse volkslied gaan kniel uit protes teen polisiegeweld. Dit volg ná die dood van verskeie swart Amerikaners aan die hand van die polisie.

Pres. Donald Trump gebruik Twitter om uitlatings daaroor te maak.

Kort daarna verskyn dié sportman op ’n advertensie vir ’n bekende sporthandelsnaam. Die handelsnaam en maatskappy se aandele val met 3%. Video’s van mense wat hul produkte van dié handelsmerk aan die brand steek, verskyn op sosiale media.

***

24 Augustus 2018. ’n Tweejarige meisie word deur ’n buurman se honde doodgebyt. Die gemeenskap is geskok. Die artikel veroorsaak ’n debat op verskeie sosialemediaplatforms. Die ouers word uitmekaargeruk in kommentaar op dié artikel.

***

’n Negejarige seun neem sy eie lewe. Mense bespiegel oor sy huislike omstandighede en kommentaar strek van oordeel tot ernstige aantygings.

Een van die mense wat kommentaar lewer, val die familielede se menswees aan. Op haar persoonlike Facebook-profiel is ’n foto wat onlangs geplaas is. Dit lees “Before you say something, stop and think how you’d feel if someone said it to you.”

Dis niks nuuts

Openbare vernedering is niks nuuts in ons samelewing nie. In die 1700’s en 1800’s (en selfs vroeër) is dit gesien as ’n toepaslike vonnis om iemand in die middel van die stad vas te bind en te straf as die persoon iets onwettigs gedoen het of ontrou was.

Deesdae is openbare vernedering makliker as ooit. Sosiale media maak die proses van veroordeling toeganklik vir enigiemand met ’n foon en internetverbinding. Ons almal is nou regters in die gemak van ons bed of sitkamer.

Openbare vernedering is niks nuuts in ons samelewing nie.

Tog word ons nie net deur die openbare vernedering in die gesig gestaar nie. Dit ontaard in iets meer as net oordeel. Dit is nou ’n vorm van straf.

Pleks dat ons net ’n oordeel uitspreek oor die persoon wat as skuldige aangewys is, kan ons nou ook die straf uitdeel.

Die slagoffers van kubervernedering wat hier bo beskryf is, is nie net verneder of veroordeel nie, maar ook gedreig.

Hul menswees is aangeval.

Die gevaar het nie daar opgehou nie. Hul veiligheid was ook in die gedrang.

Dit laat my met ’n vraag oor die demokratisering van geregtigheid. Is ons opgewasse om die regstelsel in eie hande te neem? Is ons objektief genoeg om ’n regverdige vonnis op te lê?

Of is ons gemaklik daarmee om in ons anonimiteit te oordeel?

Ons word regters met persoonlike vendettas

Is dit vir ons eties en moreel aanvaarbaar om mense se foute (of menings wat verskil van ons s’n) uit te lig in die publiek, hulle te verneder en te boelie? En as ons dan so haatlik en aggressief reageer en ook straf, is ons dan nie skuldiger as die een wat gevonnis word nie?

Maar is dit aanvaarbaar om te dreig om iemand dood te maak en te verkrag net omdat hulle ’n onvanpaste grap gemaak het

Ek vra nie of dit aanvaarbaar is om diplomaties en met respek van iemand se mening of gedrag te verskil nie.

Maar is dit aanvaarbaar om te dreig om iemand dood te maak en te verkrag net omdat hulle ’n onvanpaste grap gemaak het?

Is dit aanvaarbaar om iemand skade toe te wens as ons verskil van hul mening?

Wie is dan werklik die een wat skuldig is?

En wie gaan die regter oordeel?

  • Almero Welgemoed (21) studeer sielkundige berading aan Unisa. Hy kom van Bloemfontein af en is ook heeltyds 'n musikant en skrywer.
Meer oor:  Die Student  |  Studente  |  Mening
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.